Grond Guru

Die ABC van uintjies en bestryding

Vraag

Dui die teenwoordigheid van oormaat uintjies op ʼn spesifieke voedingstekort in die grond, wat hopelik reggestel kan word?

Antwoord

Ongelukkig is die vraag baie eenvoudiger as die antwoord, uintjiebeheer is ‘n baie komplekse probleem en kan slegs goed beheer word deur ‘n geïntegreerde benadering te volg.

Die beheer van Geeluintjies in gewasse (‘n Geïntegreerde benadering)

Geel uintjie (Cyperus esculentus L.) is ‘n aggresiewe meerjarige plant. Uintjies is ‘n probleem in die meeste gewasse.

Uintjies kom op alle gronde voor. Al kom die onkruid wydverspreid voor kan dit beheer word deur ‘n geïntegreerde program te volg, dit sluit in: Gewaskeuse, bewerkings, bemestings en chemiese beheer.

Uintjies maak deel uit van die monokotiel-familie en word verkeerdelik gesien as ‘n grasspesie as gevolg van hulle dun grasvormige blare. Uintjies kan maklik uitgeken word deur sy driehoekige soliede stam wat geen nodes het nie. Die blomme en rhizome is uniek, uintjies kry sy oorsprong uit ‘n bolletjie wat net onder die grondoppervlak teenwoordig is. Uintjies het ‘n uitgebreide netwerk van wortels en bolletjies waar energie gestoor word vir oorlewing. Dit stel die uintjieplant in staat om te oorwinter en die volgende lente nuwe lote te maak. Roesbruin bolletjies vorm op die punte van die rhizome en is verspreid in die boonste 15cm van die grond.

Geel uintjies plant hoofsaaklik voort deur die bolletjies, een plant kan honderde bolletjies vorm in een seisoen. Die bolletjies breek uit rus in die winter en ontkiem in die lente. Uintjies kan miljoene sade per hektaar produseer, gelukkig is die saad se groeikragtigheid laag en wissel tussen 5% tot 40%. Die saailinge se oorlewing hang af van gunstige omgewingstoestande, saailinge vanaf saad sterf gewoonlik af, as gevolg van klein sade en swak groeikragtigheid.

Uintjies is ‘n groot probleem op meeste gronde maar gelukkig kan mielies en sojas uintjies uitkompeteer en oorskadu deur die regte bestuur toe te pas. Daar moet verskillende beheermeganismes toegepas word om uintjies effektief te beheer. ’n Geïntegreerde program wat ‘n kombinasie is van: Gewaskeuse, voorkoming, chemie en meganiese bewerkingspraktyke moet gevolg word.

Voorkoming:
Implemente moet skoongemaak word voordat daar van ‘n besmette land na ‘n skoon land oorgeskakel word. Mis kan ook ‘n bron van besmetting wees, indien diere op besmette lande gevoed het.

Kolle uintjies kan ook uitgespuit word met chemiese middels, bewerking in swaar besmette areas moet ook vermy word om te voorkom dat die plantmateriaal versprei word na die onbesmette dele in die land.

Beheer deur goeie boerderypraktyke:
Uintjies kan beheer word deur gewaskompetisie, goeie boerdery praktyke sal gesonde sterkgroeiende gewasse tot gevolg hê wat uintjies kan uitkompeteer. Die volgende boerdery praktyke moet gevolg word:
* Kalk en kunsmisaanbevelings moet gevolg word.
* Plant hoë-opbrengs kultivars wat aangepas is by die grond, klimaat en veldtoestande.
* Probeer om vroeër te plant (as vog en grondtemperature dit toelaat) gebruik nouer rye en hoë plantdigtheid indien moontlik.
* Monitor die onkruiddruk en beheer indien nodig.
* Maak gebruik van wisselbou wat die beheer van uintjies vergemaklik.

Meganiese beheer:
Meganiese beheer sluit ploeg in waar die uintjies diep begrawe word of ‘n skoffel-aksie waar die uintjies bo op die oppervlak neersit word waar die son die plante kan uitdroog en dood. Die regte tyd vir meganiese aksies moet gekies word en kan in kombinasie met chemiese beheer toegepas word.

Chemiese beheer:
Onkruiddoders speel ʼn kardinale rol in die beheer van uintjies, maar in kombinasie met gewaskeuse , meganiese metodes en voorkomende metodes.

