Dierevoeding

Hiasinte as voer vir beeste

Vraag

Ek is woonagtig in die Hartbeespoortdam distrik. Hiasinte is soos almal weet, ‘n epidemie en is in groot maat beskikbaar. Ek het 25 speenkallers, in watter mate kan ek dit vir voer gebruik? Ek dink om dit te maal en uit te droog.

Antwoord

Dankie vir jou navraag.  Ek bly self langs die Hartbeespoortdam en sien daagliks, met groot teleurstelling, hoe die dam deur die hiasinte oorgeneem word.  Dit sou wonderlik wees indien ‘n veevoer van goeie gehalte uit die hiasinte vervaardig kon word.  Ongelukkig is dit nie die geval nie.

Ek het ‘n bietjie gaan oplees en kortliks die volgende gevind:

  • Die droë materiaal (DM) inhoud van vars hiasinte is laag, <10%.  Gevolglik moet groot hoeveelhede gevoer word vir ‘n klein DM inname of die vars hiasinte moet gedroog word wat te duur sal wees.
  • Hiasinte is onsmaaklik wat DM inname verder onderdruk.
  • Hiasinte is hoog in proteïen.  Blare bevat tussen 20% en 30% proteïen en die totale plant tussen 10% en 20% op DM basis.
  • Die samestelling van hiasinte varieer geweldig t.o.v. minerale inhoud.  Dit word grotendeels beïnvloed deur die kwaliteit van die water waarop dit groei.
  • Daar word ook verwys dat hiasinte dikwels swaar minerale soos lood en ander skadelike middels bevat waarmee die water besoedel is.  Dit kan toksies wees.
  • Die verteerbaarheid van hiasinte is relatief laag, tussen 47% en 55%.
  • Hiasinte is onsmaaklik, maar ‘n redelike inname word verkry waar hiasinte met sowat 20% melassestroop gemeng is.
  • Hiasinte kan gebruik word om ‘n redelike kwaliteit kuilvoer te maak deur die hiasinte in te kuil met strooi, melasse en ureum.
  • Daar is gevalle waar vars hiasinte aan beeste gevoer is met ‘n aanvulling.

My voorstel is dat jy met die hiasinte eksperimenteer.  Voer teen 6 tot 10kg/bees/dag (D.i. ongeveer 600g – 1 000g droog) plus weiding en of hooi plus ‘n produksielek.

Skakel gerus en laat weet hoe dit gaan.

Soos jy seker weet is daar tans projekte aan die gang om die hiasinte te verwyder.  Die poging is om kompos en brikette daarvan te vervaardig.

Groete

Ulrich Müller

Tegniese bestuurder, Voermolvoere

Pr.Sci.Nat:  400044/08

Cell:  +27 (0) 83 414 5928

Web:  www.voermol.co.za

ulrich.muller@tongaat.com

 
29 Mei 2018


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X