Finansies

Intensiewe lamstelsels: Wat sê die lammers?

Vraag

Eerstens wil ek dr. Philip Theunissen bedank vir sy artikel 'Ekstensief vs Intensief' in Landbouweekblad van 14 April 2017. Ek is nie 'n boer nie, maar lees die afgelope 4 jaar alles wat ek kan kry oor intensiewe skaapboerdery, en het selfs een van dr. Jasper Coetzee se kursusse bygewoon. Elke keer as ek 'n finansiële model bou vir 'n intensiewe boerdery loop ek myself vas in een of meer van die volgende; Swak winsgewendheid, ernstige kontantvloeiprobleme en/of 'n baie ingewikkelde gesondheidsprogram en weidingsbestuur van die veelvuldige kuddes. Die artikel van dr. Theunissen het juis nou ook uitgewys dat die potensiële opbrengs van 'n intensiewe stelsel eintlik maar uiters swak is. In sy tabel is die wins van 'n 8 maande intensiewe stelsel op volvoer maar R238 per ooi per jaar. Baie belangrik is die feit dat R200 daarvan kom van die wolverkope. Vir 'n vleistipe-ras behoort die wins te daal na slegs R38 per ooi per jaar. Daar word gereeld verwys na Dr Karin en Manie Wessels en Derick Lategan se intensiewe stelsel, en dat hulle winsgewendheid gedryf word deur die ontwikkeling van nismarkte. Ek verskil egter drasties van hierdie bewering. In die Landbou Vee, Uitgawe 2 | 2015 verskyn twee artikels wat hulle modelle uitlig. Dr Karen en Manie se artikel wys duidelik in die finansiële uiteensetting dat hulle 10 stoetooie per maand verkoop teen R25000 en 15 stoetramme teen R60 000 per maand. Daarteen word daar 10 slaglammers R16200 verkoop. Ek is van mening dat hulle nie winsgewend kan wees as hulle net 'n kommersiële kudde het nie. Ek vermoed dat dieselfde geld by Derick. In die artikel word vermeld dat hy beide 'n Vleismerino -toetery en 'n kommersiële kudde bedryf en dat "uitskot lammers' teen R75 per kilo as nismarkprodukte verkoop word. Ek wonder weer eens wat sy winsgewendheid sal wees sonder die stoetkudde. Ek sal baie graag wil sien hoe 'n volledig verhoudingsanalise (bv. Du Pont-model) vir 'n intensiewe boerdery lyk. Ek sal graag wil weet of daar enigsins voldoende wins gemaak kan word vir ander oorhoofse kostes soos bv versekering, finansieringskoste en 'n markverwante opbrengs op sy vastekapitaal en 'n aanvaarbare bestuursloon. Ek hoor graag van u. Johan Pyper jpyper@easy-mail.co.za

Antwoord

Johan, dankie vir jou terugvoer. Dit is duidelik dat jy die nodige finansiële agtergrond en passie het om die versnelde lamseisoen deeglik te kan ontleed. Ek sal bietjie ‘n Du Pont-ontleding doen op die syfers wat ek het. Ek wil nie op hierdie stadium te veel oor die 8 maande stelsel per se kwyt raak nie. Ek het my bes probeer om nie ‘n “verloorder” of ‘n “wenner” in die artikel uit te wys nie maar wou bloot net al die onderliggende aspekte van elke stelsel uitwys. Sekere belangegroepe het egter heftig hierop gereageer en daar sal weldra ‘n brief, met my kommentaar daarop, in die gedrukte weergawe van Landbouweekblad verskyn. Uiteraard het verskeie boere, ná die skryf van die artikel, met my oor lamstelsels gepraat en my mening ook verder geslyp. Sonder om kommentaar te lewer los ek net bietjie die volgende in jou midde en ek is seker daarvan jy sal iets daarvan kan maak:

