Dierevoeding

Intensiewe skaapboerdery in Mpumalanga

Vraag

Ek is ‘n jongboer wat uit die Kalahari groener weivelde kom soek het in Limpopo, op die rand van Mpumalanga naby Stoffberg. Ek het ‘n lappie grond met potensiaal, maar ook baie turf. Ek het die laaste maand intensief ontbos en gevolglik is dit tyd om iets met die grond te doen. Ek het reeds sitrus gevestig op ‘n deel van die plasie en die beter akkerbou grond toegestaan aan kontantgewasse (1.6ha). My plan is om die 6ha wat ontbos en relatief bewerkbaar is, in 1ha kampe op te deel, te besproei en intensief met vleismerino’s te boer. Ek het drakrag van 2.6 lakterende ooie/ha op die veld. Ek het nog 40ha natuurlike weiding oor plat koppies en sal dan 6ha aangeplant hê. Ek wil nie die aangeplante weiding net in die winter benut nie. My vraag is meer-ledig: • sal langswenkgras werk in die sterk turf? • hoe bestuur ek die natuurlike weiding en die aangeplante weiding in kombinasie met mekaar? • wat sal die maksimum hoeveelheid ooie wees wat ek gaan kan aanhou en op dieselfde tyd lammers afrond vir verkoop? Ek sien uit na enige terugvoer!

Antwoord

Ek neem aan die jongboer se grond is onder by Stoffberg, in die omgewing van Blinkwater Rollermeule of naby die silo of laer af in Groblersdal se rigting.  Dit verskil baie met die hoër liggende dele van Stoffberg soos bv. aan die bokant van Wapadskloof.  Die reënval is laer as bo en beslis warmer, baie soos Groblersdal, maar nie heeltemal nie.

Die topografie, reënval en veldtipes varieer dus baie in die omgewing. Die amptelike drakrag van die veld, wissel van 5 tot 7 ha/GVE/365dae.  Ongeveer 6 volwasse skape (KVE) verteenwoordig 1 GVE.

As ons die gemiddelde drakrag as 6 ha/GVE neem, beteken dit dat daar ongeveer  1 KVE (volwasse, dragtige ooi) per ha per jaar gedra kan word. Sou die veld net in die somer (180 dae) gewei word, kan 2 KVE per ha/180 dae gedra word.  Die drakrag van 2.6 lakterende ooie/ha vir 365 dae waarna u verwys, is dus aan die hoë kant.  Dalk kan u 2.6 droë ooie/ha vir 8 maande dra, maar die laatdragtige en lakterende ooie moet na ‘n aangeplante weiding skuif.

Langswenkgras kan met sukses daar verbou word, met goed beplande besproeiing. Die Tabel hieronder gee ‘n aanduiding van die maandelikse DM produksie (kg/ha).

Jan Feb Mrt Apl Mei Jun Jul Aug Sep Oct Nov Des
180 300 880 1380 1370 650 550 870 1234 1224 750 166

 

Vervolgens ‘n kort beskrywing van Langswenkgras

  • Plant April/Mei (Maart in koue areas), asook in Sept/Okt. Indien geen onkruide teenwoordig is nie. Die gras is baie gevoelig vir onkruidkompetisie.
  • Vermy te kort beweiding gedurende die warmste maande.
  • Doen goed in leem tot swaar kleigrond en kan versuiptoestande vir redelike tye oorleef.
  • Produseer van Februarie tot Oktober, met hoogste produksie in herfs en lente.

Plantdigtheid: 20 kg/ha.

Hooi: 8 – 16 t/ha Weikapasiteit: 2.5 GVE/ha (± 15 – 20 skape/ha)

Grondontledings is noodsaaklik.  pH 6 tot 7, grond P-inhoud minstens 25mg/kg en grond K-inhoud minstens 100 mg/kg.

Vir die somermaande kan Oulandsgras as weiding en vir hooiproduksie oorweeg word.

U is baie naby aan die mieliegebied en die aanbeveling is om mielies in kruipvoer en vir afronding te gebruik.  Dit sal die druk op weidings verlig en gevolglik kan u meer ooie aanhou.  Mieliemeel kan ook met die nodige konsentrate gemeng word vir produksielekke vir laat dragtige en lakterende ooie.

OTK het ‘n skaapprojek by Oudestad proefplaas naby Groblersdal gehad met SA Vleismerino’s op kikoejoe.  In kort, die projek is gestaak want dit was nie ekonomies volhoubaar nie. Die voedingswaarde van kikoekoe is te swak vir ‘n intensiewe stelsel en probleme soos haarwurm, sweerklou en hartwater het bestuur bemoeilik. ‘n Intensiewe skaapstelsel vereis baie meer toegewyde bestuurstyd as kontantgewasverbouing.

Geskryf deur: Hendrik van Pletzen, Tegniese bestuurder, Voermol Voere (hendrikvp@mweb.co.za) en Chris Dannhauser, Weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za)

9 Maart 2018


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X