Grond Guru

Wat gee aan turf sy swart kleur?

Vraag

Wat gee aan turf sy unieke swart kleur?

Antwoord

Turfgrond is meestal gronde met ’n Vertiese of Melaniese A-horison. Gronde met hierdie tipe A-horison is gewoonlik hoog in klei, asook donker in kleur. Grondkleur is die mees opvallende van die grondkenmerke en baie grondeienskappe kan van die kleur afgelei word wanneer dit saam met struktuur en tekstuur oorweeg word.

Grond kan sy kleur te danke hê aan die verskillende vorms van yster in die grond, die moedermateriaal waaruit die grond gevorm is en die hoeveelheid organiese materiaal in die grond. Grondkleur weerspieël dikwels spesifieke mineralogiese, chemiese, fisiese, biologiese en hidrologiese kwaliteite van ’n grond.

Moedermateriaal speel ’n groot rol in die vorming van die kleur gevind by turfgronde. Die moedermateriaal wat oorsprong gee aan die donker turfgronde is óf gesteentes wat basies of intermediêr met betrekking tot basisreserwe is, óf sedimente in sulke landskapposisies dat hul basisse via laterale dreinering van water ontvang. Die grondvormende proses wat oorsprong gee tot hierdie turf tipe grond staan bekend as Margalitisasie.

Margalitisasie vind plaas in enige klimaat, daar moet net ’n duidelike droë seisoen van vier tot agt maande wees. Die moedermateriaal bestaan uit basiese stollingsgesteentes, skalie, kalksteen of ongekonsolideerde klei. Die moedermateriaal moet fyn korrelrig wees met meer as 30% klei en moet hoë kalsium- en magnesiuminhoud hê. Die teenwoordigheid van silika, magnesium en kalsium veroorsaak dat smektiete vorm. Hierdie smektiete gee dan ook die oorsprong aan turfgrond se swel en krimpeienskappe.

* Geskryf deur Jannie Putter, grondkundige by Nulandis.

26 Oktober 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X