Grondbonehooi as bron van voeding vir diere in droogtetye
Vraag
Is grondbonehooi ‘n goeie bron van ruvoer in droogtetye?Antwoord
Grondbonehooi is in die klas van proteïenryke ruvoere en ek het goeie resultate met ‘n skaapproef gekry. Sien tabel hier onder. Daar kan groot variasie in kwaliteit wees van goeie kwaliteit blaarryke hooi met baie peule tot swakker gehalte met meer stingels in . Die hark- en baalproses het ‘n groot invloed op kwaliteit.
Tabel 1. Die invloed van verskillende voedingsbronne op skaapproduksie oor 114 dae.
Voedingsbron | Massa toename (kg) | Ruvagmassa (kg/skaap) | Skoonopbrengs (%) | Skoonvagmassa (kg) | Veseldikte (mikron) | Stapellengte (mm) |
Mielieresteweiding | ||||||
6 Skape/ha | 7.7 | 2.20 | 63.23 | 1.39 | 22.8 | 108 |
9 Skape/ha | 6.6 | 2.04 | 62.96 | 1.28 | 21.1 | 102 |
12 Skape/ha | 5.7 | 1.85 | 62.48 | 1.16 | 20.8 | 99 |
Ruvoere | ||||||
Gemaalde heel mielieplante | 6.3 | 1.79 | 73.93 | 1.32 | 20.2 | 101 |
Swak gehalte mieliekuilvoer | 3.4 | 1.17 | 66.75 | 0.78 | 18.7 | 92 |
Top kwaliteit lusern | 17.6 | 2.63 | 76.63 | 2.06 | 22.5 | 129 |
Grondbonehooi | 9.5 | 1.64 | 71.11 | 1.17 | 20.1 | 107 |
Tefhooi | 4.3 | 1.29 | 73.07 | 0.94 | 20.1 | 91 |
Oulandsgrashooi | 3.6 | 1.44 | 72.29 | 1.04 | 20 | 102 |
Geskryf deur: Hendrik van Pletzen, Tegniese bestuurder, Voermol Voere (hendrikvp@mweb.co.za)
Opmerking deur ‘n veearts: Dr. Adriaan Olivier
Boere in die Oudtshoorndistrik gebruik grondbonehooi, maar kwaliteit is ‘n groot faktor asook beskikbaarheid tydens die droogte.
Risiko faktor is swamme.
Die teenwoordigheid van grondbone in die hooi vermeerder die waarde van die hooi aansienlik.
Hantering: die hooi is baie droog en breek baie maklik, gevolglik is dit baie stowwerig.
Met die meng van die hooi verloor mens die lengte van die hooi en word dit gereduseer tot ‘n fyn stof.
Sommige groepe volstruise hou van die hooi, maar ander weier om dit te vreet – ek vermoed dit is te wyte aan mikotoksiene of dat swamme die smaaklikheid beїnvloed.
Nog ‘n opmerking deur ‘n ander veearts:
Indien die hooi in droogtetye gevreet word, mag die hooi groot hoeveelhede sand bevat en beeste kry ‘n tipe sandkoliek wat in perde gesien word. As ‘n rektale ondersoek gedoen word, word baie sand in die rektum gekry.
26 Augustus 2017
Lewer kommentaar
Slegs in Afrikaans