Iewers op Landbou.com is ’n berig uit die AMT-konferensie vir die landbou, waar ’n kenner gesê het selfone gaan vorentoe verandering in die wêreld dryf.

Ek wil effe met hom verskil, want dit is vir my soos die hoender/eier-beginsel. Wat was eerste: Jou selfoon, of jou selfoon se nommer?

Sonder ’n nommer bly dié slimfoon dom.

My dogter wou onlangs met Ma gesels op Skype. Ma was op reis, en ons wil darem kyk hoe sy daar uitsien en haar stem hoor. My meisiekind gebruik my iPad, maar eers moet dié se pin-kode ingetik word. Daarna nóg ’n kode vir Apple se Facetime. Toe gaan die wêreld van die tegnologie eers oop. Daarsonder sou ons nie met vroulief kon gesels nie.

Toe wonder ek hoe lyk my dag van (pin-)nommers en kodes (sodat ek die wêreld van die tegnologie kan benut, dit vir my oopmaak, en ek ook my daaglikse brood kan verdien.)

Só lyk dit min of meer: Die wekker op my selfoon lui soggens om 05:00. Ek druk dit af, staan op en werk kombuis se kant toe. Skakel die ketel aan vir ’n koppie boeretroos. Maak die voordeur oop om die koerant op te tel. Die alarm biep-biep vinnig. ’n Kode beheer die alarm. Sou die alarm afgaan, bel die buurtwag en vra of alles in orde is, en dat ek die kode vir “Alles reg” moet verskaf.

Lees die koerant, drink koffie, skeer en stort, trek aan, groet vroulief en vertrek per motor werk toe.

By die werk se parkeerplek kry ek toegang deur die valhek met ’n geprogrammeerde kaartjie. Welkom, Nommer 3559, sê die skermpie by die valhek, en maak oop. As ek by die kantoorgebou instap, kry ek toegang met my instap-kaartjie. En daarna met die kaartjie by die groot, oop kantoor op die agtste verdieping.

Skakel die rekenaar aan, weer met ’n wagwoord. Om op die webwerf te kan werk, moet ek wéér aanmeld met naam en wagwoord. En so ook vir die ander digitale platforms waarop ek daagliks werk.

Gisgteraand het vroulief gevra dat ek ’n paaiement op haar Edgars-rekening moet betaal. Oor  middagete besoek ek die bank se webwerf, en moet wéér my kodes en wagwoorde en wie wat nog, verskaf. Voordat ek die winkel kan betaal.

Só word die lewe deesdae deur nommers en wagwoorde beheer, en jy en jou slimfoon doen mee. Ek moet bieg, sonder die nommer en die slimfoon sou baie dinge moeiliker gewees het, dis gewis!

As ek terugdink, het my nommer-moeilikheid begin by die destydse Weermag se oproepinstruksies: Daardie bruin koevert met die stempel van die SA Weermag op. Hi Boetie, jou magsnommer is nou 68398882. En dis dit. Skaars ’n maand uit matriek uit kry jy die SAW se nutria-uniforms, en word net ‘n nommer, soos jou mede-dienspligtiges.

Daardie nommer! Dit sê jy mos sommer vanself op as iemand jou in die nag skielik wakker maak. Dit het so deel van my geword soos my skewe neus.

Behalwe nommer een in ons huis (Ma) is die ander groot nommer in ’n mens se lewe seker maar jou selfoonnommer. Dis dié nommer wat ek nou seker al langer as 15 jaar oral met my saamdra. Natuurlik in my selfoon, wat deesdae ’n slimfoon is.

Dié twee, die slimfoon, die nommer en ek, ons vorm nou ’n driemanskap – die een kan eintlik nie sonder die ander nie.

NS: Maar dis het einde niet! Ek lees pas dat vinger-tegnologie (jou vinger-afdruk) op rekenaars, slimfone en vir toegang tot geboue, al hoe meer in gebruik is. En, wag, dit gaan gou uit die mode wees, omdat jou oog se uniekheid gebruik gaan word om ook hierdie funksies oor te neem via ’n retina-skandeerder!


Kommentaar

Een kommentaar op “Wat is jou nommer?

  1. Brakanjan
    Brakanjan

    Baie dankie vir die oulike artikel. Nou druk jy op MY nommer! Boeta, moet nou net nie jou sim-kaart se PIN, PUK en PUK2 en al jou rekeninge se PIN kodes vergeet nie. En as jy jou wagwoorde, kodes, nommers vergeet gaan jy getref word (afhangend van die soort stelsel) met ‘n uitdaag vraag (challenger question) of twee. En as jy jou instap-kaartjie of jou bankkaart of jou id met daai 13 syfers verloor, dan verloor jy GROOT. Dit help darem dat ons nommers net uit 10 syfers (nul – nege) bestaan, nie bv 16! nie. 🙂


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.