Grond Guru

Hoe verlaag jy grond se pH?

Vraag

Hoe kan ek op die vinnigste moontlike manier grond se pH afbring van 8,8 na 7? Ek moet wortels in 15ha se sandleem grond met 'n pH van 8,8 plant. Ek moet reeds einde Januarie 2018 begin plant. Aartappels en uie en mielies moet ook geplant word in dieselfde grond. Dankie, Danie Marais uit Namibië

Antwoord

’n pH van 8.8 het sekere uitdagings tot gevolg. Die eerste visuele simptome wat op ’n plant waargeneem word wanneer die pH te hoog is, is die vergeling van blare as gevolg van swak opneembaarheid van yster, mangaan, koper en sink, almal elemente direk betrokke by fotosintetiese prosesse en ensiem-aktivering.

Die beginpunt sal wees om te bepaal watter element(e) die hoë pH veroorsaak. Die buffervermoë van kalsium, magnesium en natrium verskil en die laasgenoemde twee het ’n groter effek op pH as kalsium. Wanneer magnesium baie hoog is en die drywer van die hoë pH is, kan daar deur ’n bekalking met kalsiumkarbonaat eintlik ’n pH-verlaging bewerkstellig word. Deur net na pH te kyk kan die verkeerde afleiding gemaak word in terme van regstellings.

Om pH te verander moet sekere elemente met ander geruil word op die grondkompleks. Die grondkompleks is negatief gelaai en positief-gelaaide elemente absorbeer daaraan.

Wanneer die konsentrasie van sekere voedingstowwe in die grondwater verhoog word deur ’n toediening daarvan vind uitruiling op die grondkompleks plaas as gevolg van ’n konsentrasieverskil tussen geabsorbeerde ione en ione in oplossing. Wanneer te veel magnesium in verhouding tot kalsium in die grond voorkom kan daar deur bekalking ’n konsentrasieverhoging van kalsium in die grondwater plaasvind, waartydens dit met magnesium uitruil.

Die ione in oplossing kan dan saam met grondwater afwaarts beweeg deur die grondprofiel. Dieselfde beginsel en meganisme geld vir natriumloging. Opwaartse verstelling van grond pH word maklik bewerkstellig deur kalsiumtoedienings in die vorm van kalk te maak. Die verlaging van pH is egter moeiliker.

Die gebruik van swaelbevattende kunsmis soos ammoniumsulfaat kan met tyd die pH verlaag. Daar is n produk op die mark wat baie suksesvol gebruik word om pH te verlaag en natriumloging te verbeter. Die verbinding van elementêre swael met ’n reaktant maak die omskakeling baie vinniger en word die pH sodoende suksesvol verlaag. Dit word reeds suksesvol op grond met ’n hoë pH gebruik.

Dit bly egter belangrik om na die volledige grondontleding as geheel te kyk om te bepaal wat die hoë pH veroorsaak end aan die regte hoeveelheid van die regte produk toe te dien. Epos gerus die grondontleding(s) vir my vir ’n oordeelkundige voorstel van wat om te doen.

* Geskryf deur mnr. André Jonker (AJonker@Nulandis.com), grondkundige by Nulandis.

26 Oktober 2017


Aanhangsels

Kommentaar

Kommentaar (3) “Hoe verlaag jy grond se pH?

  1. Carel van Vuren
    Carel van Vuren

    Dit is nie duidelik na watter verbinding van elementere swael verwys word in die tweede laaste paragraaf van die antwoord nie en daar is ook nie ‘n produk naam nie.

    Verneem graag .

    Groete

  2. Francois
    Francois

    Volgens die Albrecht sisteem mag dit soms nodig wees om kalsitiese kalk of gips by te voeg om die pH te verlaag.

    Neal Kinsey vertel van gronde met pH van by die 9 wat eintlik arm in Ca maar hoog in Mg en Na is wat na tot 8 ton kalsitiese kalk per ha ‘n pH van 6,5 gehad het.

    Bg is natuurlik ‘n kontroversiële storie en mag kritiek uitlok.

  3. Dries Bloem
    Dries Bloem

    Sommige gronde, en besproeiingswater, bevat so baie kalk dat toediening, aan die grond, om pH te verlaag, onhaalbaar hoog is. Daar is laboratorium metodes om dit te bepaal. Soos om CaCO3 en MgCO3 persentasies. Indien dit baie hoog is, sal gewasse wat by sulke toestande aangepas is eerder geplant moet word. Dit is verregaande om te dink grond se pH kan verlaag word deur CaCO3 toe te dien.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X