My eie eerste groep bemarkbare lammers van verlede jaar, m.a.w. die met die hoogste GDT, het op groenvoer ‘n GDT oor hulle leeftyd van gemiddeld 268 gram/dag gehandhaaf. By tye het van hulle meer as 1 kg/dag tussen wegings aangesit maar dit is nie volhoubaar nie. In ‘n 8 maande stelsel moet jy die lam ná 60 dae speen. So 60 x 268 g = 16 kg plus die 5 kg wat die lam by geboorte geweeg het. Na 60 dae het jy dan ‘n lam wat op 21 kg gespeen moet word. Selfs al is jy baie toegeeflik en werk op 384 g/dag, gaan jy na 60 dae ‘n lam speen wat 28 kg weeg. Teen R32/kg verkoop jy onderskeidelik ‘n lam van R665 en R897 teen hierdie gewigte.

Ekself werk op ‘n ekonomiese leeftyd vir ‘n ooi van 6 jaar. Op my jaarlikse stelsel word sy die eerste keer op 18 maande gedek en gaan sy dan 5 keer lam voor ek haar verkoop. Op ‘n lampersentasie (nie speen nie) van 130 gaan sy vir my 6,5 lammers oor haar leeftyd gee en sy het by my 3,5 maande se hersteltyd tussen speen en die volgende dekking. Intussen kry jy maar gevalle waar daar iets iewers met haar vroulike dele (prolaps en uier) ook kan fout gaan en dat ek haar vroeër sal moet verkoop. Die mense wat ‘n 8 maande lamstelsel propageer maak daarop aanspraak dat hulle speenpersentasie tussen 200 en 220 is. In so ‘n stelsel kan ‘n ooi al op 12 maande gedek word en kan sy teoreties op ouderdom 7 jaar 6 keer gelam het. Op ‘n lampersentasie van 220 gaan sy dus amper 14 lammers oor haar leeftyd in die lewe bring terwyl sy net 1 maand se ruskans tussen speen en volgende dekking het. Ek laat die res van die argument aan jou oor.

Dan net ‘n gedagte, skep mense nie maar in die algemeen hulle eie nismarkte vir hulle eie produkte deur hulle eie produkte/stelsels as die alfa en die omega voor te hou nie?

* Geskryf deur dr. Philip Theunissen van Computus Bestuursburo, Bethlehem.

19 April 2017

  • Die onderstaande kommentaar is op 24 April 2017 deur mnr. Faans Pretorius ingestuur:

Vergelyking met werklike syfers in intensiewe lamstelsel.
Hilltop Vleismerinos speen 15 Februarie 2016, 98 lammers van 60 ooie af. Gemiddelde speengewig 38,4kg op 89 dae wat ‘n groei gee van 370g per lam per dag.  Die model hieronder is dus nie gegrond op denkbeeldige syfers nie maar wys dat 9 en 10 mnde sisteme beter betalend is as 8 mnde.

Met my ondervinding raak ooie beter herbeset met 60 dae rus as met 37 dae rus, en hier is my syfers om dit te bewys.  Bogenoemde ooie is April-maand weer by die ram gesit met ‘n 60 dae rusperiode, volwasse ooie 96 % dragtig met ‘n verwagte lam% van 194%, dus 233% per jaar.  Op 8 maande sisteem was herbesetting tussen 80 en 85%. Alle ooie word natuurlik gedek sonder enige sponse en dms.

Uit die tabel hierbo uit kan ons sien dat kg gespeen ‘n groter winsdrywer is as speen%. As ons in aanmerking neem dat ooie op 8mnde sisteem 2 keer in haar lewe meer gespons, dms, inentings, en gescan word as op die 10mnde is haar produksie koste nog hoër.


Aanhangsels

Kommentaar

Kommentaar (6) “Intensiewe lamstelsels: Wat sê die lammers?

  1. Frikkie Maré
    Frikkie Maré

    Ek is self `n landbou ekonoom en verstaan dat die meeste landbou-ekonomiese modelle op aannames basseer word.

    Wat egter vir my interessant is, is die feit dat ons vanoggend deur Manie en Karin Wessels se syfers gewerk het. Hierdie syfers het nie die “stoet” verkope ingesluit nie en lammers is nie verkoop as stoorlammers nie maar is self gevoer en dus direk aan die abattoir gelewer. Verder is hierdie ware syfers, sonder aannames, ek vertrou dus dat die regte weergawe is. Hierdie syfers klop egter oor en oor met baie goeie marges.

