Regskenner

Hoe gemaak om ‘n openbare pad privaat verklaar te kry?

Vraag

Ons het 'n ondergeskikte pad wat deur ons plaas loop tot by die buurman agter ons se plaas. Hierdie pad is vir meer as 30 jaar nie gediens deur enige distriksmunisipaliteit nie. Slegs die buurman het van tyd tot tyd hierdie pad gebruik. Daar is niemand wat op sy plaas woonagtig is nie so die pad is selde deur hom gebruik. Die pad is deels so erg deur die jare verspoel dat slegs hoë 4x4 voertuie dit kan gebruik. Verjaar 'n ondergeskikte pad ook dat ons en die buurman hierdie pad kan aanvaar as private pad of moet ons dit laat hersoneer na ’n privaatpad sodat ons dit kan sluit? Ons probeer 'n roete volg waar ons die pad kan sluit sodat niemand wettig toegang daartoe het nie om diefstal en plaasveiligheid te verseker. Daar is nou iemand wat skielik toegang deur ons plaas wil verkry deur hierdie pad om vir eie finansiële gewin 'n sogenaamde ontspannings aktiwiteit aan te bied. In hierdie tyd is dit vir ons 'n moeilike situasie aangesien plaasveiligheid en diefstal 'n algemene probleem is in ons land. In ons omgewing is daar reeds talle sulke probleme. Wat staan ons en ons buurman te doen om ons te beskerm?

Antwoord

‘n Ondergeskikte pad is ’n publieke pad ingevolge die Paaie Ordonnansie van 1976, wat aan die publiek die reg verleen om dit te gebruik. ‘n Ondergeskikte pad kan ingevolge die prosedures voorgeskryf in die Ordonnansie gesluit word vir publieke toegang, en verander word tot ’n privaatpad. Die prosedure word deur die plaaslike owerheid (plaaslike munisipaliteit) hanteer wat aan alle belanghebbendes skriftelike kennis per geregistreerde pos moet gee van die voorneme dat die pad gesluit gaan word en dat belanghebbendes besware daarteen kan indien, sou dit van toepassing wees. Dit word deur die munisipaliteit geadverteer in plaaslike koerante, asook in die Staatskoerant. Na sluiting van die ondergeskikte pad en die verandering  daarvan tot ‘n privaatpad, word publieke toegang tot die pad beëindig. Daarna word die reg om die pad te gebruik, beperk tot diegene aan wie sodanige private gebruik verleen is met die sluiting van die pad. Dit is gewoonlik die grondeienaars oor wie se grond die pad loop. Hekke mag dan oor die pad aangebring word wat gesluit mag word om toegang te beheer.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X