Onkruid

Maak denksprong oor rol, impak van inheemse “veldverdigterplante”

Vraag

Vee- en wildboerdery het in meeste gevalle te kampe met “uitheemse indringerplante” en/of “inheemse verdigterplante” wat weidingskapasiteit kan verlaag.

Antwoord

Agtergrond:
Vee- en wildboerdery wat van natuurlike weiding afhanklik is, het in meeste gevalle te kampe met “uitheemse indringerplante” en/of “inheemse verdigterplante” wat weidingskapasiteit kan verlaag.

Realiteite:
Vir die doel van hierdie bespreking kan korte mette gemaak word met uitheemse indringerplante deur op te merk dat hulle beheer behoort te word met die oogmerk om uit te roei – die realiteit is dat uitroeiing haas onmoontlik is in gevalle waar die “vreemdeling in ons midde” oor dekades gevestig geraak het.

Die debat oor inheemse verdigterplante verdien meer aandag omdat bewaring van ons natuurlike plantegroei al te dikwels in gedrang kom wanneer inheemse plante, vanuit ‘n menslike (landbou-ekonomiese) oogpunt beskou, ‘n bedreiging vir mens en dier inhou. Die term “verdigterplante” word gebruik om inheemse plantsoorte te beskryf wat dermate verdig dat dit die drakrag op vee- en wildplase tot onekonomiese vlakke verlaag – hierin word menslike belang voorop gestel.

“Botsing van belange” tussen mens en natuur is onafwendbaar wanneer maksimum winsgewendheid van boerdery voorop gestel word ten koste van die natuurlike omgewing. Die denksprong wat deur ons mense gemaak moet word, is dat gesonde balans gevind móét word tussen volhoubare menslike welvaart en ‘n omgewing wat dit kan onderhou. Hierdie denksprong geld vir beide uitheemse onkruide en inheemse verdigterplante.

Plante tap die son se energie en vang dit vas in koolhidrate en proteïene waarsonder mens en dier nie kan bestaan nie. Plante se fundamentele rol in voedselkettings beteken dat versteuring van plantgemeenskappe hele voedselkettings kan ontwrig. Ons moet aanvaar dat landbou-aktiwiteite van die grootste omgewingsontwrigters is; daarom die verskriklike swaar verantwoordelikheid wat rus op die mens, wat aan die toppunt van voedselkettings aangestel is, vir groot omsigtigheid met ons aksies in die natuur!

Die denksprong of kopskuif rakende inheemse “verdigterplante” behels aanvaarding van die realiteit dat hierdie plante eerder beskou behoort te word as “invullers van leë plekke”, “Natuur se balanshouers”, “indikator-plante van veld-agteruitgang” of “redderplante”.  Dit is  belangrik om te weet of die redderplant ‘n giftige plant is wat ernstige ekonomiese implikasies kan inhou soos sommige Senecio-soorte, of bloot ‘n oneetbare soort soos die bankrotbos (Seriphium plumosum) en katbos (Asparagus laricinus), en of dit ‘n waardevolle skakel in die voedselketting is, soos byvoorbeeld sekelbos (Dichrostachys cinerea).

Senecio-soorte sluit in die Senecio consanquineus (“John Deere”-bossie) wat menige somergewasland oortrek in die herfs/winter. In daardie situasie word die skadelike eienskappe daarvan in meeste gevalle hopeloos onderskat! (Klik op die foto’s hieronder.)

Kritiese oorwegings in gevalle waar veldverdigting menslike aspirasies bedreig behoort die volgende te wees:
(1) Wat gaan bereik word met die vernietiging van die “verdigter”? – watter plante gaan in die plek daarvan kom? – hoe gaan veld-rehabilitasie gedoen word?
(2) Spreek eerder die oorsaak van veldverdigting aan – oorbeweiding is meerendeels te blameer, en veld-rehabilitasie is krities.
(3) Aanvaar dat die mens nie suksesvol teen die dinamika van die Natuur kan inwerk nie – leer om saam met die Natuur te boer.
(4) Bestuur veld sodanig dat klimaks-spesies die “verdigter” sal terugdruk tot ‘n latente posisie as veld-reddingsagent en balanshouer.
(5) In eenjarige gewasproduksiestelsels moet die verdigterplant noodwendig as onkruid beskou en bestuur word.

* Geskryf deur dr. Charlie Reinhardt en mnr. Hans Vahrmeijer.

* Dr Charlie Reinhardt is dekaan van die Villa Academy, en buitengewone professor in onkruidwetenskap aan die Universiteit van Pretoria; e-pos: dr.charlie.reinhardt@gmail.com
* Hans Vahrmeijer is ekoloog en etno-botanikus by Ilifa Knowledge Systems; e-pos: hansvahr@esnet.co.za


Kommentaar

Kommentaar (2) “Maak denksprong oor rol, impak van inheemse “veldverdigterplante”

  1. mkruger
    mkruger

    Die manne vergeet een ding.
    Hulle is gou om te se dat oorbeweiding die oorsaak is van alle probleme.
    Wat hulle egter vergeet is dat onderbeweiding net so kan bydra tot veldagteruitgang.
    Nou wil ek net weet waar pas die indringerplante se sade wat deur die rivier op my plaas afgegooi word in.
    My weiding om die rivier is nie oorbenut nie.
    So is my weidings ook nie.
    Ek moet egter heeltyd plante van sade van my bure wat nie bestry nie uitkap.
    Hierdie is nie ‘n individuele probleem nie maar ‘n globale probleme.
    Sade kan baie ver deur riviere en wind na gesonde plase toe versprei word.

  2. andre bezuidenhoudt
    andre bezuidenhoudt

    Kan die manne ,nie gerus ,n bekostigbare uitroeiings plan op stel nie,ek is ,n plot eienaar en het nie altyd die kostes van die duur gif bekostig nie ,nog minder die implimente om die gif mee te spuit of te strooi! Enige hulp sal waardeer word,van 21 ha .wat ek gekoop het vir aftrede ia omtrent, 7 ha besmet met slangbos


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X