Finansies

Kleinskaalse boerdery-onderneming

Vraag

Ek verstaan dokter kry baie sulke vrae en ek het al gaan kyk na die antwoorde op die webblad maar kon nog nie kry waarna ek opsoek is nie. Ek en my pa het saam geboer tot dusver en hy het nou n tweede plaas bekom en ek trek nou na die nuwe grond toe. Ek gaan dan daar boer maar dit is steeds sy grond en dus maak ek soos hy sê ens. Ons het n goeie verhouding en ek het geen probleem om te werk vir hom nie ek wil net graag begin bou aan my eie boerdery ook. Ek het wel n stuk van die nuwe plaas tot my beskikking wat ek kan gebruik teen my eie onkoste om my eie onderneming te begin bedryf. Ek gaan nie veel meer as 2 hektaar kan verbou nie oor die tyd aspek verbonde daaraan. In dokter se opinie wat is die beste gewas om te plant of beste manier om die grond te benut? Daar is genoeg water vir besproeing. Ek het al gedink om vrugte en neutbome te kweek vir die omliggende boere. Sal dit winsgewend wees? Ek is op soek na die mees intensiewe manier om inkomste te maak vanaf die grond om te kan terugploeg in my boerdery in. Die boerdery wat ek namens my pa gaan bedryf is meestal groente soos murg pampoentjies en kool ens en daar is 20 hektaar peka neute reeds gevestig. Die plaas is gelee in Barberton, Mpumalanga. Kan dokter my asb raad verskaf of verwys na iemand met wie ek bietjie meer hieroor kan gesels asb?

Antwoord

Tiaan, ek het ongelukkig geen inligting om te kan oordeel of jou neutprojek winsgewend gaan wees of nie. Ek wil wel iets heeltemal anders in jou midde laat. Ek verwys jou na ‘n artikel van my in Landbouweekblad van 28 Oktober 2016 getiteld “Is die eenmansaak se dae getel?”. As daar enigsins ‘n beduidenis is dat jou pa se boerdery d.m.v. ‘n volgende geslag kan voortduur, het ek ernstige bedenkinge oor die eenmansaak as boerderyvorm. Daar is net te veel belastingnadele wat tot gevolg het dat ‘n klomp welvaart gedurende die oorgangsproses verlore gaan. Dit is baie beter om nou ‘n entiteit wat kontinuïteit bied (trust of maatskappy of kombinasie daarvan) vir die boerdery te gebruik. Dan kan beide geslagte nou reeds deel van die boerdery raak en is die oorgang ook net soveel makliker. Indien jy ernstig is om jou pa se boerdery eendag oor te neem en voort te sit, sal ek ook voorstel dat julle dit nou reeds as een boerdery bedryf en nie as twee afsonderlike boerderye nie. Gee die boerdery ‘n identiteit van sy eie, bv Buys Boerdery, wat sy eie handelsmerk het en wat eendag na jou kinders ook oorgedra kan word as Buys Boerdery. Daar moet dus nie ‘n tydstip wees waar ‘n pa se boerdery tot stilstand kom en ontbind nie en dan weer deur die seun van nuuts af oorgeneem en opgebou word nie. Soos genoem, gaan daar telkens welvaart in die vorm van boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting in so ‘n proses verlore en dan moet die seun nog wag en kyk of pa se testament wel voorsiening maak dat hy ‘n deel van die boerdery kan erf. My model kom dus daarop neer dat dit ‘n besigheid is wat (toevallig) deur ‘n famile bedryf word en nie ‘n familie wat saam ‘n besigheid probeer bedryf nie. Ek sê al hierdie goed onder die aanname dat die opvolgende geslag wel ‘n ernstige atensie het om pa se boerdery te wil voort sit. Andersins kan die eenmansaak nog werk waar mens die welvaart dan wel wil likwideer en verdeel.

♦ Geskryf deur dr. Philip Theunissen

18 April 2017

 


Kommentaar

Een kommentaar op “Kleinskaalse boerdery-onderneming

  1. Adriaan van den Berg
    Adriaan van den Berg

    ‘n Behoorlike saamgestelde Dubbel Trust sisteem, is wat jy nodig het. Opgestel en versorg deur professionele Trust en Finansiele beplanners en adviseurs. Daar is uitstekende belasting voordele in ‘n Dubbel trust sisteem, dan praat ons nog nie van die finansiele veiligheid voordeel daaruit nie. Om al die belasting voordele en veiligheid van die Dubbel Trust sisteem te geniet, moet jou trust dokument gedurig opgedateer word om op die voorpunt van die voordele te wees wat die belasting wet toelaat.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X