Onkruid

Sand-olien wat oormatig verdig in Potgietersrus-distrik

Vraag

Ek woon in die omgewing van Potgietersrus. Op my plaas is daar bosse van 'n struik. Niemand kan my help met die naam nie. Dit brand maklik , selfs as dit groen is. Die struik is ongeveer 2.3 na 3 meter hoog, het 'n gladde stam met die nuwe takke maar die ou stam is baie geriffel en lyk of die bas wil afval. Die blare is lank, ongeveer 50 mm by 3 mm in middel, skraal met trosse bessies, ongeveer 10 sade per tros, wat bruin is as dit ryp is en as dit oopgebreek word is daar 2 of 3 sade aan die binnekant. Die saadjies in ongeveer die grootte van rooi manna. Ek soek die naam van die bos en raad om die bosse uit te roei asb. Afkap help nie want dit spruit net weer uit. Is hierdie plant indringerbosse of struike? Ek wil net verder weet of daar staatshulp is om dit uit te roei want die hele omgewing is besmet by ander bure wat niks wil doen nie. Dit versprei baie vinnig. Baie dankie, Eddie King

Antwoord

Sand-olien of smalblaar-sandolien (Dodonaea viscosa variëteit angustifolia) en die litchi boom behoort tot die Sapindaceae plantfamilie. Sand-olien is een van ons inheemse boomsoorte wat probleemstatus verkry wanneer dit tot so ‘n mate verdig dat dit nuttige plantsoorte verdring.

Dodonaea-viscosa-var-angustifolia.IMG_3181.jpg-dr.-Charlie-Reinhardt

Byskrif: Dodonaea viscosa variëteit angustifolia. Foto: Dr. Charlie Reinhardt

Ander inheemse soorte, wat plek-plek bekend is vir oormatige veldverdigting, sluit in: soetdoring [Vachellia (=Acacia) karroo], sekelbos (Dichrostachys cinerea) en mopanie (Colophospermum mopane). Iets wat al hierdie inheemse boomsoorte in gemeen het, is dat hul probleemstatus as “veldverdigters” hoofsaaklik te wyte is aan wanbestuur van veld, en dan spesifiek oorbeweiding.

Alhoewel sand-olien minder bekend is vir veldverdigting as byvoorbeeld mopanie en sekelbos is dit geruime tyd reeds die onderwerp van onkruiddoder-registrasies. Onkruiddoders wat tans vir beheer van sand-olien geregistreer is, is bromasil en tebuthiuron, die aktiewe bestanddele in ‘n verskeidenheid van onkruiddoderprodukte, waarvan slegs sekeres op sand-olien geregistreer is.

Sand-olien kom voor van die Wes-Kaap langs die ooskus op tot in die Laeveld, deur Mosambiek en dwarsdeur die tropiese wêrelddele. Nuttige gebruike daarvan is om sanderige areas teen winderosie te stabiliseer; dit is gewild as heiningplant, asook as sierplant en het ‘n verskeidenheid medisinale toepassings vir mense. Eienskappe wat bydra tot sand-olien se probleemstatus is die groot getal sade wat per plant geproduseer word, hoë kiemkragtigheid van sade, vinnige groeitempo, meerstammigheid, en onsmaaklikheid vir vee en wild.

Ons behoort alle inheemse verdigtersoorte as nuttige aanduiers van veld-wanbestuur te beskou. Hierdie plante tree basies vir die Natuur in die bres wanneer oorbeweiding, of bes moontlik ook natuurlike oorsake soos lang droogtes, versteuring in die natuurlike samestelling van plantgemeenskappe tot gevolg het. Veldverdigting is per slot van sake ‘n beter alternatief as kaal grond! Dit is nie alleenlik boomsoorte wat kan verdig nie – inheemse struiksoorte wat neig om oormatig te verdig, sluit in: katbos (Asparagus spesies) en bankrotbos [Seriphium plumosum (=Stoebe vulgaris)].

* Dr Charlie Reinhardt is buitengewone professor in onkruidwetenskap, Universiteit van Pretoria, en dekaan van die Villa Academy.


Kommentaar

Een kommentaar op “Sand-olien wat oormatig verdig in Potgietersrus-distrik

  1. Jan Bezuidenhout

    Eddie King skryf:
    Baie dankie vir al jul moeite. Ek het meer oor die struik gaan opsoek.

    Dit is wel die plant wat Dr Charlie gesê het dit is. Word ook genoem die silver olyf en word as windweerstand struik gebruik. Veral in die woestyn. Dit groei ook in klipperige grond soos by my.

    Ek vermoed iemand het dit in die verlede in die omgewing geplant en nou vervuil dit baie.

    Ek gaan nou ‘ Kaput 100 gel ‘ gebruik deur die struik af te saag en dit daarmee te smeer. Dit is baie duur — ongeveer R 400 per 500mm en word met kwas aangewend. Ek het “springbok” onkruid doder probeer en dit teen 3 % aangewend naar dit “skroei ” net die struik. Voorverlede jaar het ek ‘n werker vir 8 maande voltyds gehad om die struike af te kap. Nou lyk dit erger as voorheen. As daar nie ‘n wet is om die bure te verplig om struike te vernietig nie gaan dit vinnig toeneem.

    Ek dink dit moet as ‘n onkruid verklaar word want dit vervuil die hele wereld in so ‘n mate dat die drakrag nul word. Ek weet die sekelbos bv kan vervuil maar die wild eet graag die blare maar hierdie plant is vir niks goed nie. Niks groei onder dit omdat dit so dig is en niks eet dit nie .

    Nogmaals baie dankie. Nou weet ek ten minste wat dit is. Ek waardeer al die moeite.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X