Regskenner

Hoe gemaak met ’n verlore testament?

Vraag

My oupa is al 10 jaar oorlede en sy boedel is steeds nie afgehandel nie. Ek het onlangs uitgevind een eiendom wat op my ouma (wat al 26 jaar gelede oorlede is) se naam was het hy na haar dood nie op sy naam gesit nie. Hul dogter, my ma, huur aan my ’n deel van die eiendom in haar eie hoedanigheid. My vraag is: Wat is wettig of nie wettig nie en hoe kan ek ’n afskrif van my ouma se testament kry? Ek het een aangevra by die hooggeregshof maar dit het verdwyn. Daar was altyd ’n bakleiery tussen my ouma en oupa dat haar kinders niks van haar eiendom sal kry nie en dat dit tussen die kleinkinders verdeel moet word. Nou is my ouma se testement verlore en my ma eien haar eiendom. Waar staan ek as een van die kleinkinders?

Antwoord

Dit is van belang om te weet of u grootouers binne gemeenskap van goedere getroud was of nie. Indien hulle moontlik buite gemeenskap van goedere getroud was, het u ouma haar eie afsonderlike boedel gehad en dalk ook haar eie testament gehad. Sy sou dan haar bates, sonder enige betrokkenheid van u oupa, aan haar erfgename uiteengesit het en in haar testament bemaak het. Indien sy sonder ’n testament oorlede is, sou haar bates, indien sy buite gemeenskap van goedere getroud was, aan u oupa en moontlik ook ’n deel aan haar kinders vererf.

Indien sy binne gemeenskap van goedere met u oupa getroud was, sou daar net een gemeenskaplike boedel bestaan het, waarvan sy oor een halwe onverdeelde aandeel van die gemeenskaplike boedel beskik het, en u oupa oor die ander halwe onverdeelde aandeel. Indien sy ’n testament sou hê, sou sy waarskynlik haar onverdeelde aandeel in die eiendom aan u oupa bemaak het, wat tot gevolg sou hê dat die eksekuteur in haar boedel haar halwe onverdeelde aandeel aan u oupa sou moes oordra. Teen oordrag daarvan sou hy die eienaar van die hele eiendom word. In sy testament sou hy dan weer bepaal na welke erfgenaam die eiendom moet vererf.

U sal dus sien dat hier prosedures bestaan wat van toepassing is en gevolg moet word om die bates, in hierdie geval die eiendom, op die naam of name van die erfgename te registreer. U sal by die begin moet begin en die Meesterskantoor in die gebied waar sy gewoon het en die eiendom geleë is, moet besoek om vas te stel of haar boedel destyds by die Meester aangemeld was of nie. Met haar volle name en geboortedatum/identiteitsnommer en datum van dood, sal u by die Meesterskantoor kan vasstel of haar boedel aangemeld was.

Dit blyk dat die eiendom nie oorgedra is op die naam van u ma nie, gevolglik het sy moontlik geen seggenskap oor die eiendom nie.

In u hoedanigheid as kleinkind sal u eers weet waar u staan wanneer u die testamente, of dalk een testament, van beide u ouma en oupa onder oë gehad het om te sien wie die eiendom erf.

Die prosedures hier van toepassing is taamlik tegnies van aard en ingewikkeld en dit mag u loon om  ’n prokureur te raadpleeg om u met die proses te help om die inligting te bekom.

*Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X