Regskenner

Tameletjie met gedeelde eienaarskap op een erf

Vraag

My vrou is drie jaar gelede oorlede. Die boedel bereddering het 'n bedrag van R130.000 beloop, wat ek nie op daardie stadium gehad het nie. My huis met 'n woonstel op die erf sou verkoop word vir die uitstaande bedrag. My vriendin op daardie stadium het aangebied om haar huis te verkoop en die woonstel in my erf by my te koop vir die uitstaande boedel bedrag. Dit het toe so gebeur en 'n brief is by 'n prokureur geteken dat sy die woonstel koop om my uitstaande boedelgeld te betaal. Ons het vir 'n jaar en paar maande saam in die woonstel gebly terwyl die huis verhuur is. Alle erfbelasting en munisipale gelde is deur my op datum gehou. Ons wou erfverdeling doen en moes na die tyd uitvind die woonstel gedeelte se erf is te klein vir verdeling. Die hele perseel is dus steeds op my naam en ek is ook die titelhouer (klaar betaal). Ongelukkig het ons verhouding doodgeloop en nou wil my vriendin my dagvaar vir haar geld en al die verbeterings wat aangebring is aan die woonstel (R270 000). Ek het my testament destyds met die koop van die woonstel ook verander sodat sy R400 000 uit my boedel (pensiongeld) erf. Sy voel dat sy geen sekuriteit het nie en eis dat ek haar geld uitbetaal of die eiendom gesamentlik op ons albei se naam sit. Ek voel dat sy die woonstel gekoop het, dis haar eiendom en sou ek te sterwe kom erf sy dubbel die bedrag wat sy spandeer het. Enige raad wat my of ons te doen staan sal waardeer word.

Antwoord

Dit is inderdaad so dat u vriendin oor geen sekuriteit vir die bedrag wat sy betaal het, beskik nie. Dit is derhalwe nie onredelik van haar om te verwag dat die bedrag; of aan haar terugbetaal word; of dat sy as mede-eienaar geregistreer word.

U het een van twee keuses:

  • U kan ‘n verband oor die eiendom vir  R270 000.00 ten gunste van haar registreer;
  • Of u kan ‘n aandeel in die eiendom (teen ‘n waarde van  die bedrag geleen) in haar naam registreer.

U standpunt dat sy die woonstel by u gekoop het en dat dit haar eiendom is, is nie korrek nie. Die woonstel was nie ‘n vrystaande eiendom met sy eie kaart en transport-akte nie en was dus nie vatbaar vir registrasie in haar naam  nie. Die woonstel was inderdaad nog deel van die hoofeiendom en op dieselfde erf geleë.

Sy het tegnies dus nie ‘n eiendom gekoop nie, maar wel die geld aan u geleen. U standpunt dat sy met u dood  R400 000.00 uit u testament sal erf, bied ook geen sekuriteit aan haar nie en sy is steeds geregtig daarop om die geld op hierdie stadium van u terug te eis.

Opsommend  beskik u tans oor die die twee opsies hierbo. U kan hierdie  twee opsies met haar bespreek, wat die nodige sekuriteit aan haar sal bied. ‘n Derde opsie sou uiteraand wees dat u die R270 000.00 nou aan haar terug betaal. Daarvoor sou u ‘n banklening kon aangaan. Dit sal die moeite werd wees indien u hierdie reëlings met haar uitsorteer met behulp van ‘n prokureur wat spesialiseer in eiendomsreg.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X