Indien onkruiddoders verkeerdelik gebruik word, kan dit die voorkoms van uintjies verhoog. ‘n Voorbeeld is waar breëblare en grasse op die verkeerde stadium doodgespuit word verlaag dit die kompetisie en kan die uintjies ongestoord groei en die uintjie populasie verhoog.

Basiese onkruiddoder beginsels geld ook vir uintjie beheer.
* Tydige onkruidbeheer: Onkruiddoders word op die blare (na-opkoms van onkruid) of op die grond toegedien en die doeltreffendste resultate word verkry indien die toestande vir onkruiddoder absorpsie- en vervoer-optimaal is.
Moet nooit onkruiddoder toedien indien die gewas of onkruide in enige stremmingstoestand (ekstreme temperature, droogte of versuiptoestande) verkeer nie.
* Effektiewe onkruidbeheer in voorafgaande gewasse:
Dit is noodsaaklik om onkruidsaadproduksie in die voorafgaande gewasse te voorkom. Verlaagde onkruiddruk in voorafgaande gewasse, met gevolglike min onkruidsade in die grond-saadbank, verhoog suksesvolle onkruidbeheer.
* Effektiewe onkruiddodertoediening is noodsaaklik. Gebruik goed toegeruste spuittoerusting vir suksesvolle onkruidbeheer. Maak seker u gebruik die regte tipe spuitpunte, spuitvolumes ens.
Lees onkruiddoder-etikette deeglik en volg voorskrifte stiptelik.

* Bemesting toediening moet aangepas word
Bandplasing van bemesting bring mee dat plantvoeding maklik deur die gewas opgeneem kan word en bevoordeel dus die gewas tydens onkruid-gewas kompetisie. Die breedwerpige plasing van kunsmis kan uintjies bevoordeel.
* Wisselbou. Wisselbou help om uintjies te beheer.
Sonneblom is byvoorbeeld uitstekend vir die beheer van uintjies.
* Gebruik skoon, gesertifseerde saad met hoë groeikragtigheid, wat goed aangepas is in die omgewing, groeikragtige gewas saad het die voordeel dat dit vinniger groei en die uintjies kan uitkompeteer.

Voor-plant oppervlak toediening van onkruiddoder.
Tot en met 14 dae voor plant kan uintjies van verskillende groottes teenwoordig wees in die saadbed. Vir die beheer van hierdie uintjies moet onkruiddoders met ‘n blaarwerking toegedien word om vroeg-somer en laat winter onkruide te verwyder.

Onkruiddoder toediening tydens plant.
Grondtoegediende (voor-opkoms) onkruiddoders of blaartoegediende onkruiddoders of nie-selektiewe onkruiddoders kan toegedien word gedurende plant of net ná plant, maar voor die opkoms van die gewas. Grondtoegediende onkruiddoders met ‘n lang residuele werking kan die opkoms van nuwe onkruidsaailinge teenwerk.

Na-opkoms toediening van onkruiddoder.
Na die opkoms van die gewas, het die produsent steeds verskeie keuses t.o.v. onkruiddodertoediening. ‘n Verskeidenheid selektiewe doders, beide blaartoegediende en grondtoegediende doders is beskikbaar om onkruide ná opkoms van die gewas te beheer.

Om optimale onkruidbeheer en minimumgewasskade te verseker moet alle onkruiddoders toegedien word volgens die voorgeskrewe dosisse en tydens die regte ontwikkelingstadium van beide onkruid en gewas.

Mielies:
Voor-opkomsmiddels
Metolachlor, acetochlor, alachlor, (Chloracetamide groep)
EPTC (Thiocarbamite) (Reg.nr 8203 Wet 36 van 1947)

Na-opkomsmiddels
Atrazine (Reg.no. L6431, Wet 36 van 1947))
Basagran  (Reg.nr. L2916, Wet 36 van 1947)
Servian (halosulfuran) (Reg.nr L5627 Wet 36 van 1947)

Soja:
Basagran (bendioxide) (Reg.nr. L2916, Wet 36 van 1947)
Classic (chlorimuron) (Reg.nr L4164 Wet 36 van 1947)

Nie-selektief
Roundup (glifosaat) (Reg.nr L6790 Wet 36 van 1947)

