Regskenner

Grenspen op plaas foutief: Hou nou?

Vraag

Mnr. Van Blerk, Ek lees graag U artikels en advies in Landbouweekblad en vind dit baie leersaam. Ek verlang asb. u advies. Ek het ongeveer 5 jaar terug ʼn plaas gekoop. Ek is in die proses om ʼn nuwe grensheining op te rig tussen my en my buurvrou. Die bestaande ou grensheining staan nie op die regte plek nie. Ek het ʼn landmeter laat kom om die grenspen te identifiseer en te bevestig, wat hy wel gedoen het. Die grenspen staan ongeveer 3 meter na binne toe na die kant van bure. Ek wil graag die nuwe heining op sy regte plek oprig met betrekking tot die pen. Is ek binne my regte om wel die nuwe heining so op te rig? Kom "verjaring" ens. ter sprake?

Antwoord

Dit is wys om die dienste van ‘n landmeter te bekom om die korrekte penne/grenslyn vas te stel wanneer ‘n grensheining opgerig word. Die rede is die een waarna u hier verwys, naamlik dat wanneer een buurman die aangrensende buurman se grond vir ʼn tydperk van 30 jaar of langer openlik benut , kan eersgenoemde hom op verkrygende verjaring beroep en as hy slaag, kan hy eienaarskap van die buurman se grond verkry. U meld dat julle grensheining 3 meter op die buurvrou se grond staan. Indien u kan bewys dat uself, asook die eienaars voor u, die 3 meter vir 30 jaar of langer openlik benut het, kan u nou eienaarskap van daardie 3 meter strook grond eis. Die gebruikmaking van die dienste van die landmeter verseker u ten minste dat die nuwe heining nie op die verkeerde plek opgerig word nie. U is inderdaad geregtig om die heining nou op te rig volgens die penne deur die landmeter aangedui, indien verkrygende verjaring as regsmiddel  van die buurvrou se 3 meter strook nie deur u beoog word nie.

* Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad.

15 Mei 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X