Vra vir Faffa

Afkeurings van skape weens nat karkasse by slagplaas

Vraag

‘n Besending skape is afgekeur weens nat karkasse. Wat is moontlike oorsake?

Antwoord

Dikwels word groot finansiële verliese gely wanneer ‘n groot persentasie van gesonde skape se karkasse  afgekeur word weens nat karkasse.

Ons sien dit meestal in Dorperkarkasse wat van die Kalahari afkomstig is. Sommige plase het brakwater, sommige met Brakslaai (Mesembryanthemum) en Sout Ganna. Dikwels is daar ook ‘n geskiedenis dat skape bymekaar gemaak is ‘n dag voor slagting en gekraal word oornag sonder dat water beskikbaar is. Die volgende dag is skape op ‘n vragmotor gelaai en na die slagpale vervoer en afgelaai in kampies waar baie drinkwater beskikbaar is.

Daar is ook wel gevalle waar nat karkasse gevind is waar die geskiedenis nie dieselfde is as wat hierbo beskryf is nie.

Geskryf deur Dr. Andries Fourie, Upington Veterinêre Kliniek

Die grootste faktor wat tot nat karkasse by die slagplaas bydra, is dat boere, slagplaaseienaars of selfs lewende hawe agente soms nie gewillig is om te wag vir die aanbevole (verpligte) rusperiode vir skape voor slagting nie.  Bg. persone plaas dus druk op die vleisinspekteur / veearts vir dieselfde dag slagting, somtyds selfs so gou as ‘n uur nadat skape afgelaai is, m.a.w. absoluut die regte tyd vir die natste karkasse om voor te kom (d.w.s. direk nadat diere groot volumes water gesuip het).

Hierdie selfde dag slagting spruit vanaf die idee dat gewigsverlies voor slagting, wat wel voorkom in praktyk, verminder kan word. Dit is egter ‘n baie slegte praktyk om te volg, veral wanneer skape uit ‘n area met ‘n geskiedenis van nat karkasse kom.

Ons sien gereeld erge gevalle van “nat karkassindroom” waar die slaglyn gestop moet word (bykans 100% afkeuring van karkasse). Die voorkoms verdwyn gewoonlik spontaan (geen nattigheid) indien slagting die volgende dag hervat word nadat skape gerus het.

‘n Praktiese voorstel vir die voorkoming van nat karkasse:

Indien die eerste paar karkasse op die slaglyn nat voorkom, staak slagting en probeer weer verder slag die volgende dag – dit is so eenvoudig soos dit! Ander toestande wat hand aan hand met nat karkassindroom voorkom, is: vroegtydige rigor mortis (nadoodse verstywing van die karkas wat taai vleis met ‘n kort rakleeftyd tot gevolg het), bloedspatting & onvolledige uitbloeiing. Veral van belang is bloedspatting waar groot verliese ook mag voorkom weens afkeurings.

Geskryf deur: Dr. Hein Nel (B.V.Sc)

Agentskap vir VoedselveiligheidWebtuiste: http://www.agencyforfoodsafety.co.za

29 Augustus 2018


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X