Chemikalieë

Vergiftiging met organofosfaat

Vraag

Hoeveel boere en werkers gebruik organofosfate sonder om behoorlike voorsorgmaatreëls te tref om hulself te beskerm teen moontlike vergiftiging? Ek het iemand raakgeloop wat vergiftiging opgetel het en deur sy ondervinding met julle te deel, mag dit dalk help dat so iets voorkom kan word.

Antwoord

Ek is ‘n verteenwoordiger van ‘n farmaseutiese maatskappy en op Dinsdagoggend 21 April 2015 was ek op ‘n roetinebesoek aan ‘n  koöperasie.

‘n Boer is ingelig oor hoe om ‘n middel, wat triasofos (‘n organofosfaat) bevat, te gebruik om brommeraanvalle en luise te beheer. Die bottel wat die middel bevat, is van die rak afgehaal en van die middel het op my hand beland – die prop het effens gelek. Toiletpapier is gebruik om die effense natterigheid van die bottel af te vee en die middel is weer terug op die rak geplaas. Ek het my hande daarna gaan was. Die middag het ek effens naar geword.

Op 22 April 2015 besoek ek ‘n boer wat besig was om sy skape te dip. Triasofos is ook gebruik  om die skape mee te dip. Ek het naby die dipgat gestaan waar die skape in die gat gestoot word en van die dipmengsel het op my rug gespat. Ek het nie ‘n droë hemp by my gehad nie en het aanhou help tot laat die aand. Eers laat die aand het ek gestort.

Op  24 April 2015  let ek op dat daar  ‘n hele aantal mierneste in my huis is. Ek het nog ‘n organofosfaat (merkaptotion) in ‘n sproeibottel aangemaak. Die paadjies en mure is gesproei. Die Saterdagaand het ek ‘n hoofpyn ontwikkel en het ek weer naar gevoel.

Sondagmiddag het ek ‘n bietjie in die tuin gaan werk. Ek het die leë bottels wat merkaptotion en triasofos bevat het vol water gemaak en die water op die paadjies en mierneste uitgegooi.

Saterdag om 10h30 het ek ‘n diarree ontwikkel en het ek begin opgooi en sweet. My eerste gedagte was dat ek voedselvergiftiging opgedoen het. Ek het al hoe meer begin opgooi, sweet en my maag het aanhoudend gewerk. Swakheid het ingetree en ek  kon met moeite beweeg, praat en ek het probleme met asemhaling ontwikkel.

‘n Dokter is ingeroep en ek is met groot spoed na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas.

Ek is op ‘n respirator geplaas en met skandering is gevind dat daar geen breinbloeding teenwoordig was nie. Ek is onder sedering geplaas in die intensiewe eenheid en van die 26 ste April tot die 1 ste Mei kan ek niks onthou nie.

Na toetse is vasgestel dat die oorsaak organofosfaatvergiftiging was en dat atropine medikasie toegedien moet word. Na 10 dae van behandeling is die behandeling geleidelik verminder en is die respirator verwyder. Sedering is ook gestaak. Aanvanklik het ek met moeite beweeg, maar na fisioterapiebehandeling het asemhaling en spiersterkte verbeter.

Die geneeshere het aanbeveel dat almal wat met organofosfate in kontak kom, elke jaar getoets behoort te word aangesien die gifstof deur die vel geabsorbeer en ingeasem kan word. Behoorlike beskermende klere en maskers en brille moet gedra  word om kontak met gifstowwe  te voorkom!

Geskryf deur dr. Faffa Malan na aanleiding van inligting wat persoonlik aan my voorsien is.

23 Augustus 2015


Kommentaar

Een kommentaar op “Vergiftiging met organofosfaat

  1. Manie
    Manie

    Gifstowwe kan gevaarlik wees ek het ook n ongeluk met Alpha-cypermethrin ge kry op n laat aand maar ja dit is gif bly virsigtig


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X