Regskenner

Hoe werk aanwasbedeling by skei?

Vraag

Ek en my man is buite gemeenskap van goedere met aanwasbedeling getroud. Hy het ‘n woonstel en ‘n kar gehad en ek net ‘n kar voordat ons getroud is. Verstaan ek reg dat hy, as ons nou skei, met ‘n woonstel/meenthuis en ‘n kar sal uitstap en ek met ‘n kar? Ons besit drie eiendomme. Ons huis, meenthuis en woonstel by see saam sy broer. Hoe werk die verdeling? Hoe werk verdeling van pensioene, ens., en betaling van gelde aangaande kinders? Ek het vir 12 jaar nie gewerk nie om kinders net eers op skool reg te kry. Dogter nou op universiteit en seun nou gr9. Ek werk nou weer vir die laaste drie jaar.

Antwoord

Ten opsigte van die eiendom en mortorvoertuie, hang dit af of dit toe julle getroud is, by die beginwaardes van julle boedels ingesluit of uitgesluit  was. Was dit uitgesluit, is die posisie soos u nou aandui dat hy met ʼn eiendom en voertuig uitstap en u met ʼn motorvoertuig. Was die beginwaardes van julle boedels as NUL aangedui, beteken dit die bates het van dag een af deel van julle boedels gevorm en geskied die verdeling nou met die bates daarby ingesluit.

Verdeling by egskeiding of dood vind soos volg plaas :
‘n Eggenoot se aanwas word bereken deur die netto bate waarde van die boedel aan die einde van die huwelik te vat, en dan die netto bate waarde van sy of haar boedel aan die begin van die huwelik daarvan af te trek. Hier is ʼn voorbeeld:

As eggenoot A ‘n netto batewaarde van R10 000 aan die begin van die huwelik het (sy “begin waarde”) en ‘n netto batewaarde van R100 000 aan die einde van die huwelik het (sy “slotwaarde”), dan is die aanwas op sy boedel R90 000. As die begin waarde van eggenoot B R20 000 was en aan die einde R200 000, is eggenoot B se aanwas dus R180 000.

Netto aanwas word bereken deur die kleiner aanwas van die groter een af te trek – dus vir die boonste voorbeeld sal dit dan wees: R180 000 – R90 000 = R90 000. Volgens die Wet op Huweliksgoedere kan eggenoot A (met die kleinste aanwas) ‘n eis teen eggenoot B (met die groter aanwas) insit vir helfte van die netto aanwas (naamlik R45 000).

By huwelike ingevolge die aanwa-bedeling word eise ten opsigte van pensioenuitbetalings op dieselfde wyse bereken en by elkeen se netto batewaarde bygevoeg – sodat die formule hierbo ook daarop van toepassing vind.

Uself sou waarskynlik geregtig wees op rehabiliterende onderhou vir uself asook onderhoud vir die kinders wat nog nie selfversorgend is nie. Die bedrag van ʼn kind se onderhoud hang af van hoeveel maandeliks benodig word vir die onderhoud van daardie kind.

Die berekening van aanwas by die beëindiging van ‘n huwelik deur egskeiding of dood, is uiters ingewikkeld en u sal beslis van ʼn prokureur wat in die aangeleenthede spesialiseer, se dienste gebruik moet maak.

* Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad.

11 Augustus 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X