Grond Guru

Deklaagbewerking is beste vir vog

Vraag

Watter bewerkingsmetode is die mees geskikste vir landerye met ’n watertafel?

Antwoord

Deklaagbewerking is die beste bewerkingspraktyk vir graanboere wat ’n watertafel het omdat dit die beste meehelp om reënwater op te gaar, eerder as konvensionele en geenbewerking. ’n Grondkundige, dr. Eduard Hoffman, voorsitter van die departement grondkunde aan die Universiteit van Stellenbosch het die drie metodes met mekaar vergelyk.

Boere moet altyd probeer om die beskikbare grondwater so lank moontlik te laat hou, want hulle weet nooit wanneer dit weer gaan reën nie. Ook navorsers is altyd besig om verbouingstegnieke te beoordeel met die oog op die bepaling van die volhoubaarste tegnieke.

Hoffman se navorsingsresultate is deel van ’n navorsingsprojek wat deur die Waternavorsingskommissie betaal is. Dit gaan oor die aanpassing van boerderymetodes in die westelike boerderystreke om soveel reënwater moontlik in die grond op te gaar en vir volhoubare gewasverbouing beskikbaar te hou. Hy het navorsing gedoen op onder andere twee plase in die distrikte Hoopstad en Petrusburg, albei streke wat 400 mm tot 500 mm reën per jaar kry.

Hy het drie bewerkingsmetodes vir koring (enkelgewasboerdery) oor ’n tydperk van vier jaar geëvalueer, naamlik skoonbewerking (konvensionele ploegbewerking), deklaagbewerking (rip-op-ry) en geenbewerking. Hy wou bepaal hoeveel reënwater elke bewerkingsmetode tydens die braaktydperk opgaar.

Oesreste op bogrond gelos
Die grond in Hoopstad was Clovelly en dié in Petrusburg Hutton, in albei gevalle sandgrond met 5% tot 8% klei in die boonste 300 mm, wat tot 20% op 3 m toeneem. Die grond by Hoopstad het ’n keerlaag op 3 m, maar dié by Petrusburg nie. Die skoonbewerking het bestaan uit ploeg, meganiese onkruidbestryding en twee bewaringsbewerkings om soveel oesreste moontlik op die grond te los om winderosie en verdamping te beperk en die indringing van reënwater te bevorder.

Omdat sandgrond maklik verdig, is die grond voor planttyd met ’n skeurploeg op die ry losgemaak. Die land waarop vir die proef deklaagbewerking toegepas is, is ná die vorige oes geploeg en die onkruid is met ’n platlemwerktuig vernietig. Net voor planttyd het hy die grond op die rye diep met ’n swaar skeurploeg bewerk.

Die landerye is geplant nadat die watertafel tot 600 mm gestyg het. Die saad is met ’n presisieplanter in vier rye van 450 mm tussen die spore geplant. Kunsmis is by alle bewerkings sowat 150 mm tot 200 mm skuins onder die saad met behulp van ’n pen geplaas. Vir geenbewerking was daar uiteraard geen grondbewerking nie.

Onkruid is chemies voorkom met ’n spuit wat op ’n bakkie gemonteer is.

Hoffman het drie verskillende tydperke gebruik om reënwater in die grond op te gaar, naamlik somer (vir vyf maande tussen die insameling van die vorige winteroes totdat die volgende wintergewas geplant is), winter (vir vyf maande tussen die insameling van die vorige someroes en die plant van die volgende somergewas) en ’n langer tydperk van tien maande (bestaande uit winter, braak, somer, braak en winter). Algeheel het deklaagbewerking die beste gevaar met die opgaar van reënwater.

Meeste water opgegaar
Die Clovelly-grond in Hoopstad het gedurende die somertydperk 1 050 mm reën gekry. Die skoonbewerking het toe die meeste water opgegaar (219 mm), gevolg deur geenbewerking (204 mm) en deklaagbewerking (196 mm). Gedurende die winter-opgaartydperk het die plaas 497 mm reën gehad. Die deklaagbewerking (64 mm) het die meeste reënwater opgegaar, met skoonbewerking (26 mm) tweede en geenbewerking (8 mm) derde.

Tydens die lang opgaarperiode (928 mm reën) was deklaagbewerking weer eerste (85 mm), gevolg deur geenbewerking (78 mm) en skoonbewerking (64 mm). Deur verdamping en dreinering in ag te neem, het Hoffman bepaal dat die skoonbewerking se vermoë om reënwater tydens die somertydperk op te gaar, die beste was met 21% en deklaag- en geenbewerking saam naasbeste met 18%. In die wintertydperk was deklaagbewerking se opgaarvermoë (17%) die beste, gevolg deur skoonbewerking met 7% en geenbewerking met 2%.

Gedurende die lang opgaartydperk was deklaagbewerking ook die doeltreffendste met 10%, teenoor geenbewerking se 8% en skoonbewerking se 6%. Op die Huttongrond in die omgewing van Petrusburg het dit gedurende die someropgaartydperk 1 136 mm gereën. Met skoonbewerking is die meeste reënwater opgeberg (357 mm), gevolg deur deklaagbewerking (132 mm) en geen-bewerking (124 mm). Tydens die winteropgaartydperk (497 mm reën) was deklaagbewerking eerste (159 mm), geenbewerking tweede (120 mm) en skoonbewerking derde (115 mm).

