Vra vir Faffa

Beweging van perde tydens perdesiekte uitbreek

Vraag

Antwoorde oor die beweging van perde tydens ‘n perdesiekte uitbreek

Antwoord

Ek lees die artikel:

Toename in perdesiekte wek kommer (hulp.landbou.com)

 

Hoe gaan ‘n beperking op die vervoer van perde die siekte “beperk” ?

 

APS (Afrikaperdesiekte) word wel deur muggies oorgedra maar die eintlike bron van die virus is besmette perde, donkies, muile of sebras. Die muggies kan die virus vir net ongeveer 3-5 weke maksimum verprei en daarna gaan hulle dood. Dus moet elke nuwe generasie van muggies ‘n bloedmaal van ‘n besmette perd neem, voordat die siekte weer deur hulle oorgedra kan word. Die Wes-Kaap is histories vry van APS en die enigste rede waarom ons hier uitbreke kry, is omdat iemand ‘n besmette perd in die omgewing inbring. Die besmette perd word deur die lokale muggies gebyt en na ‘n week kan hulle die siekte weer oordra aan ander nabygeleë perde. Die muggies kom oor die hele Suid-Afrka en feitlik die hele wêreld voor. Om dus die siekte te probeer beperk tot ‘n area moet ons die beweging van besmette perde of sebras uit APS areas verhoed, sodat hulle nie die siekte na nuwe areas versprei nie.

 

Soos ek verstaan word perdesiekte en bloutong deur muggies versprei. Die muggies gaan hulle mos nie laat beperk waar hulle gaan nie?

 

Die muggie is van die  Culicoides spp. en hulle kan redelik ver saam met die wind verprei word (30 km ?) maar as ‘n reël is daar ‘n groter risiko betrokke aan perdebeweging omdat hulle oor honderde kilometers vervoer word bv. vanaf Kyalami of Durban waar daar APS gevalle is na Stellenbosch wat totaal en altyd vry is van APS.

 

Hier in die Noordwes het ek nou die eerste keer bloutong onder my skape gehad en ons het hier maar so ongeveer 300 mm reën gehad die jaar.

Die vleie op my plaas is droog so die mugggies moes van die natter noordoos Vrystaat hierheen oorbeweeg het.

Iemand het dalk besmette skape in jou area ingebring vanaf die Vrystaat wat weer die muggies besmet het.

 

Orals lees mens dat die siektes deur muggies versprei word. Is dit een tipe muggie of is daar ‘n paar tipes wat die virus versprei ?

Daar is ‘n paar verskillende spesies van Culicoides wat die virusse versprei en van hulle teel in beesmis dus het hulle eintlik min vog nodig om ‘n risiko te skep vir die verspreiding van siektes soos bloutong en APS. Hulle verkies net vogtige plekke soos vleie of langs riviere en nie water om in te teel nie. Die belangrikste faktor wat hulle voortplanting beperk, is koue (soos 3 dae aaneenlopende nagte van ryp)  en ook hoe die landskap geleë is. Hulle kom ook nie maklik binnenshuis nie.

 

Word die vervoer van perde beperk omdat die siekte aansteeklik is van een perd/skaap na ‘n ander of is dit om te verhoed dat die diere in besmette gebiede ingaan?

 

Die siekte is nie aansteeklik van een dier na die ander nie. Die muggie moet eers ‘n besmette dier byt en na ‘n week kan hulle die virus afskei as hulle die volgende dier byt en ‘n bloedmaal neem. Die  kern van die beheer is dus om te verhoed dat besmette diere na skoon areas beweeg waar hulle die lokale muggies kan besmet en dus die siekte versprei.

 

As die EU ‘n verbod geplaas het, neem ek aan die siekte(s) is oordraagbaar.

 

Die siektes kan net deur siek of besmette diere wat in die inkubasietyperk van die siekte is in ‘n area ingebring word. Dit is dus die rede waarom ons perde in insekvrye kwarantyn sit vir 40 dae  (hulle word dan ook vir APS getoets) voordat hulle na die EU uitgevoer kan word.

 

Geskryf deur: Dr. Gary Bührmann, Hoof Staatsveearts, Boland (GaryB@elsenburg.com)

12 April 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X