Grond Guru

Dien kalk korrek toe

Vraag

’n Doelgerigte program van kalktoediening is nodig om grondversuring teen te werk, die grond te stabiliseer en opbrengste op ’n ekonomies gesonde grondslag te plaas.

Antwoord

Gewasproduksie vind grootliks plaas op grond wat jaarliks bewerk word. Hierdie bewerkingsproses versteur die ewewig tussen grond, plant en klimaat, en het grondversuring tot gevolg. Dié proses word juis aangehelp deur die onoordeelkundige gebruik van stikstof, veral die gereduseerde vorm daarvan. Die versuringsproses kan suur grond oplewer wat feitlik geen plantegroei meer kan onderhou nie, sê dr. Gawie du Toit van Pretoria, ’n bekende grondkundige raadgewer.

Grond met ’n ligte tekstuur (soos sand- tot sandleemgrond) word besonder nadelig daardeur beïnvloed, hoewel grond met ’n swaarder tekstuur (soos leem- tot sandkleileemgrond) ook aan hierdie vernietigingsproses onderhewig is.

Die toediening van kalk vorm die grondslag vir gesonde gewasverbouing en dus ekonomies doeltreffende voedselproduksie. Daarom word daadwerklike aandag vereis om die grond (die voedselproduksiestelsel) te stabiliseer en op ’n ekonomies gesonde grondslag te plaas en te onderhou. Hiervoor word ’n doelgerigte en dinamiese program van kalktoediening vereis.

Du Toit vertel jare lange navorsingswerk, veral aan die Universiteit van Pretoria en onlangs ook op die Nooitgedacht-proefplaas by Ermelo, dui onteenseglik daarop dat die toediening van hoëgehalte-landboukalk van kardinale belang is vir suksesvolle gewasproduksie. Van die inligting in hierdie skrywe is afkomstig van navorsing deur mnr. Marius van Rensburg van Nooitgedacht.

Die neutralisering van oormatige grondsuurheid deur die regte hoeveelheid landboukalk toe te dien, maak dit vir die boer ook moontlik om met baie minder stikstof-, fosfaat- en kaliumkunsmis (NPK) klaar te kom as waarop die algemene riglyne dui. Dit lei noodwendig tot laerisiko-produksiemiddele, met meer ekonomies doeltreffende oeste en uiteindelik ’n finansieel gesonde landboubedryf.

Die mieliebedryf is die grootste gewasbedryf in Suid-Afrika. Dit vorm ook die grondslag van die vee- en verwante bedrywe, soos vir die produksie van vleis, melk, eiers, kaas en botter, wat dan ook meer ekonomies kan presteer. Uiteindelik kan voedselproduksie, wat vandag die mees strategiese “wapen” in lande se beheer is, waarskynlik tóg ekonomies en teen ’n hoë gehalte geskied. “Voedselsekerheid kan derhalwe só ’n permanente posisie in die land inneem,” sê Du Toit.

Suurheidsgraad van grond
Die suurheidsgraad van grond kan as gesond beskou word by ’n pH (water) van 6,5 of ’n pH (KCl) van 5,5. By hierdie waarde is die toeganklikheid van voedingselemente optimaal en die grondmikrobes funksioneer die beste.

Met gewone grondbewerking en matige stikstofbemesting is die versuringsproses in die grond minstens gelykstaande aan ’n jaarlikse toediening van 1 ton kalk per ha. Hierdie vereiste kan natuurlik groter word, veral met die onoordeelkundige en oormatige toediening van stikstof.

Die beskikbaarstelling van makro- en mikrovoedingselemente deur die grond neem af namate die grond se pH (water) na waardes onder 5 daal (of ’n pH (KCl) van onder 4). Swaar bemesting kan in ’n mate vir kalktoediening instaan, maar teen ’n prys. Die werklike probleem word nie opgelos nie; slegs die simptoom word behandel. Veral die molibdeenprobleem kan net met ’n verhoogde pH herstel word.

Namate die grond verder versuur, word ’n punt bereik waar selfs hierdie swaar toediening van misstowwe (veral met fosfaat) nie meer kan verhinder dat opbrengste daal nie.

Kalkgebruik vir grondversuring
Du Toit sê minstens 1 ton tot 2 ton kalk per ha  is jaarliks nodig om grondversuring wat in ’n seisoen deur mielieproduksie veroorsaak word, op droëlande teen te werk.

