Vra vir Faffa

Blou-uier in melkbokke

Vraag

Een van my melkbokke het simptome van mastitis getoon. Uit die melkmonster wat weggestuur is, is Pseudomonas geïsoleer. Sou die bakterie al lank teenwoordig wees? En sou dit my kaas beïnvloed? Sal dit pasteurisering oorleef?

Antwoord

Mastitis melkbokke

Mastitis, of Blou-uier in bokke [en skape] word algemeen deur die Pasteurella, Mannheimia, Histophilus groep bakterieë, asook Staphylococcus veroorsaak.

Ander bakteriee, soos in hierdie geval, kan ook by mastitis betrokke wees.

Pseudomonas aeruginosa hoort aan ‘n groot groep omgewingsbakteriee, wat as opportuniste kan optree. Opportuniste is bakterieë wat in die omgewing gevind word, en slegs besmettings veroorsaak as daar reeds skade aan die betrokke liggaamsdeel plaasgevind het.

In die geval van melkbokke, kan speenletsels d.m.v. dorings, bosluise, melkmasjiene of growwe hanteering tydens melk, ens. voorkom.

Hoë produserende ooie mag ook skade ly aan die spiertjies wat die speenkanaaltjie tussen uitmelkings toehou. Sulke diere word herken aan melk wat uitdrup, wanneer die uier vol is.

Pseudomonas aeruginosa kom algemeen in onbehandelde water en die omgewing voor. Hulle kan dan deur die beskadigde speenpunt die uier binnedring.

Enige ander omgewingsbakterieë kan dieselfde besmettingspad volg, maar Pseudomonas kom meer algemeen voor. Pseudomonas is van nature bestand teen baie antibiotikas, en wanneer gewone antibiotikas aan aangetasde bokooie toegedien word, sal Pseudomonas dit kan oorleef. Pseudomonas aeruginosa het ook ‘n ander eienskap – dit kan ‘n vorm van oorwintering [hibernation] in weefsels ondergaan, wanneer toestande ongunstig is. Dit beteken dus dat indien ‘n effektiewe antibiotikum toegedien word, en die omstandighede dus ongunstig vir die bakterium is, die Pseudomonas bakterium ‘n rusfase [slaapfase] ondergaan. Hulle vermenigvuldig dan weer wanneer die antibiotikumbehandeling voltooi is. Dit lei tot kroniese en herhalende mastitis.

Dit is dus aangewese om sulke besmette ooie uit te skot, omdat behandeling selde suksesvol is. Besmette diere dien ook as ‘n bron vir nuwe infeksies.

In hierdie geval is daar ook nie eintlik ‘n behandeling nie. Die twee antibiotikas wat aangedui is, kom in binneuier behandelings voor, maar bokke kan nie met binneuier behandelings behandel word nie, want hulle het twee buisies wat van die speenkanaal na die uier lei, en dis nie moontlik om seker te wees, dat die behandeling genoegsaam deur albei buisies na die aangetaste dele van die uier sal gaan nie. Albei is te giftig om sistemies d.m.v. inspuiting toegedien te word.

Pseudomonas aeruginosa in water kan d.m.v. chlorineering beheer word.

Pasteurisasie vernietig Pseudomonas.

Pseudomonas bakterieëe is bekend vir die produksie van baie verskillende ensiemes, en sou die proteïeine in kaas kon afbreek indien dit teenwoordig was. Dit sou die kaas loperig laat word. Hulle ensieme is ook vir baie verskillende onwelriekende geure verantwoordelik. Pseudomonas aeruginosa produseer ‘n fluoriseerende groen blou kleur, wat ook opsigtelik sou wees, indien die kaas besmet geraak het.

Hierdie kenmerke sou u vinnig wys indien u kaas besmet is.

Geskryf deur: dr.Maryke Henton, Bakterioloog, Vetdiagnostix (henton@vetdx.co.za)

20  Maart 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X