Onkruid

Wildedissel bedreig weiveld in Oos-Kaap

Vraag

Ongeveer 60% van ons grond in die Oos-Kaap het "Valley Bushveld"-veldtipe. Die oorblywende 40% is oorwegend grasveld. Die bossie kom meestal in die grasveld voor, met hier en daar 'n paar tussen die bosse waar die gras na die "Valley Bushveld"-bosse oorgaan. Daar was voorheen met boerbokke op die plaas geboer en die bossie het heeltemal oorgeneem daar waar die meeste beweiding plaasgevind het. Dit het egter nou ook verder versprei en is besig om basies die hele grasveld oor te neem. Die vorige eienaars beweer die bossie het saam met Springbokke wat aangekoop is op die plaas sy verskyning gemaak (so ongeveer 4 jaar gelede). Dit is 'n grys/silwer kleurige bossie met stekelrige blare. Die blare is aanvanklik sagter, maar so dra die bossie ouer raak en begin blom raak die blare harder en selfs meer stekelrig. Die bossie is kruidagtig en het geel saamgestelde blomme en 'n baie sterk penwortel stelsel.

Antwoord

Die plant in foto’s wat ontvang is, kan een van verskeie Berkheya-soorte wees, wat kollektief in volksmond as ‘wildedissel’ bekend staan. Daar is ongeveer 75 wildedissel spesies in suidelike en tropiese Afrika en 71 spesies in Suid-Afrika. (Sien foto’s deur dr. Charlie Reinhardt.)

Berkheya.Uitenhage2015-11-01-10-een

Meeste van hierdie soorte word in grasveld en rotsagtige areas aangetref. Berkheya-soorte wat onder andere in die Oos-Kaap voorkom is: B. rigida, B. speciosa, B. setifera, B. rhapontica, B. umbellata, B. onopordifolia en moontlik ander soorte.

Hierdie is ‘n klassieke voorbeeld van die probleem-afmetings wat sekere inheemse plantsoorte in natuurlike weiding kan aanneem weens selektiewe beweiding. Omdat wildedissels stekelrig word dit swak of glad nie bewei nie. Dit is nie bekend of dit wel in die saailingstadium bewei word nie aangesien die plant dan minder stekelrig is.

Waar wildedissel soorte in digte stande voorkom, m.a.w. waar dit veldverdigting veroorsaak, kan dit as aanduider van oorbeweiding beskou word. Oorbeweiding in hierdie konteks beskou, is die situasie wat ontstaan wanneer selektiewe beweiding sodanig seleksiedruk op die plantgemeenskap uitoefen dat getalle van die soorte wat nie bewei word nie, of swak bewei word, oor tyd toeneem ten koste van die gewenste (smaaklike, eetbare) soorte.

Australië het Berkheya rigida as uitheemse indringer vanaf Suid-Afrika gekry te wyte aan saad in ballas van skepe wat hout vervoer het. Daar is dit ‘n verklaarde onkruid wat volgens wet beheer moet word. Australiërs se algemene naam daarvoor is African thistle (Afrika dissel).

Die groeiwyse van Berkheya-soorte wissel van kruidagtig tot struikagtig. Almal is meerjarig en plant hoofsaaklik met saad voort. B. rigida word as kruipend beskryf omdat dit met ondergrondse stingels (risome) versprei. Groeihoogte wissel van 0.3 tot 1.5 meter. ‘n Uitgebreide wortelstelsel dra by tot sterk kompeterendheid met ander plantsoorte. Stekelrige blare het in baie gevalle diep ingesnyde lobbe. Blomkleur van meeste soorte is geel en die minderheid soorte het wit of pers blomme. Sade ontbreek die veeragtige pappus van ware dissels. Sade kan verskeie jare in grond dormant (in rustoestand) verkeer voordat dit ontkiem.

Wildedissels se stekelrige blare verhoed nie alleenlik beweiding nie maar bemoeilik ook verwydering met die hand. Omdat dit ‘n inheemse plantsoort is, is biologiese beheer m.b.v. natuurlike vyande nie ‘n opsie soos in die geval van uitheemse indringerplante waar natuurlike vyande (insekte en patogene) vanaf hul lande van herkoms ingevoer kan word nie.

Toediening van onkruiddoders sal effektiewe beheer kan gee maar geen produkte is tans in Suid-Afrika vir beheer van wildedissels geregistreer nie. In Australië word die onkruiddoders 2,4-D, MCPA en clopyralid vir beheer van B. rigida aanbeveel.

* Dr. Charlie Reinhardt is dekaan van die Villa Academy, en buitengewone professor in onkruidwetenskap aan die Universiteit van Pretoria; e-pos: dr.charlie.reinhardt@gmail.com

Berkheya.Uitenhage.2015-11-01-twee


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X