Gedurende die lang opgaartydperk (toe 928 mm reën geval het) het skoonbewerking weer die beste gevaar met 208 mm opgegaarde water, terwyl deklaagbewerking 192 mm en geenbewerking 163 mm opgegaar het. Tydens die somertydperk, met verdamping en dreinering in ag geneem, was skoonbewerking se vermoë om reënwater op te berg, die hoogste (31%), gevolg deur deklaagbewerking (28%) en geenbewerking (27%). Tydens die winteropgaartydperk was dek-laagbewerking die beste (32%), gevolg deur geenbewerking (27%) en skoonbewerking (25%). Tydens die lang opgaartydperk het skoonbewerking die beste gevaar (22%), gevolg deur deklaagbewerking (21%) en geenbewerking (18%).

Bogemiddelde oeste behaal
Hoffman sê die reënwater-gebruiksdoeltreffendheid is uiteraard deur die hoeveelheid en verspreiding van die reënval bepaal. Hoewel dit minder as gewoonlik gereën het, was die oeste bogemiddeld vir die betrokke distrikte, danksy die wyse waarop die verbouingsmetodes reënwater opgegaar het.

Danksy die keerlaag by Hoopstad was hierdie oeste drie keer soveel as op die grond sonder ’n keerlaag. Hy het bereken die water bokant die keerlaag het in sowat 70% van die gewasse se behoeftes voorsien.

Op die grond sonder ’n keerlaag was die gemiddelde reënwater-gebruiksdoeltreffendheid vir ál die bewerkingspraktyke 1,5 kg koring per hektaar per millimeter water teenoor 4 kg op die watertafelgrond. Skoonbewerking se reënwater-gebruiksdoeltreffendheid in die proef op die watertafelgrond was 4,5 kg, aansienlik hoër as deklaagbewerking met 4 kg en geenbewerking met 3,6 kg. Op die ander grond sonder ’n watertafel was daar nie noemenswaardige verskille tussen die verskillende verbouingsmetodes nie.

Navrae: Dr. Eduard Hoffman, department grondkunde, Universiteit Stellenbosch. Sy e-pos-adres is ehoffman@sun.ac.za.

* Geskryf deur Charl van Rooyen in LBW van 4 Maart 2005.


Kommentaar

Kommentaar (5) “Deklaagbewerking is beste vir vog

  1. Argentyn

    Die artikel is baie interessant maar dit is nie vir my duidelik wat die verskil is tussen die Deklaag en Geenbewerking metodes wat vergelyk word nie.

    Het die “Deklaag metode” meer deklaag as die Geenbewerking metode? Indien wel, hoekom?

  2. Dr JE Hoffman
    Dr JE Hoffman

    Met die deklaagpraktyk word onkruide meganies beheer sodanig dat die deklaag nog steeds op die oppervlakte bly. Verskeie tipes implemente is hiervoor beskikbaar. Die geenbewerking versteur slegs die grond tydens plant waar kunsmis met n pen voor die plantereenheid geplaas word. Onkruidbeheer word chemies in die braakseisoen en ook tydens die groeiseisoen gedoen.

  3. Argentyn

    Beste Dr. Hoffman,

    Dankie vir die verduideliking. Ek wou net seker wees dat ek reg verstaan.

    Ek kan nie sê dat ek die deklaagmetode ken nie maar sal bietjie daaroor nalees.

    Het u al van die INTA (Argentynse Landbounavorsingsinstituut) Geenbewerking proewe gehoor wat tans in Suid-Afrika gedoen word? Die metode wat hulle daar gebruik is eerder ‘n coulter as ‘n tand sodat die grond nog minder versteur word.

  4. Dr Eduard Hoffman
    Dr Eduard Hoffman

    Onthou die gronde in Argentinië waar deklaag toegepas word ? baie hoër kleinen veral slikinhoud het as gronde in RSA waar dit toegepas word. Die skottel gaan veral nie in die Wes Vrystaat werk nie

  5. Dr. Sybrand Engelbrecht
    Dr. Sybrand Engelbrecht

    Goeiedag Eduard.

    Die bewerkings systeme op die watertafelgronde waar grond totaal versteur word, monokultuur gewas rotasie gevolg word en organiese bedekking maar karig is, is bly ‘n kommer vir my as bewarings landbou ondersteuner. Met die stelsel wat volgens kundiges die grond laat degradeer, behaal die boere net beter en beter opbrengste en grondpryse in die gebied van > R 70,000 per hektaar word behaal. Alle no-till probeerslae was tot nou ‘n mislukking en veral in die afgelope droe jaar. Verblydend was dit om waar te neem in die proewe van Dr Andre Nel (LNR, Potchefstroom) dat as regte wisselbou saam met geen bewerking op die bleek sandgronde gevolg word, word dieselfde resultate met no-till behaal as met rip op die ry (tipe deklaag).


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X