Regskenner

Wat gebeur met die woonhuis na ‘n egskeiding?

Vraag

Ek en my voormalige eggenoot is 4 jaar gelede geskei maar die eiendom (huis) is op beide van ons se name. Ons het daardie tyd 'n skriftelike ooreenkoms aangegaan dat hy eers in die huis sal aanbly tot ons twee dogters uit die huis is. Albei het intussen uitgetrek en is self-onderhoudend. Ek betaal tans huur (R4 500) vir 'n 1 slaapkamer woonstel maar kry finansieel swaar. Hy betaal geen huur vir die gebruik van die huis nie en sy vriendin het intussen ook ingetrek. Daar is 'n tuinwoonstel aan die huis wat verhuur word. Wat is my regte? Kan ek hom dwing om huur te betaal, die huis te verkoop of om in te trek in die tuinwoonstel? Die kans dat hy my deel sal kan uitkoop is skraal.

Antwoord

Indien die huis steeds op beide van julle se name geregistreer is behoort die helfte van die huis aan u en is u die eienares van ’n halwe aandeel in die eiendom. Indien julle binne gemeenskap van goedere getroud was, behoort een halwe onverdeelde aandeel van die huis ook aan u. Die skriftelike ooreenkoms (“egskeidingsakte”) tussen julle gesluit tydens die egskeiding, bepaal gewoonlik wat met die eiendom sal gebeur – of dit word verkoop, of dit word aan een van die voormalige eggenote oorgedra wat dan die ander eggenoot uitbetaal of wat die reëling ook al mag behels. Feit van die saak is u is steeds ’n mede-eienaar.

Dit beteken, afhangend van wat die egskeidingsakte bepaal, dat u steeds mede-seggenskap oor die eiendom het. Dit beteken u kan terugtrek in die eiendom, omdat die helfte van die eiendom aan u behoort. Egskeidingsaktes bepaal meestal dat enige reëling ten gunste van ’n van ’n party (u voormalige man), verval indien hy ’n saamwoonooreenkoms met ’n derde party sluit en so ’n person by die eiendom intrek. Die rede is dat so ’n derde party nie by die eiendom kan intrek sonder u toestemming nie. U kan dus gerus u intrek in die eiendom neem. Alles hang egter af van wat in die egskeidingsakte ooreengekom is en ’n prokureur kan u slegs adviseer nadat die inhoud van die dokument bestudeer is. Indien u ’n veilige opsie wil uitoefen, moet u die egskeidingsakte aan ’n prokureur verskaf wat u volledig sal adviseer.

*Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X