Grond Guru

Watter alternatiewe gewasse werk onder spilpunt op die Springbokvlakte?

Vraag

Ek wil asb raad vra oor alternatiewe gewasse onder spilpunt. Ek plant op landerye van 15ha elk onder spilpunt mielies. Ek besproei uit boorgate. Ons is geleë op die Springbokvlakte in die Limpopo. September sal die 3de seisoen aanbreek wat ons mielies onder besproeiing aanplant. Ons plant sedert verlede jaar ook koring. My vraag is: Watter gewasse werk goed en vul mekaar aan. Mielies en / of suikerbone of koring en / of mielies, koring en / of suikerbone? Ek wil graag 3 oeste per jaar kan afhaal. Enige raad sal waardeer word. Altus Joubert

Antwoord

Drie oeste is slegs moontlik in twee jaar, nie in een jaar nie.

Mens sal begin met ‘n vroeë mielie aanplantings (begin September). Jy sal die mielies teen Desember/Januarie kan oes, waarna jy onmiddellik sal kan opvolg met suikerboon-aanplantings. Dié aanplantings kan jy dan met koring-aanplantings opvolg, en die koring sal dan in November gestroop kan word.

Die versoeking om drie oeste in een jaar in te druk, veroorsaak dat optimale plantdatums vir gewasse verontagsaam word. Dit sal ook daartoe lei dat jy swakker oeste afhaal teen hoër insetkostes.

‘n Mielie wat in September geplant word, het nie die opbrengs potensiaal van een wat in Oktober geplant word nie. Dieselfde geld vir droëbone in Januarie en koring in Junie. Dit is beter om 14ton mielies (van ’n Oktober aanplanting) en 8 ton koring (van ’n Mei aanplanting) per ha te oes as om 9.5 ton mielies (van ’n September aanplanting), 2 ton droëbone (van ’n Januarie aanplanting) en 6 ton koring (van ’n Junie aanplanting) per ha te oes. Die gekombineerde winsmarge/ha op die eerste scenario is beter as op die tweede scenario.

Gewasse wat op rotasie goed in die eerste scenario inpas is:

Mielies, koring, droëbone, sojabone en katoen. Kanola is ook ‘n opsie as ‘n wintergewas. Dit help met die onderdrukking van wortelsiektes en aalwurm. Die nadeel daarvan is die logistiek van plant en oes met die uiters fyn saad. Sonneblom aard ook baie goed op die Springbokvlakte maar dalk eerder meer in die turfgrond.

Dis altyd belangrik om eerstens die grond waarop jy boer te optimaliseer. Doen ontleding van die grond se fisiese en chemise eienskappe. Doen ook ’n analise van die water om jou te vergewis van die inhoud daarvan en wat jy dus terug in die grond insit. Kyk na die Natrium in die water, want dit het ’n groot effek op jou grond se chemise status. Dit is baie belangrik om jou gronde se chemise balans te behou deur jou grond gereeld te analiseer en soos nodig te bekalk en te bemes.

 

*Geantwoord deur Lourens de Jager, tegniese adviseur van Nulandis


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X