Die heengaan van Namakwa Dreyer, seker een van die bekendste persoonlikhede in die skaap- en wolbedryf, is hartseer nuus vir die landbou.

Namakwa was een van daardie mense wat jy nie sal vergeet nie, en wat die veebedryf veel armer laat. Dis mos asof die ware karakters, soos Namakwa, ál hoe minder raak?

As joernalis was dit op jou paadjie om Namakwa gereeld raak te loop – veral op veilings. Jy woon die veiling by, sit en geniet saam met die kopers sy kwinkslae om ʹn veiling aan die gang te kry. Namakwa het veral skaapboere goed geken en hy had die vermoë om iemand van die podium af aan te por om bietjie hoër te bie.

Hy het sy mensekennis gebruik om ʹn koper wat nie wil verder bie nie, te karnuffel as hy begin vertel oor hoe dié boer se boerdery kwansuis vérder agteruit sou gaan as hy nie die ram in die ring sou koop nie. Dan bie ‘n man maar fluks verder, so tussen die goedige gelag van die ander kopers deur. Net sodat Namakwa nie meer oor jou boerdery of familie uitlap nie! Hy sou niemand spaar nie, maar dit was altyd met ‘n glimlag en goed bedoel!

Ná die veilings sou ons joernaliste hom omsingel om te help om die ram, koper én verkoper nader te trek vir ʹn fotosessie vir jou koerant of tydskrif. Op ʹn dag vra ons hom wat doen hy as ʹn veiling sukkel om aan die gang te kom? “Ja”, lag hy, “ek vat sommer die eerste bod hier van ‘n paal af totdat die manne begin lewe kry!” Dít was Namakwa.

Nadat dié Namakwalander die beproefde skaap-en-wolkursus op Grootfontein gedoen het, het dié klong, soos baie ander boereseuns, op ‘n skaapplaas in Australië gaan werk. Dié jong manne moes hard werk en ná ʹn jaar Doer Onder het hulle by die huis kom inval of ʹn werk in die wolbedryf beoefen.

Saam met Namakwa op die skip terug uit Australië (die tyd vóór vliegtuie) was ʹn ander rakker van ‘n boerklong, Klein Koos Pansegrouw van Rouxville se wêreld. En ja, Klein Koos vertel dat hy op dié lang skeepsvaart begin wonder het hoe lank ʹn passierskip sou neem om om te draai. Soos wanneer iemand oorboord sou val. Om ʹn lang storie kort te maak: Een van dié twee terugkerendes gooi toe ‘n breërandhoed oorboord, dat dit daar in die water dryf. En maak toe alarm: “Man oorboord!”

Chaos het glo op die skip uitgebreek en ál die passasiers moes dadelik na hul kajuite toe vir “roll call”, terwyl die skip begin briek en omdraai. Ná vele “roll calls” word niemand vermis nie, en toe beland dié twee in die kaptein se kajuit. “Nee,” vertel Koos die kaptein, “ons het net iemand se hoed in die water gesien en alarm gemaak.”

Die skip moes glo omdraai, maar die hoed kon nie opgespoor word nie. En ja, dit het glo byna ʹn dag lank geduur, dié omdraaiery. Maar die twee het glo dié aand saam met die kaptein aandete geët, of so-iets!

Die volgende staaltjie oor Namakwa vertel ʹn mens met ʹn vonkel in die oog, want sy medepligtige in dié gebeure was óók ʹn legende in die wolbedryf: Jimmy Maritz, of sommer “Sir James” soos ons hom graag genoem het. Sir James is ook nie meer met ons nie.

Ewenwel, ná ʹn goeie ramveiling by die destydse Goodwoodse Skouterrein, oornag dié twee in ‘n Holiday Inn in die Kaap. Dis naby die ou Distrik Ses. In daardie dae is nog lekker gekuier ná ʹn goeie veiling, maar douvoordag die volgende oggend word dié twee gewek deur die geroep van die imam van die nabygeleë moskee. Dit was natuurlik vir dié twee Vrystaters heeltemal vreemd. Hulle staan toe maar op en begroet die imaan luidkuils van die balkon van hul kamer af. En gesels saam!

Dié vroegoggendse herrie het die hotelbestuurder genoop om die Vrystaters op te spoor en vir koffie na sy eie sitkamer saam te sleep. Kan jy jou indink!

As ek aan Namakwa dink, sien ek dié skraal man, trots, altyd netjies aangetrek, hemp en das. Hy had altoos tyd gehad om gou ʹn geselsie met jou aan te knoop. En te lag. En dit is soos baie, baie mense hom sal onthou – met ʹn glimlag.

Foto-byskrif: Hier is Namakwa (links) en dr. Tino Herselman, direkteur van die Grootfontein LOI toe die Oudstudentebond se eretoekenning in 2006 aan Dreyer oorhandig is. Foto Grootfintein LOI

namakwa-dreyer


Kommentaar

Kommentaar (4) “Namakwa Dreyer, groot gees †

  1. Elardus Engelbrecht
    Elardus Engelbrecht

    Aan Jan, mag ek asb vra of u so gaaf sal wees om fotos van hierdie besondere persoon iewers plaas? Of anders, plaas verwysings na vorige fotos? Dankie baie by voorbaat!

  2. Jan Bezuidenhout

    Elardus, Ek het sy foto gaan byvoeg.
    Groete

  3. Elardus Engelbrecht
    Elardus Engelbrecht

    Aan Jan. Hiermee my dankie aan u dat u so vinnig op my beskeie vraag ge-antwoord het. Baie dankie. Ek kan aan die mooi foto sien dat u artikel waardigheid aan die man verleen. Ek wens ek kom hom ontmoet, al is dit net om hallo te sê. Ek waardeer u moeite opreg. Dankie weereens.

  4. Ilse Dreyer Fick
    Ilse Dreyer Fick

    Dankie vir die mooi artikel oor my pa Namakwa Dreyer. Hy was voorwaar n groot gees. Ons dink en praat Elke dag oor hom en se ‘Wat sou Pappa nou gese het’….hy het ons met soveel kosbare herinneringe gelaat en daarvoor is ons dankbaar. Ons mis hom verskriklik maar ek dink nie iemand kan hom ooit vergeet nie….hy het veels te diep spore in Almal se Harte en lewens getrap!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.