Onkruid

Oplossings vir vaalbos en sekelbos

Vraag

Ons boer tans op Groblersdal met wild en het ‘n groot probleem met Vaalbos en in mindere mate sekelbos. Ons gebruik twee tegnieke om die vaalbos te verwyder. Die eerste tegniek is om met ‘n TLB die bome om te stoot en dan die bome op ‘n hoop te stoot. Die tegniek is die vinnigste en goedkoopste maar het ‘n groot impak op die veld onder. Die tweede tegniek is om die bome deur werkers af te laat saag en die bome ook op ‘n hoop te pak en met die TLB die wortel stelsel uit te grou. Dié metode is stadiger en kos meer, maar het nie so groot impak op die veld nie. Die eerste metode het ook ‘n probleem dat die wortelstelsels agter bly en moet ook weer met TLB uit gegrou word. Ons sal graag weg wil bly om enige gif te gebruik want ons wil nie die inheemse bome en veld beskadig nie.

Antwoord

Julle maak tans staat op meganiese/fisiese beheer – dit is baie effektief in die sin dat die probleem letterlik “wortel en tak” verwyder word, maar aan die ander kant, dit skep ‘n versteurde omgewing wat ideaal is vir ongewenste pionierplante (=onkruide) om in te dring. Nog ‘n groot element van versteuring van die ekosisteem, wat op langtermyn ‘n erg nadelige gevolg is van julle huidige manier van doen, is dat nutriënte wat opgesluit is in die verwyderde plante, nie in die natuur hersirkuleer word nie, maar fisies uit ‘n area verwyder word. Hoe word daardie nutriënte teruggesit? Dit word nie, en oor die langtermyn sal die drakrag van die veld afneem.

My advies sou wees om die bome/struike af te kap en die vars-gekapte stam met ‘n sistemiese onkruiddoder te behandel (dié middel sal tot in wortels getranslokeer word en hele plant dood). Die afgekapte plantdele behoort op die plek gelos te word sodat nutriënte hersirkuleer kan word, plus dit bied beskerming teen beweiding van gewenste plante, soos grasse, wat onder en tussen die dooie takke gaan posvat. Dus word minimale tot geen grondversteuring bereik, en die gerigte manier van toediening van onkruiddoders vermy skade aan gewenste plante.

Onkruiddoders hoef nie “gevrees” te word nie, die verskil tussen skade en sukses met onkruiddoders is opgesluit in die vlak van kennis wat met hulle gebruik gepaard gaan! Ek ken mense met die nodige kennis!!

* Dr. Charlie Reinhardt is buitengewone professor in onkruidwetenskap, Universiteit van Pretoria, en dekaan van die Villa Academy.

11 November 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X