Regskenner

Wie moet die koste dra van ‘n keermuur?

Vraag

Ek het 'n baie ernstige kwessie met my buurman oor sy keermuur wat omgeval het. Ons woon nou slegs 3 jaar in die huis. Die keermuur is meer as 30 jaar gelede gebou, binne die grense van sy erf en sowat 1,8 m binne sy erf se grens - sonder ’n fondasie en met klippe van die omgewing. Die keermuur het omgeval en daarmee saam dan ook die draadheining wat bo-op die muur was. Hy beweer na meer as 30 jaar wat die muur staan, dat dit my skuld is dat die muur geval het en dat ons 50% aanspreeklik is vir die herbou van die nou herontwerpte gewapende beton keermuur wat hulle al reeds begin bou het. Vrae wat ek gevra het oor die ontwerp, kostes, planne en wie die werk gaan doen en inspekteer is tot vandag toe nie beantwoord nie. ’n Aantyging dat ons water gelei het deur ’n afvoerpyp is ongegrond. Die afdak typer af met ’n val van 200mm, weg van die muur, en laat water uit op die plaveisel wat wegloop na die laagste punt van die bure onderkant ons. Ons vra groot asb raad, ons het nie die kapitaal om so ’n hofsaak te beveg nie, wat nog te sê van hierdie dure muur wat opgerig word. Daar is ’n goedkoper opsie, net so effektief. Is ek verantwoordelik vir ’n keermuur in sy erf en/of vir die grensdraad bo-op?

Antwoord

Ten opsigte van munisipale eiendomme geld die reël dat ’n eienaar van ’n erf self vir die omheining van sy erf verantwoordelik is. Dit gebeur egter soms dat aangrensende eienaars met mekaar ooreenkom dat hul die koste sal deel van ’n gemeenskaplike heining tussen hulle twee erwe. Een eienaar is egter nie verplig om by te dra tot die koste van ’n heining wat sy buurman wil oprig nie. In hierdie geval waar die keermuur 1,8 m vanaf die grenslyn op die buurman se eiendom gebou word, rus daar geen verpligting op u om tot die koste vir die herbou van die muur by te dra nie. Dit gebeur soms dat ’n munisipaliteit van ’n eienaar vereis dat hy ’n keermuur op sy eiendom oprig, byvoorbeeld om te verhoed dat water in ’n verkeerde rigting vloei. Kostegewys het dit meestal niks met die aangrensende eienaar, in hierdie geval uself, uit te waai nie. U het geen verpligting teenoor u buurman wat betref die oprigting van die keermuur nie. Ook nie vir sy heining bo-op sy keermuur nie. U is daarop geregtig om self ’n heining op die grens van u erf op te rig, indien u sou wou. Die buurman kan in hierdie geval geen koste van u eis nie.

*Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X