Finansies

Kies tussen lusern of aangeplante weiding

Vraag

Hier is my boerdery se besonderhede: Ek het 20 000l/h water tot my beskikking. Die water se Cl is hoog, naamlik 281mg/L. Grond: Kleigrond, Ph van 6.7 Besproeiingsmetode: Ondergrondse drippers Jaarlikse reenval: 200 - 250mm (Noord-Kaap) Ek wil graag een van drie opsies oorweeg. Opsie 1: Plant 10ha lusern, baal en verkoop. Opsie 2: Plant 10ha lusern, baal dit en voer alles self uit om sodoende 200 - 250 meer ooie aan te hou. Opsie 3: Plant 10ha aangeplante weiding en boer intensie met 500 skape intensief (skape loop net van lam tot volgende dekking op weiding (3maande) en daarna op natuurlike weiding. Belading dus 25:1ha) Volgens die kontantvloei wat ek opgestel het, lyk dit of die derde opsie die mees winsgewende opsie kan wees. Tog volg die boere in my omgewing oorwegend die eerste opsie. My vraag is dus: Wat is fout met intensiewe skaapboerdery op aangeplante weiding? Is dit werklik meer arbeidsintensief as lusern sny, hark, baal, pak en verkoop of uitvoer?

Antwoord

Eerstens is jou 10 ha lusern ‘n klein goudmyn. Die Amerikaners noem dit Alfalfa en dit is afgelei van Alpha Alpha, met ander woorde die alpha van alle top weidingsgewasse.

Ek kan glo dat daar mense in jou omgewing is wat die eerste opsie volg, want vir min moeite gaan jy ‘n paar rand uit hierdie opsie kan maak. Ek is van mening dat mense in ‘n spesifieke omgewing oor tyd reeds vasgestel het wat werk en wat nie werk nie en dat mens nie sonder meer kan sê die eerste opsie is minder winsgewend nie.

Aan die ander kant is vleispryse, veral lampryse, tans baie hoog en kan jy vir bietjie meer moeite beslis na ‘n intensiewe skaapstelsel ook kyk, hetsy om hulle die lusern as droë materiaal in ‘n voerkraal te voer of om dan die hele stelsel na ‘n groenvoerstelsel om te skakel.

Lusern se vestigingskoste beloop ongeveer R4800/ha, afhangende van die saaddigtheid. Die produksiekoste (kunsmis en uitstrooi) beloop R1800/ha terwyl die sny, hark en baal ongeveer R1100/ha beloop. Lusernbale se pryse wissel baie, afhangende van watter tyd jy dit bemark en hoe die omstandighede lyk. In droogtes behaal dit hoë pryse. Ek is nie seker wat die prys nou is nie en hoeveel bale jy in jou omgewing kan oes nie.

Die vestigingskoste van gemengde groenvoer beloop ongeveer R1600/ha en saam met indirekte koste kan jy op R3300/ha vir uitgawes werk. Onder besproeiing behoort jy ten minste 200 kg/ha se vleis daarop te kan produseer.

Teen R40/kg kan jy teoreties dus R4700/ha se wins met ‘n groenvoerstelsel behaal. Hou net in gedagte dat jy jou voervloei so sal moet beplan om vir jou droë ooie ook voorsiening te kan maak. Jy sal dus nie net vleis op die groenvoer kan produseer nie. Jy moet ooie ook onderhou.

Syfers is geduldig. So, maak maar jou somme deeglik. Bogenoemde is slegs riglyne.

* Geskryf deur dr. Philip Theunissen, landbou-ekonoom en forensiese rekenmeester van Computus, Bethlehem.

19 Februarie 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X