Dierevoeding

Benutting van sojaboonlande

Vraag

Ons het so paar hektaar sojabone geplant om ons skape deur die strawwe winters van Dullstroom te vat. Ons gaan nie stroop nie. Wat is die beste manier om die sojaboonlande te gebruik? Wat is die voor en nadele tussen die lande, wei of bale maak? Kan U my help met die beste metode vir beide benuttings?

Antwoord

Beweiding van ongestroopte sojaboonlande  is die goedkoopste benuttingsmetode, want daar is geen sny-, hark-, baal-, uitry-, opberging-, maal- en terugvoerkoste nie.  Skape is geneig om eerste peule en pitte op ‘n sojaboonland te vreet en daar is ‘n risiko aan nitraatvergiftiging  weens die oormatige inname van graan.  Aanpassing op lande deur weityd gelykmatig oor 14 dae te verleng (begin met 15 minute per dag) en die voorsiening van die regte lek, kan die probleem grootliks voorkom.  Die rou sojaboon is hoog in proteïen (ongeveer 36 %),  maar dit het sekere beperkinge in die vorm van anti-voedingsfaktore soos bv. tripsien- en chemotripsien inhibeerders en ‘n laag verteerbare aminosuurprofiel.  Dit veroorsaak dat lammerooie op sojaboonlande dik en taai biesmelk het, min melk produseer en gevolglik groei lammers swak.  Volwasse skape benut sojabone egter goed omdat hul behoefte aan deurvloeiproteïen baie laer is as dié van lakterende ooie en lammers en dit is ‘n uitstekende prikkelweiding vir ooie.

Voermol Molovite (V7266) word algemeen op sojalande gebruik en bevat medikamente wat proteïenopblaas verhoed, maar aangesien enkele skape in ‘n trop min of selfs geen lek vreet nie, is dit onmoontlik om te waarborg dat geen vrektes sal voorkom nie.  Molovite bevat goeie gehalte natuurlike proteïen en geen ureum nie.  Vir lammerooie kan een sak Voermol Procon (V12701) by 3 sakke Molovite gemeng word om die deurvloeiproteïen te verhoog.

Plase in die Dullstroom distrik het oor die algemeen baie min lande om kos vir die harde winters te produseer.  Met beweiding van sojaboonlande, is daar geen beheer oor die voer-inname nie en in ‘n sekere sin word skaars wintervoer “vermors”.  Alhoewel sny-, hark- en baalkostes hoog is, is daar beheer oor die hoeveelhede wat daagliks gevoer word en die drakrag van ‘n land kan verhoog word.  ‘n Groot uitdaging met die baal van sojabone in die Misbelt gebied, is om seker te maak dat plantmateriaal lugdroog is, voordat dit gebaal word.

Geskryf deur: Hendrik van Pletzen, Tegniese Bestuurder Voermol Voere (hendrikvp@mweb.co.za)

27 Februarie 2017


Kommentaar

Een kommentaar op “Benutting van sojaboonlande

  1. Dewald Hattingh
    Dewald Hattingh

    Baie dankie Hendrik vir bostaande inligting, 2 verdere vrae

    1. Wat is, en hoe bepaal mens die ideale stadium om sojabone te baal?
    2. Hoeveel kg DM (gebaalde sojaboon) moet ek dan daagliks voer vir die skape?

    Dankie Dewald


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X