Onkruid

Lantana is indringerplant van formaat!

Vraag

Ons het onlangs 'n plaas gekoop in die Limpopo-provinsie op die Springbokvlakte. Daar is redelik baie Lantana wat uitgeroei moet word. Die Lantana kom veral voor teen en onder bome wat ons nie wil beskadig nie. Indien die Lantana uitgehaal word en daar bly wortels oor in die grond, sal die plant weer begin groei? En dan sal ek graag verneem watter chemiese middels kan gebruik word vir die Lantana wat nie ander bome ook sal doodmaak nie.

Antwoord

Lantana verdien ‘n plek onder die top-10 mees skadelikste uitheemse indringerplante wat natuurlike plantegroei in Suid-Afrika bedreig. Dit het dieselfde status in ongeveer 60 lande in sub-tropiese en tropiese wêrelddele.

Skade wat hierdie plant veroorsaak is nie beperk tot verdringing (verplasing) van inheemse plante nie, en sluit in vergiftiging van mense en vee, asook die ontwrigting en selfs vernietiging van biodiversiteit en voedselkettings in natuurlike ekostelsels. Behalwe dat die vrugte eetbaar is wanneer dit ryp is, is die res van die plant toksies. Beeste veral ontwikkel ‘n toestand van lig-sensitiwiteit as gevolg van lewerskade wat dodelik kan wees wanneer lantana per ongeluk gevreet word. Simptome van vergiftiging by vee is haarverlies op veral ligkleurige dele van die vel en ekseem op die gesiggedeeltes.Hierdie tipe vergiftiging kom feitlik uitsluitlik by beeste voor.

Die oorspronklike wêrelddeel van herkoms van lantana is tropiese Amerika waarvandaan honderde variëteite wyd oor die wêreld se tropiese en sub-tropiese dele verprei het, hoofsaaklik deur mense wat dit as sierplant beskou het. Voëls doen korter afstand verspreiding deur die ryp vrugte te vreet en sodoende saad te versprei. Dit is waarom lantana ondanks verbanning as kwekeryplant steeds in stedelike gebiede in tuine aangetref word; voëls bring dit in en oningeligte mense versorg dit. Lantana is in 1858 in Suid-Afrika die eerste keer aangeteken.

Dit verkies die warm, vogtige dele van Mpumalanga en KwaZulu-Natal, maar rivier- en stroomoewers in warm, droë omgewings is ook blootgestel aan indringing, soos byvoorbeeld daardie meer vogtige omgewings in die Kruger Nasionale Park. Die plant kan sulke digte infestasies vorm dat beweging van mense en diere belemmer of verhoed word. (Sien foto hieronder.) Haakdorings op stamme bemoeilik bekamping deur plante af te kap en met die hand te verwyder. Hergroei waar plante fisies verwyder is, is waarskynlik eerder te wyte aan ontkieming van groot hoeveelhede saad in die grond se ‘saadbank’ as aan uitloop vanaf ondergrondse plantdele.

Verskeie onkruiddoders is vir die beheer van lantana geregistreer. By hierdie beheermetode is die grootste risiko die beskadiging van gewenste plante in die onmiddelike omgewing waar beheer gedoen word. Toediening van onkruiddoders uit die lug (vliegtuig/helikopter) maak beskadiging van gewenste plante onafwendbaar. Die mees selektiewe beheermetode is om afgekapte stamme met onkruiddoder te behandel en/of toediening tot loof, stamme en stambasisse van die teikenplant te beperk.

Voorbeelde van onkruiddoders wat vir lantana geregistreer is, is die volgende aktiewe bestanddele wat in die vorm van ‘n groter verskeidenheid van produkte beskikbaar is: fluroxypyr, glyphosate, picloram, imazapyr, tebuthiuron (name in Engels verskaf vir makliker naslaan van inligting).

Biologiese beheer van lantana is lank reeds ‘n fokus van die Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming van die Landbounavorsingsraad. Verskeie biologiese beheeragente is reeds getoets en vrygelaat, maar ongelukkig word sukses gekortwiek deur die grootskaalse hibridisering van letterlik honderde lantana variëteite wat oor ‘n lang tyd die land binnegekom het. Biologiese beheeragente is 100% gasheerspesifiek en daarom slegs effektief op ‘n bepaalde variëteit.

* Dr. Charlie Reinhardt is dekaan van die Villa Academy.
Tel: 011-396 2233
Epos: creinhardt@villaacademy.co.za
www.villaacademy.co.za

Villa-Academy-Logo.jpg-300

Lantana-#6.jpg-300Lantana-cam-Sabie.jpg-295


Kommentaar

Een kommentaar op “Lantana is indringerplant van formaat!

  1. Estelle Pretorius
    Estelle Pretorius

    Dankie vir artikel. Ons doen ‘n skooltaak en veg ook teen Lantana op die plaas. As die indringer in blom is sien mens hoe vining dit versprei.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X