Regskenner

Boedel en lewensreg vir eggenote

Vraag

My pa en sy huidige vrou is vervreemd van mekaar vir die afgelope jaar. Sy het lewensreg volgens hom op die eiendom. Die eiendom is bemaak aan my, sy seun. Ons is woonagtig op die eiendom. Ons wil die eiendom op my naam sit. Het sy eneige aanspraak of reg? Hy wil skei van haar. Hulle is buite gemeenskap van goedere, sonder aanwasbedeling, getroud

Antwoord

Indien u vader en sy vrou buite gemeenskap van goed getroud is, het dit voor die troue die opstel en registrasie van ‘n Huweliksvoorwaarde Kontrak (HVK) behels. U vader kon destyds moontlik in die HVK reeds ʼn verblyfreg aan sy eggenoot verleen het, in welke geval sy daarop geregtig sal wees as hulle byvoorbeeld sou skei. U moet dus insae tot die inhoud van die HVK verkry om vas te stel of u vader wel aan sy vrou so ʼn verblyfreg verleen het. Indien daar geen sprake van ʼn verblyfreg is wat der middel van die HVK in die Aktekantoor geregistreer is nie, beskik die eggenote nie op hierdie stadium oor ʼn geregistreerde verblyfreg nie.

Indien u en u gesin nou reeds die eiendom bewoon, sal dit vir u die moeite loon om die aangeleentheid met u vader te bespreek om seker te maak dat hy nie gedurende die voorgenome  egskeiding, in ‘n skikkingsooreenkoms  só ‘n lewensreg aan haar oormaak nie, want dan sal dit in die egskeidingsbevel, wat in wese ʼn hofbevel is, vervat wees en sy wel daarna oor so ʼn lewensreg beskik.

U aangewese opsie is dus om nou reeds die aangeleentheid met u vader te bespreek en die dienste van ʼn prokureur bekom om julle regte te vestig. Indien die vervreemde eggenote nie tans die eiendom bewoon nie, en daar is geen gevestigde regte waaroor sy ingevolge die HVK beskik nie, sal dit glad nie ʼn moeilike aangeleentheid wees om tot u bevrediging op te los nie.

* Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad.

17 November 2016


Kommentaar

Kommentaar (3) “Boedel en lewensreg vir eggenote

  1. Hennie Vermaak
    Hennie Vermaak

    Lyk vir my hierdie is ‘n geval waar die seun wil erf voor sy pa dood is. Dit is jou pa se eiendom en kan hy daarmee maak wat hy wil. Erf is ‘n voorreg nie ‘n reg nie.

  2. Corlea Viljoen
    Corlea Viljoen

    Ek het ‘n vraag, my ma het lewensreg op die huis, maar die boedel het skuld, hul wil nou die huis verkoop om die skuld te delg. Wat word dan van haar? As hul die huis verkoop gaan sy nie veel kry nie. Help asb

    • Jan Bezuidenhout

      Mnr. Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad, skryf:

      Indien ʼn boedel skulde het om te delg en nie oor voldoende fondse daarvoor beskik nie, word bates verkoop om die eksekuteur in staat te stel om die skulde te betaal, In hierdie geval geval, waar u ma die vruggebruikster van die eiendom is, het sy ʼn beperkte saaklike reg oor die eiendom tesame met die erfgename wat oor die blote eiendomsreg beskik. Haar vruggebruik se waarde word bereken aan die hand van haar ouderdom en die waarde van die eiendom, welke waarde dan ingevolge ‘n formule bereken word.
      In geval van tekort aan fondse, kan die eiendom deur die eksekuteur van die boedel en haarself as vruggebruikster verkoop word om fondse te bekom om die skuld te betaal. Die res van die opbrengs van die verkoop van die eiendom, kan ingevolge ‘n ooreenkoms tussen haar en die erfgename verdeel word. Die eksekuteur sal haar en die erfgename behulpsaam wees om die fondse wat oorbly, te verdeel.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X