Vra vir Faffa

Bestuur van melkbokke

Vraag

Donald Mouton was die bestuurder van die melkbokkudde by Fairview in die Kaap en ek het hom die volgende praktiese vrae gevra.

Antwoord

Hoe droog jy melkbokke op?

Begin so 2-3  weke voordat jy die ooi/ooie wil opdroog om die energie en proteїen in die voer te verlaag. As jy bv. lusern gee, neem dit weg en vervang dit met strooi- of grashooi  (hoë vesel, lae energie).  Moenie minder voer gee of water wegneem nie. Die ideaal is om die ooi na  2 -3 weke  net op te hou melk!   Sou sy nog elke tweede dag  of ‘n paar keer gemelk word, stimuleer jy nog steeds die afskeiding van oksitosien wat verantwoordelik is vir die afskeiding van melk. Ek het al gevind dat daar bokke is wie se melk nog steeds baie bly en moes ek maar so nou en dan verligting aan die uier gee. Mens moet maar net seker maak dat sy nie mastitis ontwikkel nie.

Hoe lank is ‘n laktasie?

Die gemiddelde laktasie van melkbokke is tussen 250 – 300 dae. Melkbokke, veral suiwer melkbokke van Europese afkoms se oestrussiklus  is seisoenaal en  gekoppel aan dagliglengte. Hoe langer die nagte, hoe meer melatonien word afgeskei  wat die sneller vir oestrus is. Tydens die somermaande is daar geen seksuele aktiwiteit onder beide ramme en ooie nie.

In Suid – Afrika (Suidelike Halfrond) begin ons melkbokke gewoonlik laat herfs,  vroeë winter sodra die nagte lank begin word, seksueel aktief raak,. Tradisioneel sal die ooie dan gedek word en lammers word 5 maande later, gewoonlik Junie , Julie, Augustus gebore.

Tradisioneel word die ooie 2 maande voor hulle gaan lam, opgedroog, sodat die ooi liggaamskondisie kan herwin en die uier kan herstel en rus. Die seisoenaliteit van die melkbokke, het die gevolg dat baie klein kuddes vir ‘n periode van 2 maande plus sonder ‘n inkomste is.  Bokke het egter die vermoë om lang laktasies te gee. Hulle kan periodes van 600- 1200 dae  gemelk word sonder dat hulle weer gedek word. Dit het die voordeel dat ooie wat oorslaan in  melk bly en jy ‘n inkomste het. In Nederland en Frankryk word tot 25% van melkkuddes op lang laktasie gehou.

 

Hoe voorkom jy mastitis, hoe behandel jy die ooi?

Voorkoming is die beste beheer van mastitis.

  1. Dit begin met skoon behuising. Skoon beddegoed beteken skoon spene en uiers.
  2. Die stal moet altyd baie  skoon wees
  3. Jou melkers moet goed opgelei en skoon wees. Ek beveel aan dat hulle  oorpakke of oorjasse en waterskoene, wat net vir die doel gebruik word, in die stal dra.
  4. Maak seker dat hulle hulle hande was voor hulle aan die bokke se spene raak. Onthou die bakterie Staphylococcus aureus, wat mastitis kan veroorsaak, kom op die mens se vel voor en veral in die neus. Dit kan dus maklik van ‘n mens na die bok se uier oorgedra word.
  5. Daar moet ‘n goeie melkregime wees:
  • Die melker moet met sy hande die uier  palpeer, voel of die uier warm is – een helfte is dalk warmer as die ander – en dadelik rapporteer. Voel of daar sere of  knoppe is, voel of die punt van die speen gesond is,  met die proses word die ooi ook sommer gestimuleer om oksitosien af te skei  – melk word vrygestel.
  • Sorg dat die spene skoon is, was indien nodig, gebruik ‘n effektiewe voor- melk- speendoop.
  • Toets met elke melking vir mastitis met ‘n “strip cup”: ‘n bekertjie met ‘n soliede swart oppervlakte, spuit so 2 trekke melk op die oppervlakte, as daar stukkies of  klontjies melk is, weet jy dat daar mastitis is.
  • Wees versigtig vir oor melking. Dit is wanneer die uier of die een  helfte van die uier leeg is en die masjien aanhou met suig. Dit kan die speenopening  beskadig.
  • As die ooi klaar gemelk is,  doop  die spene in  ‘n speendoop. Dit seël die opening en hou die speen sag en soepel.
  • Maak seker dat jou melkmasjien skoon is. Sorg dat die  vakuumpomp se vakuum reg is en dat die masjien gereeld gediens word en die speenhulse vervang word.

 

  1. As ‘n ooi positief toets vir mastitis, moet haar nie met die masjien melk nie.Ek beveel aan dat jy die ooi merk, die helfte wat mastitis het merk en dat jy haar, nadat jy  jou gesonde ooie gemelk het, eenkant gaan melk. Stuur van die mastitismelk  na ‘n laboratorium vir ontleding sodat vasgestel kan word watter kiem die mastitis veroorsaak het en die ooi met die regte antibiotika behandel kan word. Indien jy nie so bevoorreg is nie,  behandel dadelik die ooi met ‘n binne –uier antibiotika in konsultasie met jou veearts.

Hou die ooi eenkant (kwarantyn), weg van jou gesonde  melkooie. Hou by die onttrekkingsperiode soos aanbeveel deur die vervaardiger van die produk. Daar is gevind dat hierdie periode by bokke soms langer is as by beeste.

Hoe word vir mastitis getoets?

Toets met elke melking met die “strip cup”.

Word somatiese seltellings gedoen?

Ons doen somatise seltellings. Melkbokke se somatise seltelling is egter baie hoër as die van koeie. Ons het egter gevind dat dit nie ‘n goeie indikasie van mastitis is nie.  Die afskeiding van melk by ‘n melkbok  (apokriene afskeiding) skei epiteel- en sitoplasmaselle saam met die melk af teenoor merokriene afskeiding in koeie waar net melk  afgeskei word. As ‘n ooi konstant ‘n hoë somatiese telling het, stuur haar melk na ‘n laboratorium vir ontleding. Dit mag wees dat sy subkliniese mastitis het.

Vir meer Inligting oor melkbokbestuur besoek:

http://www.milkgoats.co.za

http://www.milkgoats.co.za/articles.asp

Geskryf deur: Donald Mouton, was vir 16 jaar bestuurder van melkbokke by Fairview, boer nou net wingerde. (donald@fairview.co.za)

Gaan kyk ook by: www.landbou.com

Klik op Indeks van antwoorde

Klik op Skape en bokke

Klik op die verskillende opskrifte

Klik op Siektes

Klik op Voeding

Klik op Melkbokke

29 Desember 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X