Chemikalieë

Bobbejane as predatore

Vraag

As jong boer wil ek vir julle ‘n vraag stel. Sal ‘n bobbejaan ‘n skaap dood byt en net die uier eet? Of watter ander roofdier maak so? Ek het die afgelope 6 dae 3 skape verloor. Die keel is gebyt soos ‘n kat sou, maar die tandmerke is groter as normaal. Net die uier van die skaap is weggeëet? Die ooie het ek ‘n week terug van die lammers af weggeneem. Ek vermoed dis ‘n jong bobbejaanmannetjie wat die skaap eenvoudig doodbyt en melk eet. Of is dit die tekens van ‘n rooikat of iets anders?

Antwoord

As die ooie se uiers gevreet is, is dit amper 100% seker dis bobbejaan. Rooikat sal slegs aan boude vreet en jakkals slegs aan ribbekas en ingewande. Dis ‘n baie rare verskynsel waarvan ek slegs twee sulke gevalle in my lewe ondersoek het. Dis gewoonlik die ou mannetjiebobbejane wat so waahhalsig raak met ooie. Bobbejane sal eerder jong lammers doodbyt en dan verskeur, maar selfs dit is uiters raar. Die kees wat so skaap steel sal ook geneig wees om voëls soos tatentale en selfs kolganse te vang en te vreet.

* Geskryf deur dr. Gerhard H Verdoorn, Griffon Poison Information Centre

As natuur- en skaapliefhebber, eerder as “werklike kundige”, sal ek my “bobbejaaninligting” met graagte met julle deel…

Ek dink dat dit wel heel waarskynlik ‘n bobbejaan is waarmee ons hier te doen het, moonlik net nie ‘n jong mannetjie soos vermoed word nie, maar eerder ‘n ou alfa-mannetjie wat uit die trop geskop is. Bobbejane het ongelooflike sosiale strukture en jong mannetjies speel so ‘n belangrike rol hierin, dat hulle eerder deel hiervan wil wees, as “enkellopend”.

In die natuur beteken “eensame afsondering” vir groepdiere gewoonlik die doodstraf! Natuurlike vyande soos luiperds sal dan ook hierdie swakker lede van ‘n trop dikwels as maklike prooi sien en hulle “uithaal”. Bobbejane se beskerming en veiligheid lê juis in hul groepsverband en dan in hul getalle. Indien die groep betrokke is/was, sou meeste van die karkas ook benut gewees het.

Bobbejane word beskou as omnivore – hulle eet omtrent alles van plante tot vleis. Hulle eet grasse, sade, wortels, bolle, knolle, blare, peule, aalwyne, boombas, boomgom, sampioene en wilde vrugte soos turksvye. Ons weet van hul voorliefde vir insekte – kyk maar na al die klippe wat omgerol is waar hulle gewei het, op soek na slakke, miere en skerpioene.

As kos skaars begin raak, soos in woestynagtige gebiede, word hul habitat groter en loop hulle tot 14 km per dag op soek na kos. Veral hier word vleis dan ‘n groter deel van hul dieet.

In Lawrence Green se kontreistories is daar heelwat vertellings van bobbejane met ‘n vleislus wat skaap-, bok-, en pluimveeboere hoofbrekens besorg het.

Dit is bekend dat bobbejane soms kleiner wildsoorte soos duikers, steenbokkies, klipspringers en hase, vang en eet.

Soos ook onlangs deur dr. Jaco Pienaar op Ruralvet vermeld is, is hulle gewoonlik “morsige eters” wat ‘n karkas redelik goed verniel in die proses om die vleis met hul groot slagtande van die bene af te kry. Ook hier is gemeld van bobbejane wat lammetjies se melkpense oopskeur en dan die gestolde melk daarin uitvreet.

Ek is in Namibië gebore en het in die Khomas Hoogland bok gery, lank voordat ek vir die eerste keer op ‘n perd se rug geklim het.

Ek onthou verskeie “bobbejaanstories” uit my kinderdae baie goed.

