Onkruid

Beheer van kweekgras is groot uitdaging

Vraag

Kweekgras skaad weiding- en gewasplante deur kompetisie en die afskeiding van plant-skadelike chemikalieë. 'n Onkruidkenner verduidelik.

Antwoord

Kweekgras skaad weiding- en gewasplante deur kompetisie en die afskeiding van plant-skadelike chemikalieë.

Cynodon dactylon het verskillende algemene name of volksname afhangend van waar in die wêreld dit voorkom. “Bermuda” gras een algemene naam, terwyl dit in Suid-Afrika en Australië in volksmond as kweekgras (“couch grass”) bekend staan. Vele variëteite en kultivars van kweekgras word plaaslik en in die buiteland aangeplant en is steeds deel van telingsprogramme vir toepassings soos baan(“turf”)gras (sportvelde, grasperke), weiding, grondstabilisering (grondwalle van kanale) en vir rehabilitering van mens-versteurde gebiede (mynhope, padwerke).

In meeste gewasstelsels van beide die somer- en winterreënvalstreke van Suid-Afrika, en in baie ander lande in die wêreld word kweekgras as uiters skadelike onkruidsoort ervaar – dit verskyn dan ook hoog-op in die wêreld se top-10 lys van ekonomies-belangrike onkruide.

Kweekgras is ‘n uiters sterk kompeteerder vir water en voedingselemente, en daarby verswak dit mededingende plante deur die afskeiding van plant-skadelike chemiese stowwe in die proses bekend as allelopatie.

Kweekgras kom wydversreid voor tussen 45⁰N and 45⁰S breedtegrade, met verspreiding so ver Noord as 53⁰N in Europa. Die plek van herkoms is Eurasië, in ‘n historiese geografiese gebied wat strek van die huidige Wes-Pakistan tot Turkye. Groot genetiese diversiteit in Cynodon dactylon verklaar enorme verskille in groeivorm, vanaf klein, fyn grasse wat op golfbaan-setperke gebruik word tot groot robuuste tipes wat ideaal is vir weiding en hooi.

Cynodon is ‘n oop-bestuifde genus, en gevolglik lei kruisbestuiwing tot geenvloei tussen natuurlike en aangeplante populasies, wat waarskynlik die groot genetiese diversiteit tussen genotipes verklaar. Nog ‘n rede vir genetiese variasie is uitruiling van genetiese materiaal tussen streke, lande en kontinente oor dekades heen.

‘n Redelik onlangse voorbeeld van mens-bevorderde verplasing van genetiese materiaal is die geval van Cynodon dactylon kultivar NK47 wat in die laat-1940s deur die Suid-Afrikaanse regering uit die VSA ingevoer is om die grondwalle van kanale te stabiliseer. Teelmateriaal van NK47 is jare tevore na die VSA ingevoer waar dit deur ‘n VSA saadmaatskappy veredel is vanaf materiaal verkry in ‘n Wes-Afrikaanse land in Wes-Afrika. Vandag is hierdie kultivar en/of kruisings daarvan ‘n ernstige onkruid in veral die westelike dele van die mielieproduksie streek.

Om kweekgras effektief te beheer bied groot uitdagings, aangesien dit ‘n meerjarige plant is wat na afsterwing van bogrondse dele, weens koue, droogte of onkruiddoders, kan oorleef danksy ondergrondse stingels (risome) asook vlak-groeiende en bogrondse lopers (stolons). Meganiese beheer (ploeg en skoffel) moet dan ook daarop toegespits wees om risome en stolons te vernietig – dit vereis in meeste geval herhaling van beheer-aksies. In geen-bewerking gewasstelsels is meganiese beheer nie ‘n opsie nie en is chemiese beheer (onkruiddoders) die enigste uitweg.

Om kweekgras wat in aangeplante grasweidings gevestig geraak het met onkruiddoders te beheer is bykans onmoontlike omdat geen grasdoders vir grasbeheer in grasweidings geregistreer is nie. Gevolglik, by grasweidings, kan die kompetisievermoë van die weidingsgewas ingespan word deur toepassing van beste verbouingspraktyke – ‘n sterk, aktief-groeiende gewas, oordeelkundige beweiding en sny-aksies is die beste teenvoeters vir onkruid-indringing en –aanwas in grasweidings.

In die geval van lusern en ander peulgewasweidings is daar verskeie spesialis-grasdoders geregistreer wat kweekgras selektief kan beheer (“Guide for Chemical Control of Weeds in South Africa”, AVCASA/CropLife SA, tel 011-805 2000).

Goeie onkruidbeheerpraktyk wat nie van die tipe gewas afhanklik is nie behels voor-plant (voor-vestiging) toediening van breëspektrum onkruiddoders soos glifosaat en parakwat, alleen of apart in opeenvolgende toedienings (eers parakwat en dan glifosaat, en nie andersom), wat meeste onkruide wat ten tye van behandeling reeds opgekom het effektief behoort te beheer – weer eens, soos in die geval van meganiese beheer, mag een behandeling met voor-plant toegediende onkruiddoders dalk nie doeltreffend wees nie, en is herhaling daarvan nodig. (Sien foto’s heel onder.)

* Dr. Charlie Reinhardt is dekaan van die Villa Academy, en buitengewone professor in onkruidwetenskap aan die Universiteit van Pretoria, asook buitengewone professor in die Departement Agronomie, Stellenbosch Universiteit; epos: dr.charlie.reinhardt@gmail.com 

Villa-Academy-Logo.jpg-300
Foto hieronder: Kweekgras by Bultfontein. Foto: dr. Charlie Reinhardt.

Cynodon-dactylon.Bultfontein-2.jpgv-Charlie-Reinhardt-600

Foto hieronder: Kweekgras. Foto: Dr. Charlie Reinhardt

Cynodon-dactylon.Flowers.-Charlie-Reinhardt-600


Kommentaar

Kommentaar (2) “Beheer van kweekgras is groot uitdaging

  1. pofadder
    pofadder

    Na die droogte het ek die grootste respek vir kweek, in die Weste, dit het baie beeste se lewens gered. Ek is nou ‘n kweek FAN!!!!!!!!!!!!!!!!

  2. Fred Gericke
    Fred Gericke

    Hoe beheer ek kweek tussen Kikuyu? Met die droogte het kweek oorgeneem.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X