Onkruid

Probleme met onkruid op wildsplaas

Vraag

Ons het onlangs 'n klein wildsplaas gekoop en wil graag die weiding begin verbeter. Tans is ons besig om op grootskaal onkruid soos oliebolle, lantana, ens. uit te roei, maar dit neem baie tyd en mannekrag. Enige raad? Ook wil ons die weiding van soetgrasse verbeter. Ons is in die Maanhaarrand/Magliesburg-omgewing. Help asseblief . U raad sal baie waardeer word.

Antwoord

Vanuit ‘n probleemplant-beheer oogpunt is daar baie uitdagings opgesluit in ‘n vraag soos hierdie. Basies koop mens ‘n plaas of enige stuk grond met meer daarin vervat as wat jy bogronds kan waarneem – dit is onder andere geldig in die geval van plante, spesifiek onkruide. Seker die mees onderskatte of afgeskeepte oorweging by die aankoop van grond is die hoeveelheid onkruidsaad wat in die grond se “saadbank” aanwesig is.

Die saadbank kan miljoene der miljoene sade per hektaar van ‘n groot verskeidenheid onkruide bevat, waarvan op ‘n bepaalde tydstip, slegs ‘n baie klein gedeelte waargeneem kan word in die vorm van plante wat aktief-groeiend is. Beheer van onkruid is dan ook vir alle praktiese doeleindes toegespits op daardie gedeelte van die onkruidspektrum wat saam met die gewas gaan opkom en/of wat reeds op is voordat die gewas gevestig word. Min tot geen aandag word geskenk aan die verreweg grootste deel van die probleem, naamlik die sade wat mid- en laat-seisoen gaan ontkiem; en dan is daar nog die oorgrote meerderheid van sade in die saadbank wat vir verskeie jare vorentoe eers gaan ontkiem.

Die onkruidsoorte wat in volksmond as “oliebolle”, en meer algemeen as “stinkolieboom” of “olieboom” bekend is, se wetenskaplike name is Datura ferox en Datura stramonium (foto hieronder). Verskeie onkruiddoderprodukte kan hierdie erg-skadelike (giftig en sterk-kompeterend)onkruide effektief beheer, en toediening kan vooropkoms en/of na-opkoms van die onkruid gedoen word. Groot probleem met hierdie onkruidsoorte is dat sade in die saadbank vir dekades in ‘n dormante toestand kan oorleef, wat natuurlik ‘n wonderlike aanpassing vir oorlewing van hierdie plantsoorte is — ‘n eienskap wat maak dat hierdie twee Datura soorte onder die wereld se top-10 onkruide tel. Derhalwe, afhangend van die aard van historiese infestasie deur Datura op ‘n bepaalde stuk grond, kan dit wees dat jarelange nougesette beheeraksies nodig gaan wees om die probleem onder die knie te kry.

Datura-stramonium.jpg-295-dr-charlie-reinhardt

In die geval van lantana (Lantana camara) (foto hieronder) is daar in geval van huidige of historiese digte infestasies ook ‘n enorme grond-saadbank om in ag te neem, en daarby is daar ook die voël-faktor wat beheer bemoeilik. Ons inheemse voëls het ‘n voorliefde vir uitheemse lantana se vruggies ontwikkel en is daarom ywerige, maar darem onwillekeurig so, verspreiders van die saad. Dit beteken dat as jou bure nie lantana beheer nie gaan jy nimmereindig lantana moet beheer. Lantana saad kan vir verskeie jare in grond oorleef, maar waarskynlik nie vir dekades lank soos in die geval van Datura nie.

Lantana-camara.-295-dr-charlie-reinhardt

Goeie nuus is dat verskeie onkruiddoderprodukte beide hierdie hardnekkige onkruidsoorte onder bedwang kan kry — van uitroeiing is daar waarskynlik nie sprake nie, in elk geval nie in kort- of medium-termyn nie. Nougesette en volgehoue beheer sal toegepas moet word, en allerbeste advies is om in die toekoms te verhoed dat nuwe sade tot die saadbank gevoeg word! Dit beteken dat plante beheer moet word voordat vrugte geproduseer word.

Gelukkig kan ‘n sterk-groeiende (=sterk-kompeterende) gewas of natuurlike plantegroei ingespan word om as’t ware “biologiese” beheer toe te pas. Waar bogenoemde en ander onkruide in natuurlike veld of op herwinde oulande voorkom, is dit goeie praktyk om inheemse grasse te vestig en die groei van laasgenoemde soveel as moontlik te bevorder. Aangesien historiese oorbeweiding in baie gevalle ‘n belangrike rede vir infestasies van probleemplante is, is weidingbestuur allerbelangrik.

Let wel:Datura soorte en Lantana is giftig vir mens en dier – lantana is veral dodelik vir beeste. Materiaal van hierdie plante wat per toeval vars ingeneem word deur weidende diere, en materiaal wat gebaalde voer kontamineer, is toksies”.

* Dr. Charlie Reinhardt is buitengewone professor in onkruidwetenskap, Universiteit van Pretoria, en dekaan van die Villa Academy. (Foto’s: Dr. Charlie Reinhardt.)

Villa-Academy-Logo.jpg-300


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X