Regskenner

Serwituut: Steeds 30 jaar?

Vraag

Is dit nog steeds 30 jaar voordat bv. ‘n reg van weg ‘n serwituut word, of het die tydperk verkort? Watervoorsiening aan my grond, waarvan ek 25 jaar gelede eienaar geword het, was altyd d.m.v. ‘n grondsloot grotendeels oor die buurman se grond. Die waterbron is gedeel. Ná ‘n droogte (23 jaar gelede) het ek toestemming van die buurman verkry om ‘n pyplyn oor sy grond te lê. Aangesien toegang tot die bron en daardie deel van die sloot al die jare nog d.m.v. buurman se eie toegangshek was, het hy voorgestel dat ek terselfdertyd ‘n dienspad langs die pyplyn maak en ‘n nuwe hek in die grenslyn aanbring. Die pad is natuurlik verleng tot by my huis, maar kruis in die proses ‘n deurpad vanaf die dorp na verskeie ander plase verder aan. Hy wou ook hê dat ek ‘n nuwe grondsloot langs die pyplyn maak (vir vloedwater) sodat hy die ou sloot kan gebruik soos dit hom pas. So gedoen. Wanneer vloedwater in seldsame gevalle toegang tot sy dam en beurtkraan versper het, het hy van my ‘nuwe’ dienspad gebruik gemaak. Sedertdien het hy die eiendom verkoop. Ons het met toestemming van die nuwe eienaar begin met die voorbereiding vir ‘n serwituutregistrasie van die pyplyn, pad en sloot. Voor registrasie verkoop hy die eiendom. Die huidige eienaar sê hy sal registrasie slegs toelaat indien ons ons toegangspad tot by die grenslyn ook laat registreer as ‘n serwituutpad. Ek het ook reeds, nog voordat hy eienaar geword het, met boerdery-ontwikkeling aangrensend aan die toegangspad begin. Hy het egter vrede daarmee. Dus bly alles maar soos dit is. Is die enigste opsie om te wag totdat 30 jaar verloop het?

Antwoord

Die termyn vir verkrygende verjaring is steeds 30 jaar. Sonder ‘n ooreenkoms tussen die partye kan die serwituut nie voor die verstryking daarvan geregistreer word nie. Die serwituut kan steeds gebruik word.

Geskryf deur Butch van Blerk, butch@billtolken.co.za

19 Oktober 2011


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X