    Ek stel voor dat ons liewers nie die Intensiewe stelsel (en selfs individue se syfers) probeer kritiseer op die basis van aannames nie. Kom ons kyk na die ware syfers en kom tot die regte gevolgtrekkings.

  2. mkruger
    mkruger

    Ek self het nou al die intensiewe stelsel probeer en my gevolgtrekking is dat mens stelselmatig moet oorgaan na so stelsel toe.
    Ek het self ‘n klomp nuwe ooie gekoop en ingespring en my vingers verbrand omdat die ooie moes aanpas.

    Wat ek ook al gesien het, is dat die intensiewe modelle wat voorgehou word meestal nie voorsiening maak vir die uitgroei van vervangingsooie nie.

    Daar is heelwat verskuilde kostes wat by so berekening ingebring moet word.
    Vervoer na die klient en slagpale ens

    Ek dink Karin en Manie maak self nie ‘n geheim daarvan dat van hulle winste uit die stoet uitkom en dat hulle die lammers self bemark en nie aan slagpale lewer nie.

    Hulle kry dus beter pryse.

    Derek het ook kopers uit sy omgewing uit wat die vleis by hom aankoop teen ‘n premie omdat hy nie gemors voer nie.

    Ek weet Karin hulle slag as ek reg onthou in Vrede by ‘n Familielid.
    Ek weet nie wat vra hy hulle nie.
    As jy egter jou 5 de kwart moet opoffer vir slagkostes verloor jy ook baie.

  3. Andries Dreyer
    Andries Dreyer

    Hierdie is n baie lekker debat onderwerp. Dit voel vir my Lam stelsel is baie vir vertoon, maar dra nie noodwendig sy volle potensiaal by nie aangesien ons bedryfspraktyke nie die skaap of lam se prestasie meet en optimaliseer nie.

    Ons moet hou by wat die skaapboer se doelstelling is: maksimum totale wins gegenereer uit sy produksie eenheid. Dit bereik ek eers deur my bedryf wins (inkomste -direkte uitgawes) te dryf op n ekonomiese skaal en dan kyk ek na bate effektiwiteite…..ekonomie van skaal.

    Intensiewe lam stelsel is bloot n bestuur praktyk wat jou help om jou omset te verhoog en agv sinkronisasie kan jy sekere voordele kry op effektiwiteite. Maar indien jy nie optimum prestasie uit jou kudde haal alvorens jy met hierdie lam stelsel begin nie, gaan dit jou in die moeilikheid bring.

    Intensiewe kudde bestuur is meer belangrik en bepaal uiteindelik produksie wins per eenheid.

    Meetings en doelwitte vir dek persentasie,lam- en Speen persentasie asook gemiddelde Speen gewig is belangrik. Dan moet ons verder kyk na wat is die drywers van bogenoemde prestasie.

    Die “dupont analiese” waar na verwys word kan bonding so uiteensit word::
    Opbrengs op eie kapitale = (netto wins/omset) x (omset/bates) x (bates/eie kapitaal) “Return on Equity”.

    Toe rugby nog n winter sport was-was ek geleer dat “victory is born in the skrum” (Red. Dit is n erkende afrikaans uitdrukking!) Netso word volhoubaarheid vasgepen in jou winsgewindheid (inkomste-uitgawes/omset). Indien n Boer goeie begrip het oor wat diereproduksie prestasie beinvloed en dit kan beheer , sal ek glo sy bate kapasiteit effektiwiteite (omset/bates) sal ook verbetering.

    Met grondpryse wat volgens my te duur is huidiglik is die tendens oor tyd van die finansiele hefboom verhouding (bates/eie kapitaal) misleidend.

    Hierdie is net my bydrae. Ons lam hierdie jaar in hokkies,het die skape in gedeel in 3 groepe,gesinkroniseer en ingespuit. Nie teenstaande die eenvormige behandeling kan daar n verskil waar geneem word in Lam persentasie tussen d 3 groepe.

