Onkruid

Gousiekte plantvergiftiging by herkouers: Verskeie inheemse plantsoorte span saam!

Vraag

“Ek het ‘n plant op my eiendom geïdentifiseer wat skielike vrekte onder Damara skape en boerbokke, wat ek nuut aangekoop het, veroorsaak het. Aanvanklik is bloednier as oorsaak gediagnoseer, maar ‘n ander opinie het gousiekte as oorsaak aangedui. Ek kry die plant nie dood met ‘n glifosaat-bevattende onkruiddoderproduk nie”.

Antwoord

Fadoglia homblei is die wetenskaplike naam vir die “bosluisbessie” of “wildedadel”-plant wat tot die Rubiaceae plantfamilie behoort. Dit kom veral voor in die noordelike streke van Suid-Afrika, in Limpopo-provinsie. Dit is ook algemeen op die wit, grys en bleekrooi gronde van die noordelike en oostelike dele van Gauteng, waar die oorgang is in granietiese gesteentes van die Magaliesburg na gesteentes wat die Laeveld kenmerk.

Bosluisbessie is ‘n meerjarige kruid tot klein struik met verskeie regop stamme tot ongeveer 50 cm hoog, wat ontstaan van houtagtige risome (ondergrondse stingels). Die bogrondse dele ryp dood in die winter. Die blare ontspring in groepe van 3 tot 5 by knope op die stam. Die boonste blaaroppervlak is blinkgroen en die onderkant is silwer-wit. Klein geel blomme word in groepe by die knope op stingels gedra. Die groenkleurige vrug word swart wanneer dit ryp is en is dan eetbaar. Geen gevalle van menslike sterftes is bekend nie, maar die plant het die vermoë om veevrektes te veroorsaak (Veeartsenykunde Biblioteek, Universiteit van Pretoria).

Gousiekte is ‘n fatale hartkondisie wat by herkouers veroorsaak word; dié siekte hou verband met die inname deur herkouers van verskeie plantsoorte in die Rubiaceae-familie, wat die koffieplant insluit.

Gewoonlik vrek herkouers nadat die plant oor ‘n lang periode (weke) ingeneem is – oënskynlik gesonde diere steier en slaan dood neer wanneer hul aangejaag word. ‘n Enkele dosis bestaande uit ‘n groot hoeveelheid plantmateriaal kan dieselfde gevolg in ‘n kort tyd hê. Die toksisiteit van gousiekte-veroorsakende plante kan oor tyd varieer, asook die toksisiteit van verskillende dele van die plant.

Onkruiddoders wat selektief (nie-skadelik) teenoor grasse is, bied die beste kans op effektiewe beheer binne ‘n kort tyd. Onkruiddoderprodukte wat pikloram of metsulfuron-metiel as aktiewe bestanddele bevat behoort goeie, selektiewe beheer te gee. Let wel, grasse sal nie beskadig word nie, maar alle ‘breëblaar’ (dikotiel) plante sal deur hierdie onkruiddoders beskadig kan word. Dit is belangrik dat onkruiddoders saam met goeie veldbestuur ingespan word. Op die langer duur is goeie veldbestuur noodsaaklik vir die bevoordeling van grasse wat deur middel van kompetisie die getalle van bosluisbessie en ander ongewenste plante in bedwang sal hou.

Glifosaat-bevattende onkruiddoderprodukte is nie-selektief, m.a.w. sal alle plante doodmaak waarmee dit direk in aanraking kom, en dit word vinnig in grond afgebreek. Pikloram en metsulfuron-metiel is selektief teenoor grasse en het lang nawerking in grond, wat beheer oor ‘n lang tydperk (weke tot maande) na ‘n enkele toediening moontlik maak.

Meer bekende gousiekte-veroorsakende plante behoort tot die genus Pachystigma, soos P. pygmaeum (harige gousiekte bossie), P. thamnus (gladde gousiekte bossie) en P. latifolium. Hierdie Pachystigma soorte en Fadogia homblei kan saam voorkom om ‘n dodelike kompleks van gousiekte-plante te vorm, soos wat die geval is in dele van die Cullinan/Rayton-distrikte.

Gousiekte en die plante wat dit veroorsaak word deeglik bespreek in die boek van J. Vahrmeijer (1981), “Gifplante van Suider-Afrika wat veevrektes veroorsaak”, Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.

* Dr. Charlie Reinhardt is buitengewone professor in onkruidwetenskap, Universiteit van Pretoria, en dekaan van die Villa Academy.

Villa-Academy-Logo.jpg-300

♦ Lees ook dr. Faffa Malan se artikel oor gousiekte hier.

Byskrif vir 2 foto’s hieronder is die Fadoglia homblei in die Cullinan/Rayton-distrik (Fotograaf: Theunis du Plooy)

Fadoglia-homblei.IMG_1761.jpg-2

Fadoglia-homblei-IMG_1751


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X