Chemikalieë

Aasvoëls en vleis

Vraag

Daar word blykbaar redelik wyd aanvaar dat aasvoëls nie aan karkasse sal vreet van diere wat deur weerlig gedood is nie. Aangesien sulke karkasse geen gevaar vir aasvoëls inhou nie en daar dus vir hulle geen evolusionêre voordeel sou wees om dit te vermy nie, is die gedagte vir my vreemd. Ek verneem dus graag wat ‘n aasvoëlkundige se waarnemings in hierdie verband is.

Antwoord

Dis ‘n blote mite dat aasvoëls nie weerligkarkasse sal vreet nie. Ek het self oor baie jare meer as sestig perde en beeste wat weerlig gevalle was,  vir aasvoëls by voerplekke afgelaai en almal is opgevreet.

Die geheim lê egter daarin dat karkasse se velle oopgesny moet word sodat die aasvoëls eerstens kan sien die vleis is beskikbaar en tweedens nie hoef te sukkel om veral beesvel oop te skeur nie. As die dooie diere net in die veld gelaat word, is die aasvoëls uiters skepties daaroor en sal lank sit voor hulle die karkas benut. Wat wel waar is, is dat aasvoëls nie gaar vleis sal vreet nie en as ‘n dier heeltemal verbrand het a.g.v. die weerlig sal hulle dit nie vreet nie.

Ek het my eie aasvoëls aan vars vleis, ryp vleis wat erg geruik het en gaar vleis blootgestel. Vars vleis was altyd dadelik verorber, ryp vleis nie juis met entoesiasme gevreet nie en gaar vleis glad nie gevreet nie. As hulle wel bekke in die gaar vleis ingeslaan het, het hulle met hewige geskud die vleis afgeskud.

Laaste interessante brokkie: my kransaasvoëlmannetjie het op ‘n dag na tien dae sonder kos, twee kg beeslewer in 17 sekondes verorber. Die laaste stukkies het by sy bek uitgehang. Bygesê was hy toe vier jaar oud en die ekwivalent van ‘n sewentienjarige skoolseun en almal weet watter eetlus hulle het!

Geskryf deur : dr. Gerhard Verdoorn, Griffon Poison Information Centre (nesher@tiscali.co.za)

http://www.pmfsa.co.za/home/partners/griffon-poison-information-centre

25 April 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X