Grond Guru

Henbit in koringland

Vraag

Ek het 'n probleem met Henbit (Lamium amplexicaule) in koring wat ek vir weiding gebruik. Dit is veral in die wintermaande dat dit met die koring meeding. Watter onkruiddoder kan ek gebruik of enige ander metode? Ek het ook Rescue-grass wat in my pas geplante lusern sy verskynsel maak. Waarmee spuit ek dit? Dankie, Tony. (Barkly-Oos).

Antwoord

Ek reageer in twee dele, enersyds vir die koring-  en andersyds die lusern-geval:

1. Lamium amplexicaule (Afr. volksnaam: turksenael) in koring:

Dit blyk dat hierdie onkruid nie op etikette van onkruiddoders, wat in koring geregistreer is, verskyn nie. Dus is dit nie duidelik of dit nie deur die middels beheer word nie, en of dit bloot dalk nie in registrasieproewe aanwesig was nie. In ieder van voorgenoemde twee gevalle sal dit nie op etikette van onkruiddoders aangebring mag word nie, kragtens Wet 36 van 1947.

‘n Onkruiddoder, wat ‘n wye spektrum breeblaaronkruide na opkoms in koring kan beheer, is bromoksinil (voorbeeld van ‘n handelsnaam: Campatop 225 EC) — in mengsel met die onkruiddoder MCPA word die gesamentlike aksie van 2 verskillende meganismes van werking bereik, wat beheer meer doeltreffend behoort te maak — maar dan alleenlik indien turksenael gevoelig teenoor hierdie onkruiddoders sou wees. Let wel: die gebruik van MCPA sal beteken dat daar weiding-weerhouding van sewe dae sal wees, volgens etiketvoorskrif.

2. “Rescue”-gras in lusern:

Die wetenskaplike naam vir “Rescue”-gras is Bromus catharticus. Daar is verskeie onkruiddoders vir die beheer van gras-onkruide in lusern geregistreer — een voorbeeld is cycloxydim (voorbeeld van handelsnaam: Focus Ultra). Daar sal vasgestel moet word of “rescue”-gras wel op die etiket van hierdie produk as beheerbaar vermeld word — kry advies van ‘n plaaslike agentskap wat met onkruiddoders handel dryf.

‘n Algemene, belangrike oorweging by die gebruik van alle na opkoms toegediende onkruiddoders is die groeistadium van die onkruid ten tye van toediening van die onkruiddoder – hoe groter (ouer) ‘n onkruid, hoe moeiliker sal dit beheer word. Let Wel: Aanbevelings oor optimale tyd van toediening, relatief tot onkruid-groeistadium, verskyn op etikette van produkte.

Vir meer inligting, en spesifieke aanbevelings vir onkruiddoder-gebruik, kontak jou plaaslike agentskap(pe) wat handel dryf met onkruiddoders.

Inligting verskaf deur dr. Charlie Reinhardt, professor verbonde aan die Universiteit van Pretoria.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X