Op ‘n reis van Kaapstad na die Noord-Kaap en die Vrystaat vertel ‘n nuusleser op RSG van die wyd-verspreide onluste deur studente oor standbeelde wat moet vort, soos dié een van Cecil John Rhodes. Oor sy koloniale verlede, of so iets.

Toe besluit ek en my wederhelfte om na die standbeeld van die donkie op Upington en dié een van die koeksister op Orania te gaan kyk, vir ingeval die studente dalk ná #Rhodesmustfall na dié twee standbeelde opruk.

Erge donderweer het ons besoek aan die donkie-standbeeld op Upington in die wiele gery, maar ons het darem in heerlike sonskyn die bekende, of minder bekende, standbeeld van die koeksister op Orania (hieronder), gesien, voordat die studente dit dalk sou teiken.

koekssister-orania-jan-bez

‘n Mens wonder hoe ‘n groot rol die koeksister vroeër jare gespeel het, juis om kinders deur die skool en selfs kollege of universiteit te dra #Prysdiekoeksister.

Talle Ma’s en Pa’s het saans tot middernag toe, en selfs tot in die vroeë oggendure, geswoeg om dié heerlike soetgebak voor te berei. Om hul kinders ‘n geleerdheid te kon bied. Hoeveel kerkbasaars en hoeveel koekverkopings is om koeksisters gebou? Hoeveel kerke op die platteland én in die stad se fondasies is met koeksister-geld gebou? Jy kan jou kwalik ‘n kerkbasaar sonder koeksisters verbeel.

Wat is lekkerder as ‘n nagtelike besoek aan die yskas in jou of jou Ma se kombuis – om ‘n yskoue koeksister uit die Tupper-bakkie te lig, of dalk net die een beentjie af te trek en te verorber, so in die donkerte van die kombuis, met net die yskasliggie wat jou soettand verklap! Verruklik!

Dus hoop ‘n mens maar die studente hou by Orania verby!

En die donkie? As jong kind het ons heelwat donkie gery, en net so baie keer grond gekoop. Dit was groot pret. My Ma en haar susters en broers het elke dag op donkies skool toe gery, doer by Clanville, naby Dordrecht in die Oos-Kaap. Dit was nogal lank gelede, maar ons kyk nog graag na die kiekies daarvan. Sy sê dit was soggens ‘n storie om die donkies te mobiliseer vir die tog skool toe. Dieselfde smiddae. Oupa Nols Greyling het later ‘n donkiekarretjie vir die skoliere aangeskaf. Dit was darem ‘n verbetering, vertel Ma!

Op jou reise deur die Noord-Kaap sou jy ook die karretjiemense raakgeloop het. Hulle, die reisigers van die grootpad, elke gesin met donkiekar, kinders, honde en wat nie nog nie. Hulle alles op en onder en langs die donkiekarretjie.

#Prysdiedonkie, en #Prysdiekoeksister: Die twee is darem (nog) volksbesit en word deur mense gebruik in ‘n strewe na ‘n beter lewe, of iewers heen. Iets wat studente ook maar sal moet doen as sodra al die standbeeld plat lê.


Kommentaar

Kommentaar (2) “#Prysdiekoeksister en #Rhodesmustfall

  1. Sakkie Larney
    Sakkie Larney

    So met die vinnig loer amper deurmekaargeraak en gewonder wat soek die koeksister langs die donkiestandbeeld!

    • Jan Bezuidenhout

      Ek is bly jy het dit so gesien!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.