Grond Guru

Raad met witluise op broodbome

Vraag

Ek het skielik witluise op my broodbome. Die bome is oortrek en die blare het al reeds begin geel word. Hoe kan ek dit behandel?

Antwoord

Luise kom op baie plante voor, veral in windstil areas. Drie soorte luise kom hoofsaaklik op broodbome voor: plantluise, wolluise en dopluise. Hulle word deur miere versprei of deur middel van “kruipers” (bekend as onvolwasse luise) in die geval van dopluise. Kruipers is beweeglik, maar die volwasse luise is nie. Plantluise ontwikkel vlerke in seker lewenstadia, wat hulle instaat stel om maklik te versprei.

Broodboomblare is sag en sappig tydens die vorming- en ontwikkelingstadia, waarna hulle verhard.  As die blare nog sag is, is plantluise die grootste probleem, aangesien plantluise op die blaarsap kan voed as die blare nog sag is. Op hierdie groeistadium kan hulle baie skade aanrig en die blare misvorm. Sodra die blare egter verhard, is plantluise nie meer ‘n probleem nie, omdat hulle nie op die harde blaar kan voed nie. Op die hardeblaarstadium kan dopluise ‘n probleem word, aangesien hulle aan die blare heg en daar bly. Dopluise suig die sap uit die volwasse blaar en veroorsaak skade as hulle nie beheer word nie. Die blare kan vergeel en hulle fotosintetiese vermoë verloor. Die beste vorm van dopluisbeheer is deur middel van sistemiese insekdoders, of pesbeheer, wat die plantsap vir al drie luissoorte giftig maak.

Beheer

Verskeie opsies bestaan vir luisbeheer. Die eerste opsie (en ook een van die ouer produkte) is Oleum, wat ‘n mineraalolie is wat die luise versmoor. Oleum werk die beste op dopluise en sal nie plant- en wolluise beheer nie. Oleum moet dus net op volwasse broodboomblare (harde blare) gebruik word.

Die volgende beheermiddels verwys na al die neonicotinoiedes, wat hoogs sistemies is en uitstekend werk.  Enige van die volgende sal baie goed werk:

Imidaclopird (handelsname Kohinor of Confidor) as ‘n grondtoediening

Acetamiprid (handelsnaam Mospilan of Doublestar – beide Nulandisprodukte) as ‘n blaartoediening

Thiamethoxam (handelsnaam Actara) as ‘n grondtoediening

*Die antwoord is geskryf deur dr. André Cilliers, ontwikkelingsbestuurder by Nulandis


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X