Vir die 2,5 miljoen tot 3 miljoen ha  grond onder mielieproduksie in Suid-Afrika sal minstens 3 miljoen ton kalk benodig word om die pH op ’n konstante vlak te hou. Dan word nog nie eens voorsiening gemaak nie vir die omvangryke gevalle waar die pH kritiek laag is en heelwat meer kalk nodig is. Voeg nog al die ander gewasse, behalwe mielies, by wat ook kalk benodig, dan is dit duidelik dat aansienlike hoeveelhede kalk benodig word; waarskynlik minstens 5 miljoen ton per jaar.

Volgens statistiek van die Misstofvereniging van Suid-Afrika word kwalik meer as 1 miljoen ton kalk per jaar vir alle gewasse in die land gebruik; dus is daar ’n geweldige agterstand. “Derhalwe sal ernstige aandag aan hierdie uiters belangrike aspek gegee moet word indien ons gewasproduksie in die algemeen, en mielieproduksie in die besonder, op ’n gesonde, volhoubare vlak in die toekoms wil hou,” sê Du Toit.

Die toediening van goeie gehalte landboukalk om hierdie ongewenste toestand reg te stel, vorm dus die grondslag van suksesvolle mielie- en algemene gewasproduksie. Pleks van geld aan ’n oormaat kunsmis te bestee, sal dit die boer oor en oor loon om eerder geld in kalk te belê. Die resultate spreek vanself. ’n Groter belegging in kalk kan dan lei tot ’n meer realistiese toediening van misstof, met ’n beter oesprestasie en dus groter winsmarge.

Kontakbesonderhede: Dr. Gawie du Toit (grondkundige), Pretoria  sel: 083 630 1330 ;  e-pos: gmdt@lantic.net

Inligting uit Landbouweekblad, 5 Augustus 2011


Kommentaar

Kommentaar (10) “Dien kalk korrek toe

  1. Deon Cilliers
    Deon Cilliers

    Wat is die versatile tussen kalsitiese kalk en dolamietiese kalk

  2. Cilie Vos
    Cilie Vos

    Ek wil graag weet: Ek het ‘n klein tuintjie – turfgrond. Plante lyk nie gesond nie, Eendag wou ek iets plant en kom toe op ‘n wortel af wat heeltemal besmet is oortrek met wit kolle weet nie wat dit is nie. Toe kom ek tot die gevoldtrekking die grond is siek. Uit my kinderdae het ek onthou dat my pa wat ‘n gesoute tuinier was altyd kalk in die grond ingewerk het. Ek wil so graag hê my tuintjie moet mooi lyk maar tevergeefs kry ek dit nie reg nie. Sal dit baie waardeer as ek die regte raad kan kry.
    Groete

    • Liezl Vercueil
      Liezl Vercueil

      Hi Cilie,
      Dr.Eduard Hoffman skryf:
      Die sleutel tot sukses in tuinmaak is dat eerstens die pH van die grond reg moet wees. As die pH gemeet in water tussen 5.5 en 6,5 is, sal voldoende plantvoedingstowwe beskikbaar wees vir die plant om opgeneem te word. Indien dit buite die spektrum val, is daar verskeie voedingstowwe nie beskikbaar nie en kan sommige selfs in toksiese hoeveelhede teenwoordig wees. `n Grond kan nie siek word nie maar wel tekorte of toksiese konsentrasies van elemente bevat. Die vertrekpunt is dus om die grond te laat ontleed voordat enige verdere aksies beplan word. Dit is nou net hier waar dit “te duur” vir produsente raak. `n Grondontleding kos tussen R250 tot R600, afhangend van wat alles in die grond bepaal moet word. Dit is nie eers die prys van een sakkie kunsmis nie. `n Volledige ontleding is altyd die beste waarde vir geld.

      Trek die monsters as volg: Neem die monster deur eers dooie plantmateriaal op die oppervlakte weg te krap, spit dan net spitdiepte met `n graaf en neem slegs die helfte van die volume, parallel met die lengte van die graaf. Met ander woorde ons gebruik die een helfte van die uitgespitte grond. Trek die monsters verspreid oor die hele oppervlakte waar u gaan tuin maak. Voeg vyf van die monsters bymekaar, meng in `n skoon emmer en trek daarvan ongeveer so driehonderd gram, of vier koppies vol grond. Droog dit in die son en plaas in `n sterk plastiese sakkie. Pos of stuur dit met `n koerier na u naaste geakkrediteerde grondontledingslaboratorium. Soek op die internet vir u naaste grondontledingslaboratorium. Moet asseblief nie die monsters in `n ou kunsmissak of swembadchloorhouer meng nie, dit gaan die resultate beduiwel. Vra die laboratorium om `n aanbeveling te maak vir wat u daar gaan plant. Alhoewel dit ekstra kos, is dit die moeite werd. `n Duimreël vir bekalking as u nie enige verdere moeite wil doen nie, is om `n koppie landboukalk per vierkante meter uit te strooi en goed met die grond te vermeng. Meng dit in deur die kalk op die oppervlakte uit te strooi en die grond tweemaal, vanuit verskillende rigtings, om te spit.

