Finansies

Boer deur besigheid of in trust

Vraag

As jy 'n boerderybesigheid het en ook 'n aandeel van 80% in 'n trust (wat landbougrond bevat), sal dit meer baat om die trust se grond uit te huur aan my eie besigheid (met die trust se goedkeuring) of sal ek meer baat deur die grond deur die trust te boer en net 80% wins vat?

Antwoord

My persoonlike voorkeur is om die vaste bates (plaas) in die trust te hou en die operasionele deel (goed met wiele en pote) in ‘n BK of maatskappy. Hierdie entiteit behartig die boerdery en huur die grond by die trust.

Die nuwe artikel (7C) is vanaf 1 Maart 2016 in die inkomstebelastingwet ingesluit. Dié artikel is van toepassing wanneer ‘n natuurlike persoon of verbonde maatskappy ‘n lening aan ‘n verbonde trust maak. Indien die rentekoers wat op die lening gehef word laer is as die repokoers (tans 8%), plus 1%, sal die verskil in rente ‘n geagte inkomste in die hande van die uitlener wees.

Die toegewing om jaarliks R100 000 van ‘n lening terug te skenk aan die trust, het ook verval. In die toekoms sal enige skenking van ‘n verbonde lening onderworpe aan skenkingsbelasting wees, sonder enige vrystelling.

As daar dus so ‘n lening tussen jou en die trust is, moet die trust aan jou rente teen 8% betaal. Dan kan jy weer huur aan die trust vir die plaas betaal wat gelykstaande aan die rente is. Sodoende kom jy dan om artikel 7 C en is dit ‘n verdere voordeel om die boerdery voort te sit en die plaas van die trust te huur, eerder as om in die trust self te boer.

* Geskryf deur dr. Philip Theunissen, landbou-ekonoom en forensiese rekenmeester van Computus, Bethlehem.

23 Julie 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X