Bemesting om suur gronde op te hef
Uintjies, wat voorheen beheer is deur meganiese bewerking, benodig spesiale behandeling in geenbewerkingstelsels. Die voortdurende gebruik van onkruiddoders met dieselfde aktiewebestanddele bring onkruidweerstandbiedendheid teen onkruiddoders teweeg. Dit beklemtoon weereens die belang van wisselbou. Weens grondsuurheid groei uintjies meestal beter as die gewasse wat verbou word. Boere moet gereeld kalk toedien op die suur grond. Koring groei egter dikwels in die eerste jaar ná die toediening daarvan baie swak, hoofsaaklik omdat vryelik beskikbare kalk plante se opname van sink benadeel. Om hoë vlakke stikstof in die grond te kry, word ureum gewoonlik as misstof gebruik, veral by mielies. Die probleem is dat hoë ureumtoedienings baie waterstof tydens nitrifisering vrystel. Die waterstof laat kalsium uit die grond loog, wat veroorsaak dat die grond vinnig versuur. ’n Gebrek aan kalsium is die belangrikste rede waarom plante in suur grond deur aluminium vergiftig word. Uintjies het die vermoë om in hierdie relatief swak toestande nog steeds welig te groei.

Gips is ’n goeie kalsiumbron vir kleigrond of grond met ’n hoë pH-waarde, maar nie vir sandgrond nie. Gips sal sandgrond erg laat versuur, soos by aartappelverbouing. Sandgrond sukkel om kalsium uit kalsitiese of dolomitiese kalk aan plante beskikbaar te maak en te veel kalk word maklik toegedien. Die kalsiumgedeelte van kalk moet aan klei- of organiese deeltjies bind voordat uitruilbare kalsium vir plante beskikbaar sal wees.

Die grond se pH styg as kalk toegedien word, maar dit beteken nie plante kan nou voldoende kalsium opneem nie. Kalk kan lank ná toediening steeds in ’n vrye vorm in die grond voorkom. Die oormatige toediening van kalk op sandgrond moet tot elke prys vermy word. Die ergste soutverbrakking kom voor by slikdraende grond in die vorige vloedvlaktes van die Vaal- en Oranjerivier. Kleierige grond kan ook weens swak dreinering verbrak. Wateroplosbare soute hoop dan in die bogrond op. Gewoonlik is te veel natriumsoute die oorsaak, maar te veel kalium- of magnesiumsoute in die grond kan ook die plant verhinder om genoeg kalsium op te neem.

Stikstof vir beter sinkopname
Benewens grond se bulk pH, soos dit in Engels bekend staan, kan rhizosfeer-pH ook plante se groei beïnvloed (die rhizosfeer is die omgewing rondom die plantwortel). Plante kan net sink uit die grond opneem as die rhizosfeer-pH laag genoeg is. Ammoniumsulfaat is die beste stikstofbron om ’n suurreaksie in die rhizosfeer te skep en alle vorms van sink aan die plant beskikbaar te stel. Terwyl die opname van ammoniumstikstof die rhizosfeer-pH laat daal, sal nitraatstikstof geen uitwerking op die rhizosfeer-pH uitoefen nie. ’n Sinktekort by plante kom dus algemeen voor as nitraat of ’n stikstof, soos ureum, wat vinnig nitrifiseer, toegedien word.
In gebiede met ’n hoë reënval word mielies dus uitermatig hoog bemes. Hoë stikstof bemesting gaan egter gepaard met vinniger versuring van die grond. Daarom moet kalk gereeld op die grond toegedien word. Grondkundiges waarsku sommige boere benadeel hulself deur ureum voor planttyd met tandbewerkings diep in die grond te plaas. Dit is nie net ondoeltreffende bemesting nie, maar ook die belangrikste en vinnigste oorsaak van grondversuring.

Dui die teenwoordigheid van oormaat uintjies op ʼn spesifieke voedingstekort in die grond, wat hopelik reggestel kan word?

Die kort antwoord :
* Uintjies kan beter beheer word op gronde met hoë ph vlakke.
* Die gevolgtrekking is dat enige kunsmis wat toegedien word en die pH verlaag die voorkoms van uintjies sal verhoog en die beheer sal bemoeilik.
* Kalsium sal help met die neutralisasie van pH en sal dus gesien word as ‘n moontlike voedingstof om die voorkoms van uintjies te verlaag.
* Stikstof moet vir die gewas en nie die uintjies bemes word nie, gebruik stikstofbronne wat minder versurend is.

* Geskryf deur Alwyn Vorster, tegniese adviseur, Nulandis.
E-pos: AVorster@Nulandis.com Selfoon: 0823015756

13 Junie 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X