Liewe Skoonpa,

Pa is daardie Vrydag so vinnig hier weg – ons is onverhoeds betrap: Pa het nooit gekla nie, en as mens vra hoe dit gaan, het Pa die gesprek gewoonlik sommer in ‘n ander rigting gestuur. Oor die groot K.

Nou skryf ek maar, met die gedagte dat Pa dié brief te lese kry. Ds. Botha het by die gedenkdiens gesê Pa is nou by die Regte Adres.

Die diens was besonders. Ametis se saal was gou-gou stampvol en ons moes stoele indra. Dié van die familie wat kón, het dit bygewoon, en al Pa-hulle se vriende van Riviersonderend en omstreke, wat soveel jare sulke goeie vriende en vertrouelinge was, was daar. Almal wat kon, het opgedaag.

Dominee het vertel dat hy en Pa die afgelope jare goeie vriende en gespreksgenote geword het daar in die aftree-oord. ‘n Mens kon duidelik verstaan hoekom: Ds. Botha is ook ‘n plaaskind en die boerdery en die plaaslewe het ook ‘n spesiale plek in sy lewe. Soos vir Pa. Hy het gesê Pa had sagte oë, en dis hoekom mense so graag met Pa bevriend geraak het of sommer net ‘n geselsie aangeknoop het. Ek wonder of hy ook soms na Pa se hande gekyk het: Daardie afgeleefde boerehande wat ‘n leeftyd só hard gewerk het. Wat alles kon heelmaak of herstel.

Ons het mos altyd geskerts oor die baie weduwees wat in die Strand en in die aftree-oord bly! Nouja, van dié deftige dames van Ametis het ook hul laaste eer kom betoon. Dit was lekker om hulle daar te ontvang.

Een van die groot verrassings by die diens was oom Clerq, wat sy 92 jaar ten spyt, in Vereeniging op ‘n bus geklim het nadat hy die nuus gekry het. Hy tot by Lilla in De Rust, doer by Oudtshoorn, gereis. Hulle twee het toe die volgende oggend vroeg deurgery Strand toe. Oom Clerq wou op Langkuil, wat ook sy geboorteplaas is, aandoen. Lilla het vertel dat selfs nie die gesluite hek voor die huis, Pa se Ouboet kon keer nie. Hy het glo so kierts-regop en met Lilla se hulp bo-oor geklim en op die werf rondgestap, en baie herinneringe met haar gedeel. Soos die twee palms wat Pa-hulle as jong kinders voor die opstal geplant het.

Oor die ander familie van Calvinia: Tant Hannie van Calvinia se twee boer-seuns, Boeta en Simey, is Dinsdagoggend vroeg daar weg en het ons by die huis in die Strand gekry. Die familie het voor die diens daar vergader. Dit was lekker om dié twee te sien: Hulle het so lekker breed in die diesel-bakkie gesit toe hulle daar aankom. Tannie Hannie het nie kans gesien vir die rit nie, sy is mos maar in die rolstoel vasgekluister.

Pa weet mos daar is nie ‘n tatoeëer-“parlour” op Calvinia nie, en ek por toe ons ouboet Johann aan om syne vir dié twee boere te wys. Ek hou hulle twee fyn dop daar by die etenstafel, en kon sien dit staan nie een van dié twee goeie manne juis aan nie. Maar toe wys Johann vir hulle die prentjie van die Voortrekkermonument op sy arm, en die manne begin met ander oë kyk. En toe hulle die tatoeëermerk sien van die krygers op Vegkop, kom daar darem sulke effense mooi glimlagte te voorskyn! Die ys is toe gebreek en toe word lekker gesels. Ons is mos familie, tatoeëer-merke of te not.

By die diens het oom Benninghoff ‘n huldeblyk gelewer. Mooi. Hy het gesê as hy en sy kinders Pa nie geken het nie, sou hulle soveel armer gewees het. Hy het sy drie seuns altyd aangemoedig om by Pa en Ma te gaan kuier.

Voor ek vergeet, ná die diens, toe almal tee en verversings geniet, het swaer Dennis, die ewige terggees, met ‘n gemmerkoekie in die hand en ‘n groot glimlag nader gestaan. Ek het geweet hy kom terg my spesiaal oor die “dun P&P-melktert” wat ons eendag vir hom voorgesit het. Dennis is mos lief vir dík melkterte! Ewenwel, ek het maar saamgelag en gesê ek sal tog onthou om die gras onder Pa se wilde moerbeiboom water te gee, daar waar hy (Dennis) die gras platgelê het ná een van die familie se Sondagbraais.

Oom Clerq en Lilla het die aand ná die diens by ons oorgebly, en ons het aan sy lippe gehang oor sy vertellinge van die vroeë jare op Langkuil, en op skool. Toe Oupa Baan vir hom en Oom Basie op Paul Roos gaan inskryf het, was die einste Paul Roos die rektor en koshuisvader. Dit moes hier teen 1939 gewees het. Toe Oupa vra hoeveel sakgeld hy die kinders moes gee vir die kwartaal, was mnr. Roos se antwoord: ‘n Halfkroon. Oom Clerq het heerlik gelag toe hy dié staaltjie vertel. En ons moes somme maak om aan ons kinders te beduie dat dié sakgeldjie, in vandag se geld, net 25c was – vir die hele kwartaal!

Nou ja, die familie gaan aan met hul daaglikse take en werke. Ons sukkel so ‘n bietjie om al die bosse sleutels wat Pa altyd mee so doenig was by die regte slotte te kry. Maar ons vorder!

Pa, Pa is nie meer hier nie, maar Pa sal altyd by ons wees.

Groete,

Jan


Kommentaar

Een kommentaar op “Requiem vir Skoonpa

  1. Elna
    Elna

    Kommentaar. Pragtig!!!! Ons weet oom Bennie is altyd in julle gedagtes. Mag jul troos vind want julle weet waar hy is….


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.