Grond Guru

Hoe gemaak met smaaklose nektariens?

Vraag

Ek het ’n nektarienboom by my huis wat jaarliks baie vrugte dra. Ek snoei ook my bome elke jaar. My probleem is egter dat die vrugte smaakloos is. Ek het verlede seisoen baie van die klein vruggies gepluk sodat daar minder vrugte aan die boom moet wees met die hoop dat die vrugte groter sal wees. Dit was inderdaad die geval maar steeds was die vrugte smaakloos. My bome word met boorgat water natgemaak. Die boorgatwater is baie kalkerig. Die bome se blare is mooi donker groen en dit wil nie voorkom of hulle kunsmis kort nie. Wat staan my te doen?

Antwoord

’n Smaaklose nektarien is niks lekker nie! As dit ’n boom is wat van ’n pit gegroei is kan dit die kultivar wees wat nie eg is nie. As dit ‘n kultivar is wat ingeent is, behoort dit jou smaakvolle vrugte te gee. Oorbesproeiing kan lei tot smaaklose vrugte, so probeer om nie te veel water te gee nie, veral nader aan oestyd. Pas ook op vir reën voor oestyd, wat verder kan bydra tot ’n waterige smaak. Probeer die boonste 30cm van die grond klam hou deur water te gee vir kort periodes en een lang periode om die ondergrond aan te vul.

Ek stel ook voor dat jy ’n grond bedekking soos “mulch” rondom die bome gooi asook Mycorrhrizae (Biocult) gebruik. Met die “mulch” bo-op gaan jy minder water gee omdat hierdie bedekking die grond langer vogtig gaan hou. Die Mycorrhizae swam gaan jou bome help om die mikro-elemente op te neem.

Ek vermoed ook ’n bietjie verlies van kalium uit die grond met die kalkerige water wat jy gee. So ek beveel kalium aanvullings aan elke 3 weke tot jy kan oes. Begin met die kalium aanvullings so ‘n maand nadat die bome geblom het.

  • Geskryf deur Owen de Wet, tegniese adviseur van Nulandis.

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X