Onkruid

Beheer van ‘tongblaar’ in weidingmengsels

Vraag

Ons boer in die Suid-Kaap. Aangeplante weidings is in April 2014 gevestig nadat lande met Glifosaat gespuit en skoon gewerk is. 2 sooste meerjarige raaigras ( Bealy + Bronsyn) saam met 3 soorte klawers( Rooi, wit en Woogenellop) geplant. Eerste jaar weidings uitstkend. Nou egter verdring tongblaar ( Plantago LanceoPlata?) die raaigras en mindere mate geelblom gousblom. Reeds met plaaslike chemikalieë kenners gepraat maar hulle sê dit is langtermyn probleem. MCPA sal klawers doodmaak. Ook 24 DB probeer - swak resultate. Sal u gewaardeerde raad hoog op prys stel. Ons probeer volhoubaar boer.

Antwoord

[Nota: Eerstens behoort opgeklaar te word presies watter onkruidsoort hier ter sprake is. Die leser noem “tongblaar” en verskaf daarmee saam die wetenskaplike naam Plantago lanceolata.]

Volksname vir plante kan verwarrend wees omdat dit neerkom op streekname wat van plek tot plek verskil. Plantago lanceolata se amptelike volksnaam is “smalweëblaar”, maar in die Wes- en Suid-Kaap word dit “tongblaar” genoem. Die onkruid Rumex crispus se volksnaam is “krultongblaar”, dus is die moontlikheid van verwarring voor die handliggend. Ons aanvaar die navraag handel oor Plantago lanceolata. Daar is ook Plantago major (“grootweëblaar”) wat met voorgenoemde verwar kan word; die mees opvallende onderskeiding tussen hulle is blaargrootte ‒ grootweëblaar het opvallend breër blare as smalweëblaar. Beide Plantago-soorte verkies klam omgewings, maar Plantago major hou van natter toestande.

Dit is nie moontlik om onkruiddoder(s) met volledige veiligheid vir die gewasse in ‘n mengsel van grasgewas (bv. meerjarige raaigras) en breëblaargewas (bv. klawer) aan te wend nie. Onkruiddoders is meerendeels óf grasdoders óf breëblaardoders, en relatief min onkruiddoders beheer beide gras- en breëblaaronkruide. Waar “tongblaar” dus ‘n probleem geraak het in ‘n mengsel van meerjarige raaigras en klawer is die beste onkruidbeheeropsie om deur gereelde beweiding of sny te verhoed dat die “tongblaar” saad produseer. Indien beheer op voorgaande maniere intensief en effektief toegepas kan word, sal die plant se saadreserwes in die “grond-saadbank” oor tyd uitgeput raak en die infestasie behoort geleidelik af te neem. Hierdie proses kan lank neem en sal afhang van die hoeveelheid onkruidsaad wat reeds in die saadbank is, asook van die lanklewendheid van daardie sade.

“Tongblaar” dra sy blomme en sade hoog op lang blomstele, dus is praktyke van beweiding en/of sny van die gewasland geskik vir voorkoming van saadproduksie. Hierdie onkruid word as medisyne en kruiemiddel deur mense benut, en is nie toksies vir mens of dier nie, gevolglik behoort beweiding of teenwoordigheid van tongblaar in voer nie ‘n risiko vir diere in te hou nie. Belangrik egter is dat “die toksien is in die dosis” – digte infestasies tongblaar behoort as ongeskik vir beweiding en die maak van hooi beskou te word.

Die goue reël vir die effektiewe beheer van enige onkruid kan hier met sukses toegepas word, en wel: verhoed dat onkruid saad produseer aangesien saad wat hierdie seisoen in die grond-saadbank beland vir dekades lank aan saailinge oorsprong kan gee.

* Geskryf deur dr. Charlie Reinhardt. Hy is buitengewone professor in onkruidwetenskap, Universiteit van Pretoria, en dekaan van die Villa Academy. Webwerf:  http://www.villaacademy.co.za/

Let wel: Dr. Reinhardt bied in hierdie rubriek raad aan lesers oor die bestryding van onkruid, maar nie hy of Landbou.com kan aanspreeklik gehou word vir enige skade wat uit hierdie raad voortspruit nie.

Foto: Plantago lanceolata, deur dr. Charlie Reinhardt.

Plantago-lanceolata.Photo-by-C-Reinhardt.jpg-600


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X