  • Die bokwagter het my vertel dat hy die boklammers bedags op kraal gelos het, juis omdat die bobbejane hul melkpensies oopgeskeur het – hy het beweer dat hulle soms nog geleef het en hy hulle dan moes “verlos” daarna.
  • So het hy my ook vertel dat die bobbejane ‘n gat, of twee gaatjies deur die ooie se spene gebyt het en dan die melk gedrink het. Volgens hom het hulle dan ‘n stokkie in die gaatjies gedruk wat hulle dan elke dag uitgetrek het om weer te kan drink. Ek het dit nooit bevraagteken nie – net geglo, want hy het dit met soveel deernis vertel, dat ek seker is hy dit self ook geglo het!
  • Verder onthou ek ook ‘n storie van ‘n bobbejaan wat as bokwagter opgetree het en op een spesifieke bok se rug gery het veld toe en terug. Soos ek dit het, was dit juis om die ander bobbejane weg te hou… (die storie het later die koerant gehaal, met ‘n foto van die bobbejaan daarby).

Van kindsbeen af glo ek dan dat ‘n bobbejaan ‘n voorliefde vir melk het en indien dit werklik so is, maak hierdie bobbejaan se “vreetgewoonte” vir my baie sin!

Ten spyte van ongelooflike navorsing oor bobbejane, kon ek egter nog nêrens wetenskaplike inligting raakloop om bogenoemde “stories” te bevestig nie.

Hoekom sou hierdie “skaapdief” so selektief vreet?

Hoekom elke dag ‘n nuwe ooi vang?

Volgens Smithers is vangste gewoonlik toevallig, byvoorbeeld as hulle op kleintjies in nesplekke afkom. Om ‘n wilde (en selfs mak) dier te jag, tap baie energie, wat die bobbejaan dalk mag benodig as sy natuurlike vyand, soos ‘n luiperd hom dalk sou voorlê.

Watter tyd van die dag vind vangste plaas? Bobbejane slaap snags op ‘n baie spesifieke slaapplek, wat hulle ook nie verlaat terwyl dit nog donker is nie. Hierdie slaapplekke word ook vir baie lang periodes behou en het dan ‘n kenmerkende mis- en urienreuk. Ook dit bevestig dat hul veiligheid in getalle lê.

Die skoon byt aan die nek, asook die grootte daarvan, vertel my nie te veel van “bobbejaan-spesifieke” gedrag nie – dit sou die voorkeurbytplek wees om die diere te dood deur meeste roofdiere.

Was daar nêrens spore in en om die vangste nie?

Meeste van die ander roofdiere het egter sulke spesifieke vreetpatrone, dat ek net op grond hiervan, “normale predatore” sal uitskakel en daarom saamstem dat ons heelwaarskynlik hier met ‘n bobbejaan te doen het – verder dan met een met ‘n baie spesifieke vreetpatroon en voedselvoorkeur?

Groete.

Geskryf deur dr. Dave Midgley, Veeartskonsultant (dave.midgley@vodamail.co.za)

16 Februarie 2015


Kommentaar

Kommentaar (4) “Bobbejane as predatore

  1. Retha
    Retha

    Ons het dit ook al op ons plaas gehad dat die bobbejane die skape so vang en eet. Selfs honde al dood gemaak ook.

  2. Rudi
    Rudi

    Ek boer op Middelburg Mpumbalanga en het ‘n uiters groot problem met troppe bobbejaane van 200+ wat my mielieland opvreet. Ek het maklik tot 10ha en meer wat hulle in een seisoen opvreet. Is daar dalk ‘n plan wat georganiseerde landbou kan maak om die problem te help bekamp. Ek het hierdie seisoen ook alreeds 5ha sojabone oorgeplant wat hulle in eendag opgevreet het, net toe die sade onkiem het. Ek is nie die eenigste boer wat so erg deurloop nie. Die skade by my alleen is ver oor die R100 000 elke jaar. Ek het boonop ‘n wag wat ek gebruik om hulle te verjaag, maar nogtans kan ek hulle nie keer nie.

    • Jan Bezuidenhout

      Rudi,
      kontak Agri Mpumalanga, vir hulp:
      Tel: 017 819 1295
      Fax: 086 690 0980
      Fax: 017 819 1297
      mp.landbou@mweb.co.za
      Sterkte

  3. Amarcia Marais
    Amarcia Marais

    Dankie vir inligting ,ons vermoed dat bobbejane ons skaap begin vang het. My man is moedeloos, kry die vel wat verskeur is en die bene wat skoon afgevreet is . volgens inligting kan dit dan die boosdoeners wees. het 12 skaap in 14 dae verloor dit is nou nie net n jakkalse nie maar bobbejane ook. sjoe, hoe nou?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X