Grond Guru

Vermy kleitrap met grondmonsters

Vraag

Wat is die korrekte manier om grondmonsters te neem?

Antwoord

Een van die prosedures waarmee boere die meeste klei trap, is met die neem grondmonsters in ‘n land of in ‘n boord, sê dr. Eduard Hoffman, hoof van die departement grondkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Hier verskaf hy meer besonderhede oor die korrekte prosedure:

Die aanbeveling van die Misstofvereniging van Suid Afrika (FFSA; 2007) vir die neem van verteenwoordigende grondmonsters vir bemestingsaanbevelings vir gewasse, soos mielies, koring, groente, vrugte, wingerd en neuter, behels die volgende stappe:

Stap 1:
Verdeel die land of boord in homogene eenhede in terme van grondtipe, helling, aspek en oppervlak-kenmerke. Die homogeniteit van eenhede kan geëvalueer word op die groei en produksie van vorige gewasse (bv. koring en mielies) of die groei en algemene gesondheid van bome of wingerdstokke, sowel as opeenvolging van horisonte, gronddiepte, kleur en tekstuur van die grond(e).

Die grootte van die eenhede moet groot genoeg wees vir praktiese gewasproduksie. In die geval van koring en mielies moet die eenhede nie groter as 50 ha wees nie, terwyl vir vrugte en wingerd kan die eenhede baie kleiner wees (so klein as 30 m by 30 m; ongeveer 0,1 ha). In die praktyk kan verskillende eenhede later saamgevoeg word, afhangende van die ontledingsresultate.

Stap 2:
Omlyn, merk en nommer afsonderlike homogene eenhede op ‘n kaart met ‘n geskikte skaalgrootte.

Stap 3:
Verwyder alle vreemde material, soos gras, boomsnoeisels, deklae en klippe vanaf die oppervlak waar ‘n grondmonster geneem moet word.

Stap 4:
Op elke homogene eenheid moet daar ten minste 20 sub-mosters wat eweredig oor die eenheid verspei is, geneem word met ‘n geskikte grondboor (bv. ‘n Beater- of Endeman-gondboor) in gevalle waar die grond nie té gruiserig of klipperig is nie. Indien wel, moet ‘n klein gaatjie met vertikale sye met ‘n graaf gespit word om die monsters te versamel.

Die 20 sub-monsters word op ‘n skoon stuk plastiek uitgegooi en alle kluite opgebreek. Die grootste klippe kan verwyder word nadat ‘n skatting van die volume klip gemaak is (noteer die syfer). Daarna word die material goed vermeng en in ’n dun lagie op die plastiek uitgesprei. Skep klein hoeveelhede grond egalig oor die lagie grond oor die hele diepte en plaas dit in ‘n skoon plastiek- of papiersak. ‘n Totale vogtige massa van ongeveer 1 kg word benodig vir chemiese and ander ontledings. Merk die sakkies met die toepaslike homogene eenheidnommer sowel as diepte van monsterneming.

Stap 5:
Die diepte van monsterneming hang af van die gewastipe.

Vir mielies, koring en groente is ‘n bogrondmonster op ‘n diepte van 0 – 20 cm of 0 – 30 cm afhangende van die bewerkingspraktyk gewoonlik voldoende. In uitsonderlike gevalle kan ‘n ondergrond monster op ‘n diepte van 20/30 – 50/60 cm ook geneem word. Omdat die variasie in ondergronde gewoonlik kleiner is as in bogronde, behoort 10 ondergrond sub-monsters per homogene eenheid voldoende te wees. Weens die groot ruimtelike variasie in chemiese samestelling weens die praktyk van kunsmis bandplasing gekombineer met beheerde spoorverkeer, moet hierdie belangrike faktor in aggeneem word tydens monsterneming en interpretasie van resultate.

Vir vrugte en wingerd word grondmonsters gewoonlik op ‘n drie-jaarlikse basis halfpad vanaf die stam tot by die werksry geneem. In meeste gevalle word twee monsterdieptes gebruik, nl. 0 – 20 cm en 20 -50/60 cm (hoe dieper die wortelstelsel hoe dieper moet die tweede monster wees). Omdat bemestingstowwe en kalk aan die oppervlak toegedien word, word drie dieptes by ouer, gevestigde boorde aanbeveel, nl. 0 – 5 cm, 5 – 20 cm en 20 – 50/60 cm. Die voorgestelde aantal sub-monsters per homogene eenheid is 20, 20 en 10 respektiewelik vir die drie monsterdieptes.

Verwysing:
SSA, 2007. Fertilizer Handbook. Sixth revised edition (2nd reprint 2009).

 


Kommentaar

Kommentaar (2) “Vermy kleitrap met grondmonsters

  1. Stef
    Stef

    Hi. Vir wie kan ek kontak vir die mees volledigste manier van grond monsters vir veranderlike toediening van kalk. gips en kunsmis. Stef 0829280006


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X