  4. Danie Bruwer
    Danie Bruwer

    Ek het die dag bygewoon waar die syfers voorgehou is Ek bedryf sedert 2009 n 8 maande stelsel met Dohne Merinos My ervaring is anders as wat in voorlegging gedoen isl Daar is n paar voorvereiste nl
    – getalle aantal lammers gespeen
    – eie geproduseerde voer ( Huidige chop prys R 1500/ton n jaar terug mielies gekoop vir R 3800/ton)
    – Groei (Gewig)
    – VOETE
    – Bestuur veral gesondheid
    – Hou dit eenvoudig
    – Voeding
    – Betrokkenheid van kundiges Jy hoef nie als self te weet nie
    Metings norme
    – Speen meer gewig per jaar as die volwasse ooie
    – speen % per jaar > 200 % ( tans +- 60 % meerlinge waarvan 5-8 % drielinge is )
    – Groei per dag > 300gr
    – Besetting >95 %
    – Sinkronisasie
    My boere syfers as volg
    Speen % per lamkeer 140 %
    Inkomste uit vleis ( Lammers word afgerond R 3213
    Inkomste wol R357
    Totaal Inkomste R3570
    Arbeid R134
    Aangeplante weidings R50
    Diesel R62
    Dragtigheids R 23
    Ramkoste R42
    Voerkoste R1329
    Veearts R 132
    Rente R213
    Netto R 1585
    Risiko 20 % R1268

    Vir wat dit werd is

  5. Jan Bezuidenhout

    Dr. Philip Theunissen skryf:
    Danie noem ‘n uiters belangrike punt naamlik selfgeproduseerde voer. Dit maak al klaar ‘n wesentlike verskil op ‘n intensiewe stelsel se wins. Die syfers by die boeredag waarna hy verwys, en ook in die artikel, is op ingekoopte volvoerrantsoene gebaseer. Uiteraard sal volvoerstelsels vir die komende jaar ook beter lyk met ‘n laer mielieprys. Daar teenoor lyk dit of lampryse opwaarts wil beweeg. Dan noem Danie ook sy besetting van 95% en uiteindelike speenpersentasie van 200%. Ons ken mekaar en ek glo hom. Danie kán bestuur en dit verklaar sy hoë wins. Danie is ‘n sprekende voorbeeld van dit waarmee ek die artikel afgesluit het: “Enige boerderystelsel moet uiteindelik oor die optimale, volhoubare benutting van beskikbare hulpbronne gaan. Die basiese beginsel is dat die boer self moet besluit hoeveel hy van ‘n produk kan produseer met die hoeveelheid arbeid, roumateriaal en kapitaal wat hy tot sy beskikking het.” Dit sluit ook aan by Andries se kommentaar.

  6. cwjonker@gmail.com
    cwjonker@gmail.com

    Baie interessante onderwerp maar daars heeltemal te veel veranderlikes en die marges bly heeltemal te dun om voorsiening te maak vir die harde realiteit soos infrastruktuur onderhoud (elektriese drade), salarisse, diefstal etc. te maak! Intensief is ook relatief! Gaan als oor die grond grootte! hoe kleiner hoe groter die druk om elke vierkante meter te benut vir eie weiding onder besproeing veral innie winter! Ons het `n top wit dorper stoet 175 ooie (uitgesluit ramme) in produksie en 30 kommersiele ooie op 12 hektaar! heel área aangeplante weiding met 10 kampe onder besproeing 5 klawer en russiese gras. Probleem is stoet en skou loop saam wat hoe voerkoste vereis, veearts koste, lang afstand bemarking en dan verkoop T4/5 ooie vir R2500 en minder? Gauteng ook swak mark vir ramme! So die área ligging netso belangrik! Die mark oppie oomblik is kommersieel slagmark en dan is volumes nodig om `n lewe te maak! Intensief is `n groot uitdaging en diere het 24/7 aandag nodig! baie harde werk vir gelyk breek maar kry baie energie daaruit! ! kan lank oor die onderwerp gesels…


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X