Grond Guru

Hoekom word sitrusboom se blare geel?

Vraag

Ek het sitrusbome waarvan die blare geel word. Ek het organiese kunsmis aan die bome toegedoen maar dit het min gehelp. Is dit moontlik weens 'n ystertekort in die grond? Wat staan my te doen?

Antwoord

Voor ek die vraag probeer antwoord is daar ‘n paar vrae wat sou help om seker te maak ons het die regte antwoord. Bv. is die vergeling van die blare op ou blare, nuwe blare of beide? Is die vergeling egalig oor die blaar versprei?

Indien net dele van die blare geel is, is dit die tussen nerfse dele of die blaarpunte? Is daar enige nekrotiese (dooie) dele op die blare? Organiese kunsmis is toegedien, maar wat was die samestelling van die kunsmis, watter elemente teen watter hoeveelhede is toegedien? Is genoeg toegedien om die probleem op te los?

Daar is verskeie redes wat geel blare op sitrusbome kan veroorsaak: elementtekorte, vogstatus van die grond, siektes en faktore soos braktoestande in die grond of water en blaarouderdom.

Elementtekorte: Elementtekorte wat algemene vegeling van die hele blaar veroorsaak is gewoonlik Stikstof (N), Swael (S) of Yster (Fe).

Stikstoftekorte (N) toon algemene blaarvergeling van hoofsaaklik ouer blare. Stikstof is hoogs translokeerbaar, wat beteken dit kan maklik uit ouer blare na nuwer blare translokeer indien die behoefte ontstaan, vandaar dat die simptome meestal in die ouer blare gesien word. Toediening van ‘n stikstofbron op die grond as kunsmis kan die probleem maklik oplos.

Ystertekorte (Fe) toon algemene vergeling van die jonger blare met die blaarnerwe wat groen bly. Ystertekorte gaan gewoonlik gepaard met hoë pH gronde en kan reggestel word met ystertoedienings op die grond of pH regstelling van die grond. Waar bome geplant word in grond met oorblyfsels van bourommel kom ystertekorte algemeen voor.

Swaeltekorte toon soortgelyke simptome as stikstoftekorte maar kom nie algemeen voor nie. As dit wel voorkom sal jonger blare meer geaffekteer word. Toediening van swaelbevattende kunsmis op die grond kan die probleem oplos.

Ander elementtekorte kan ook vergeling van blare veroorsaak, maar nie vergeling van die hele blaar nie. Magnesiumtekorte (Mg) veroorsaak vergeling vanaf die punt van ouer blare met die deel rondom die blaarsteel wat groen bly. Magnesiumtekorte kan met ‘n Magnesium-blaarvoeding reggestel word.
Mangaantekorte (Mn) toon tussen nerfse vergeling van jong maar afgeharde blare, maar die meerderheid van die blaar bly groen, behalwe by erge tekorte. Mangaantekorte kan met ‘n mangaan-blaarvoeding reggestel word.

Vogstatus van die grond: Watertekorte gaan nie noodwendig vergeling van blare veroorsaak nie, maar mikro- en makro-elemente se opname, bv. stikstofopname, kan benadeel word wat uiteindelik geel blare tot gevolg kan hê. Te min water veroorsaak meestal min nuwe groei op die boom, of swak groei van lote wat wel ontwikkel. Te veel water druk die suurstof uit die grondprofiel en sonder suurstof kan wortels nie optimaal voedingstowwe opneem nie, wat weer geel blare kan veroorsaak. Die suurstoftekort in die grond sit ook bome onder stres wat hulle weer vatbaar maak vir wortelsiektes, soos Phytophthora wortel- en kraagvrot.

Siektes: Bome met Phytophthora wortelvrot sukkel om elemente effektief op te neem, a.g.v. verminderde wortelvolume en min nuwe, wit wortelpunte. Blare vergeel en lyk soortgelyk aan blare met stikstoftekorte, maar in erge gevalle van wortelvrot gaan dit gepaard met blaarval en takterugsterwing. Deur bome net minder water te gee, en seker te maak dat daar duidelike uitdroging voorkom in die grondprofiel, voor weer water toegedien word, kan die probleem in meeste gevalle opgelos word.

Brak: Erge braktoestande, veroorsaak deur soute in die grond of water, kan ook geel blare veroorsaak. Gewoonlik wys simptome as dooie blaarpunte en blare wat vergeel vanaf die blaarpunt tot by die blaarsteel. Bome in potte waar gedurige kunsmis toegedien word, sonder die uitwas van soute af en toe, wys gereeld hierdie simptome. Blaarval kan ook voorkom in erge gevalle.

Blaarouderdom: Sitrusblare se leeftyd is enigiets van 12 tot 24 maande (gemiddeld 17 maande), d.w.s. as sy leeftyd verby is, word stysel en stikstofreserwes terug tot binne die boom getranslokeer, blare word geel en val af. Dit is ‘n natuurlike proses, maar die hoeveelheid blare wat geel word en afval kan vererger word deur enige stressituasie soos elementtekorte, wortelsiektes, braktoestande en as die vogstatus van die grond nie optimaal is nie.

*Geantwoord deur dr. Stephan Verreynne, tegniese adviseur by Nulandis.

1 November 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X