Regskenner

Hoe gemaak wanneer ‘n natuurreservaat nie hul heinings in stand hou nie?

Vraag

Die eienaar van die reservaat (Cape Nature) Namakwaland aangrensend aan my gee my kopsere! Hulle wil nie aanspreeklikheid aanvaar vir jakkalse en rooikatte wat van hul grond af deur kruip en my skape vang nie. Hulle is tans besig om 'n heining te vervang, maar die standaard van werk en optrede van die kontrakteur maak dit onmoontlik om te boer. Die nuwe heining is in 'n swakker toestand as die oue. Dis nie stewig nie, dit is nie met klip gepak nie en in sekere areas raak dit nie eens die grond nie (dit hang in die lug). Die plaaslike bestuur se verweer is dat hul skenkings gekry het en ons moet maar aanvaar dat dit lank sal neem en met moeite sal gedoen word. Rommel en die strooiing van veral plastiek sakke word net geïgnoreer. Daar is al vir etlike kilometers gedoen, maar nie eens ’n kilometer is op so 'n standaard dat ek vee in daardie betrokke kampe kan laat wei nie. Hoe gemaak?

Antwoord

Die Omheiningswet lê sekere verantwoordelike ten opsigte van die gemeenskaplike grensdraad aan die eienaars van aanliggende eiendomme op. Dit behels in hoofsaak dat aangrensende eienaars gelykop aanspreeklik is vir die koste van die oprigting en instandhouding van die gemeenskaplike grensdraad. Die grensdraad behoort van so n standaard te wees dat dit die diere (ook predatore) op n eienaar se grond binne die grense van sy grond inkeer en hou. As voorbeeld sal u verantwoordelikheid wees om toe te sien dat die grensdraad u skape, bokke, beeste ensovoorts op u  grond binnehou ten einde hulle te vehoed om uit te breek  en op die buurman se grond te beland. Voorts het u ook die verantwoordelikheid om toe te sien dat jakksle en rooikatte nie van u grond ontsnap en op n buurman se grond beland nie. Vir doeleindes van hierdie tipe klein predatore kom eienaars dikwels ooreen dat jakkalsheining opgerig word. Tradsioneel is klippe gepak om die heining verder te verdig. Deesdae word meestal van elektriese heining as ekstra beskermingsmaatreël gebruik gemaak.

Hierdie verpligting het natuurlik nie slegs op u betrekking nie. Indien die buurman diere, asook   predatore op sy grond teenwoordig het, geld dieselfde maatreëls vir hom. Dus het hy dieselfde verantwoordelik teenoor u as u teenoor hom. Daar bestaan ingevolge die Omheiningswet ‘n prosedure in terme waarvan hierdie wedersydse verpligtinge van julle teenoor mekaar, afgedwing kan word deur middel van n arbiter wat in terme van die wet aangestel word.

U meld dat u aangrensende eiendom ‘n reservaat van Cape Nature is. Meestal word predatore-beheer nie algemeen op natuurreservate toegepas nie. Dit kan tot gevolg hê dat u, soos vermoed word, mag ly weens predatore wat vanaf u buurman se grond na u grond migreer en vir aansienlike skade aan u kuddes verantwoordelik is. Vir daardie doel het Cape Nature ‘n beleidsdokument waarin beleid ten opsigte van omheining en die inkamping van wild en predatore uiteengesit word. In terme van die dokument se “polluter pay” beginsel, is die reservaat verplig om voorkomende maatreëls in te stel vir skade wat sy predatore (jakkalse en rooikatte) mag aanrig. Die reservaateienaar is verplig om die beginsel van “adequate fencing” toe te pas. “Adequte fencing” handel met die minimum spesifikasies van ’n heining om te verhoed dat diere (ook jakkalse en rooikatte) ontsnap en op u grond beland.  Die meeste van die spesifikasies in die beleidsdokument wat betrekking het op boksoorte, vlakvarke, bosvarke ens., vermeld jakkalsheining met 4  elektriese drade van 6000 volt sterkte om die diere binne te hou.  Dit kan aanvaar word dat hierdie maatreels ook op die heining tussen uself en die reservaat van toepassing sal wees.

Dit sal waarskynlik raadsaam wees dat u met Cape Nature kontak maak en vir ’n inspeksie vra sodat die heiningsaangeleentheid bespreek kan word. Die Omheiningswet verleen hierdie magtiging aan u.

Versuim deur u buurman kan tot substansiele verliese aan u kudde lei en tot siviele eise aanleiding gee.

*Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X