Regskenner

Regte op ‘n serwituut-pad

Vraag

Ons het in November 2006 ‘n 47 ha plasie gekoop in Mpumulanga. Toegang tot ons plaas is by wyse van ’n serwituut-pad wat verby en deur ons buurman se plaas is. Die pad is reeds meer as 30 jaar in gebruik en die inligting het ons verkry deur Terra Plan wat lugfoto’s aangevra het vanaf Kaapstad om die feit te staaf. Ons het die plaas omskep in ’n vakansie-oord met akkommodasie en het hom laat hersoneer as “commercial/agricultural”. Die eerste hersonering is reeds goedgekeur en daar was geen vertoë gerig vanaf die buurman in daardie stadium nie. Ons het toe nóg eenhede by gebou en gevolglik moes ons her-hersoneer (die proses is so te sê voltooi) waarop die buurman nou vertoë gerig het. Hy het intussen spoedheuwels in die pad gemaak en met die huidige breedte van die pad is dit geensins moontlik vir twee voertuie om verby mekaar te beweeg nie. Hy plaas groot rotse aan die een kant sodat die publiek nie eens van die pad kan aftrek om die ander kliënt te laat verbygaan nie en indien die rotse nie daar is nie span hy drade wat dit heeltemal onbegaanbaar maak. Hy plant wel van so aard dat dit tot teen die pad is en ons verstaan geheel en al dat hy sy lande probeer beskerm, maar iewers moet daar ’n streep getrek word om die pad begaanbaar te maak. Ons het nou al op ’n paar okkasies voorgestel dat ons asseblief die pad in stand wil hou aangesien hy onbegaanbaar raak vir ons kliënte (wat ook kontrakteurs van die nuwe Kusile kragstasieprojek ingsluit). Hy weier net volstrek dat dit plaasvind en dring daarop aan dat ons geensins enige reg het om iets aan die pad te doen om ons toegang te vergemaklik nie. Wat staan my te doen en mag ek, op aandrang van my kliente, die pad skraap en netjies en begaanbaar maak. Ons het dringend hulp nodig en sal dit hoog op prys stel indien u vir ons advies kan gee. Baie dankie vir die feit dat mens nog advies in Afrikaans kan ontvang.

Antwoord

As gebruiker van die serwituut het jy die reg, en is dit ook jou plig, om die serwituutpadpad in stand te hou. Solank jou optrede in hierdie verband redelik is, kan hy jou nie stop nie. Jy mag die pad skraap en netjies en in stand hou.

As julle te veel probleme met die gebruik van die pad ondervind, sal julle maar ‘n prokureur moet aanstel om ‘n hofbevel teen die verlener van die serwituut te bekom. Die alternatief mag wees om hom te vra vir ‘n alternatiewe roete/serwituut wat dalk vir hom minder van ‘n hindernis skep. Laat dit dan tog in die Aktekantoor registreer. Laat weet as jy verdere inligting benodig.

Geskryf deur Butch van Blerk van Bill Tolken Hendrikse Inc., Bellville. (butch@billtolken.co.za)

Lees ook: Regte by ‘n serwituut-pad

15 Junie 2011


Kommentaar

Kommentaar (2) “Regte op ‘n serwituut-pad

  1. Anton
    Anton

    Ek het n plaas in NW waar n pad duer loop na my bure. Dit is nie hulle servituut nie en is bloot n verginning gewees vir die vorige eienaars van die plaa. Die nuwe eienaars wil nou die pad gebruik vir besigheid en ek weier. Wat is my reg?

    • Jan Bezuidenhout

      Mnr. Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad, se antwoord is:

      ‘n Vergunning van ‘n reg van weg kan na gereelde en openlike gebruik vir ‘n tydperk van 30 jaar, ingevolge die Verjaringswet, ‘n serwituut ten gunste van die gebruiker se eiendom vestig. Het die vorige eienaars dit op só ‘n wyse gebruik vir 30 jaar of langer , het hul heel waarskynlik so ‘n serwituut ten gunste van hul eiendom gevestig waarna hul nie meer die gebruik van die pad ontsê kan word nie. Dit hang af of só ‘n serwituut wel gevestig het by wyse van verjaring en dit sal bepaal of u regmatig die gebruik van die reg van weg kan weier.

      Wweens die implikasies verbonde aan ‘n onregmatige weiering vir die gebruik van die pad, sal dit u loon om ‘n deskundige prokureur se advies te bekom, want dis moontlik dat die nuwe eienaars ‘n aansoek vir besitsversteuring teen u kan bring wat onwelkome finansiële gevolge vir u kan inhou – hierdie aangeleenthede is tegnies van aard en baie van hul draai in die Hooggeregshowe teen astronomiese koste – maak liewer seker en bekom ‘n deskundige se advies sodat u die regte roete kan volg.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X