      Lekker tuinmaak en onthou om kunsmis ook toe te dien.

      3 April 2017

  3. Barnie Lottering
    Barnie Lottering

    Wil graag weet wat landbou leem is, dit kan blykbaar gebruik word om miere en ander grond insekte te verdryf? Was by ons plaaslike kooperasie gaan navraag doen , maar hul kon my nie help nie. ons het n geweldige probleem met klein miertjies sowel as n klein tipe rysmier wat neste onder die geboue gemaak het. wil graag iets natuulik gebruik om van hul ontslae te raak.
    is daar iets wat aanbeveel kan word. dankie Barnie

    • Jan Bezuidenhout

      Die idee dat landboukalk (leem) miere gaan verdryf, is vergesog en ongeldig. Dit gaan beslis nie die miere of termiete die pad laat vat nie. Vir miere is daar deesdae verskeie lokaasprodukte wat gebruik kan word om die bevolkings onder beheer te bring soos Bayer se Maxforce Ant Granules (L5658, bevat hidrametielnoon, registrasiehouer is Bayer), Coopers se Ultrakill Ant Force (L8653, bevat hidramtielnoon, Starplex is registrasiehouer), Prteck se Nip-It Ant Control (L8579, bevat hidrametielnoon, Prinswer Manufacturing is registrasiehouer) en Kombat se Ant Nest Granules (L8874, bevat hidrametilenoon, Kombat is registrasiehouer). Vir termiete wat onder geboue inwerk is die beste om die behandeling van die hele gebou deur ‘n geregistreerde plaagbeheeroperateur te laat doen omdat dit spesialis-toerusting vereis. Hulle gebruik gewoonlik plaagdoders wat imidaclopried of firponiel bevat.
      * Geskryf deur dr. Gerhard H Verdoorn: Direkteur: Griffon Gif-inligtingsentrum
      18 April 2017

  4. Corné Gelderblom
    Corné Gelderblom

    Goeie dag
    Ek doen saad op sandgrond en die PH is redelik laag. Kan ek al in SA pellet kalk kry wat sal blus en meng as ek dit oorhoofs natmaak en wat word dit genoem as ek daarvoor wil gaan soek?
    Dankie

    • Jan Bezuidenhout

      Dr. Eduard Hoffman, Voorsitter: Grondkunde, Universiteit van Stellenbosch, antwoord:
      Kontak die naaste kalkverskaffer en vra vir gebluste kalk. Daar is verskaffers wat kalsitiese of dolomitiese kalk in kalkvorm verkoop, maar kan weens etiese redes nie vir u name verskaf nie. Die beste is om by u naaste kalkhandelaar aan te klop aangesien die vervoer van kalk vanaf die bron tot by u die grootste kostekomponent is.

  5. Peet vd Merwe
    Peet vd Merwe

    NaGrondGuru:
    Goeiedag
    Ek het by my plaaslike koöperasie navraag gedoen vir landboukalk. Hulle het egter net voerkraalkalk en sê dit kan ook in die tuin gebruik word. Is daar ‘n verskil?

    • Jan Bezuidenhout

      * Dr. Eduard Hoffman, voorsitter van die departement grondkunde, Universiteit van Stellenbosch, antwoord:
      Voerkalk en Kalsitiese kalk het dieselfde samestelling – voerkalk is net baie meer suiwer en het ook ʼn hoër Ca-inhoud. Voerkalk word spesifiek vir die betrokke diere waarvoor dit gebruik word, soos hoenders en beeste, tot ʼn spesifieke fynheid gemaal. Kalsitiese of landboukalk word fyner gemaal om vinniger in die grond te reageer. Die growwe kalk los baie stadig in grond op en het dus ʼn laer reaktiwiteit. Die reaksie op die grond se pH is vinniger ná ʼn toediening van fynkalk as growwe kalk. Growwer kalk neem self etlike jare om in die grond in oplossing te gaan.

      Die beste is maar om die regte tipe kalk vir die spesifieke aanwending waarvoor dit ontwikkel is, te gebruik.

      28 Augustus 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X